LINDLEY SE SENDINGPOS, INANDA

Goed 27 km reg noord van Durban op die ou binnelandse pad is die dorpie Verulam geleë en ietwat suidwes daarvan die Bantoereservaat lnanda. Dit was hier waar die bekende Daniel Lindley in 1847 sy sendingpos gestig het.

In 1835 het die American Board of Commissioners for Foreign Missions ses sendelinge na Suid-Afrika gestuur. Drie van hulle, onder wie Daniel Lindley, het met sendingwerk onder die Matebele in Wes-Transvaal begin. Aan die begin van 1837 het die Voortrekkers die Matebele hier aangeval en verslaan. Daniel Lindley en sy twee medesendelinge het saam met die Voortrekkerkommando teruggetrek en met sendingwerk in Natal begin. In 1840 word hy tot leraar van die Voortrekkers benoem en vestig hom in Pietermaritzburg. Aan die einde van 1846 lê hy sy bediening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk neer en stig die volgende jaar die Inanda-sendingpos alhier.

Lindley het eers sy sendingpos by Umzinyati in die hart van hierdie reservaat aangelê. Hier het hy sy dienste aanvanklik onder ’n groot boom, wat vandag nog staan, gehou. Hier is ook die graf van sy medewerker, James Bryant, wat hier in 1850 oorlede is.

In 1858 het hy sy sendingpos van Umzinyati na die huidige terrein verskuif en hier het hy bly woon totdat hy op 16 April 1873 afgetree en na die Verenigde State teruggekeer het.

(Bronsplaat 1942)

Foto: Lindley se sendingpos • J.W. Matthews: Incwadi Yami

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 237-238.