LOUIS VAN ASSENBURGH – GOEWERNEUR VAN 1708-1711
Louis van Assenburgh (ook Assenborch of Assenburg) was vanaf 1 Februarie 1708 tot 27 Desember 1711 goewerneur in die Kaap.
Hy is in Amsterdam gebore. Sy geboortedatum is nie bekend nie, wel dat hy op 23 Desember 1657 in die Westerkerk in Amsterdam gedoop is. Hy was ongetroud en daarom tree sy sekundes, Johan d’Ableing, se vrou Adriana op as eerste dame by amptelike geleenthede.
Sy termyn begin met die groot taak om ontstoke en ontevrede burgers te kalmeer en hul vertroue in die administrasie, asook wet en orde, te herstel na die onstuimige termyn van Willem Adriaan van der Stel. Daar was dispute tussen burgers en VOC-amptenare wat hanteer moes word.
Verder het hy smokkelary gestop, nuwe lisensievoorwaardes vir veilings geïmplementeer en siekesorg verbeter. Hy moes ook uitvoering gee aan die VOC-direkteure se opdrag om WA van der Stel se plaas Vergelegen op te deel en te verkoop. Die burgers was oor die algemeen tevrede met Assenburgh.
Louis van Assenburgh het ook ’n ander kant gehad. Hy het vermaak geniet en dit aktief in die Kaap aangemoedig. Daar is al na hom verwys as die Kaap se eerste sakeman in die vermaaklikheidsbedryf. Hy reël vuurwerke en reël bulgevegte, hondegevegte en poppespelvertonings by die kasteel. Nie almal was geneë hiermee nie. ’n Voormalige goewerneur-generaal van die VOC, Joan Hoorn, het die Kaap in 1710 besoek en hierna as ligsinnige vermaak verwys en Van Assenburgh daarvan beskuldig dat die administrasie verwaarloos word.
Desnieteenstaande kritiek teen hom, was dit danksy Louis van Assenburgh dat die burgers van die Kaap en die VOC weer op goeie voet met mekaar gekom het en respek vir VOC-gesag herstel is. Van Assenburgh is na ’n 8-maande lange siekbed in die Kaap oorlede op 27 Desember 1711. In 1712 word hy die eerste Kaapse goewerneur wat in die eerste kerk op die Groote Kerk-terrein, begrawe is.
Elizma Smith
