LOUW GELDENHUYS (1864-1929)
Louw Geldenhuys was ’n baanbreker van die Witwatersrand en ’n politikus van die Suid-Afrikaanse Party en sy voorgangers.
Lourens Geldenhuys is op 6 Desember 1864 op die plaas Kliprivier naby Heidelberg in die hedendaagse Gauteng gebore en toe hy 14 jaar oud was, het sy pa na die plaas Wilgespruit verhuis. Hier het sy pa ontdek dat die hoofgoudrif deur die plaas geloop het. Nadat sy pa die plaas aan Frederick Struben verkoop het, het Struben en sy drie seuns die mineraleregte van Elandsfontein gehuur en ’n nuwe soektog na goud begin. Hulle het dit later ontdek op wat bekendgestaan het as Geldenhuys Estate Elandsfontein Nr. 1. Louw en een van sy broers het toe die plaas Braamfontein, waar hulle gehoop het om die Clinton Reef te ontdek, gekoop. Toe dit nie gebeur het nie, het hulle die plaas verdeel en Louw het sy gedeelte Emmarentia na sy vrou vernoem.
Sy politieke loopbaan het in 1895 begin toe hy lid van die Tweede Volksraad geword het en gedien het op die kommissie wat die goudwette moes konsolideer. In dieselfde jaar verslaan Ben Viljoen hom oor die vraagstuk van die verskaffing van drank aan swart mense. Geldenhuys het dit sterk teengestaan. Toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, het hy as lid van die Krugersdorpse Kommando na Natal vertrek maar nadat Pretoria geannekseer is, het hy hom oorgegee.
Hy het die kiesafdeling Vrededorp in die eerste Unie-volksraad verteenwoordig nadat hy met ’n meerderheid van 458 stemme teen NC Herschensohn van die Unionisteparty gewen het. Tydens die algemene verkiesing van 1915 het hy sy setel behou, maar net 60 stemme meer as TC Visser van die Nasionale Party gekry.
In 1920 het hy as kandidaat van die Suid-Afrikaanse Party die setel in Johannesburg-Noord verower, maar net 124 stemme meer as CJ McCann van die Arbeidersparty en 133 stemme meer as HA Butler van die Nasionale Party gekry. In 1921 het hy die Johannesburg-Noord-kiesafdeling met 59,9% teen IM Rautenbach van die Nasionale Party gewen en in 1924 het hy met ’n meerderheid van 124 stemme teen J Duthie van die Arbeidersparty gewen.
In die 1929-verkiesing het hy dieselfde setel vir die Suid-Afrikaanse Party teen dieselfde kandidaat van die Arbeidersparty gewen; die uitslag was 1220 stemme teenoor 1219.
Geldenhuys het feitlik die Langlaagte-kinderhuis van die NG-Kerk aangeneem en was bekend om sy vrygewigheid en integriteit. Hy het die Emmarentiadam en die grond aan die westekant daarvan aan die stadsraad geskenk om vir ontspanningsdoeleindes aangewend te word. Die politieke stryd van die 1920’s aan die Witwatersrand het rondom hom gewentel met die Nasionale Party wat al te gretig was om die ou bondgenoot van genls. Botha en Smuts te verslaan. Hulle kon dit egter nie regkry nie.
Hy is op 31 Augustus 1929 oorlede. Die voorstad Emmarentia is na sy vrou vernoem en die Laerskool Louw Geldenhuys, wat in 1936 in Linden gestig is, dra sy naam.
Daantjie Badenhorst