MANIE BREDELL (1865-1953)

Manie Bredell was president Paul Kruger se lyfwag en privaat sekretaris, en later polisiehoof van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en Transvaal.

Hermanus Christiaan Bredell is op 12 Oktober 1865 op die plaas Onder-Rustenburg in die distrik van Somerset-Wes gebore. Hy het eers onderrig by ’n meester Scholtz by ’n plaasskool ontvang waarna hy sy skoolopleiding op Eersterivier en Stellenbosch voortgesit het. Daarna het hy aanvanklik teruggekeer na sy pa se plaas, maar die huis verlaat nadat sy ma in 1887 oorlede is, toe hy 21 jaar oud was.

Van 1887 tot 1891 het hy op verskillende maniere geld probeer verdien, eers as transportryer vir Alexander Gibson van Kimberley en George Heys van Pretoria. Hy het daarna as padmaker gewerk voordat hy hom by die firma J.G. Quin in Johannesburg laat inskryf het om hom as prokureur te bekwaam. Hy het drie jaar later gekwalifiseer, waarna hy ’n betrekking as beëdigde vertaler in die hooggeregshof van die ZAR aanvaar het.

Net voordat die Jameson-inval in 1895/6 plaasgevind het, het hy op aandrang van die staatsprokureur Ewald Esselen in diens van die ZARP (die Zuid-Afrikaansche Republiek se polisie) getree. In die kantoor van die kommissaris van polisie het hy spoedig van tweede klerk in 1865 tot verantwoordelike klerk in 1897/8 gevorder. Dit het hom tweede in bevel na kommissaris D.E. Schutte gemaak. Tydens die Jameson-inval was Bredell ’n spioen vir die ZAR se speurdiens. Hy het ook later baie werk oorgeneem by Frikkie Eloff, met wie se niggie hy later getroud was. Eloff was destyds president Kruger se privaat sekretaris. Van 10 September 1900 tot Kruger se dood in Julie 1904 was Bredell sy lyfwag.

Toe die Anglo-Boereoorlog (ABO) in 1899 uitgebreek het, het Schutte vertrek om die bevel in Johannesburg oor te neem, waarna Bredell waargeneem het as kommissaris van polisie in Pretoria. Uit die aard van sy amp was Bredell lid van verskeie liggame, waaronder die kommissie vir die bewaring van vrede en orde in Pretoria en die kommissie insake krygsgevangenes op Waterval (Pretoria), Nooitgedacht en Lydenburg.

Sy persoonlike verbintenis met president Kruger het gedateer uit die tydperk net voordat die ABO uitgebreek het. Hy is destyds na die presidentswoning in Pretoria ontbied en het opdrag ontvang om saans met sekretariële werk behulpsaam te wees. Dit het gemaak dat hy gewoonlik op ’n rusbank in die presidentswoning geslaap het. Bedags moes hy sy belangrike pligte in die polisiehoofkwartier nakom en snags moes hy in die president se huis slaap. Met die uitbreek van die oorlog het sy pligte ingrypend toegeneem. In sy dagboek het hy ’n lang lys van sy pligte aangeteken en geen geheim gemaak van wat hy van mense wat lyf weggesteek het, gedink het nie. Hy het vertel dat hy agt maande lank op ’n rusbank in die president se huis moes slaap. Hy moes die krygsgevangenes by die polisiekantoor ontvang en hulle by hul onderskeie kampe besorg. Hy het soms drie perde hiervoor tot sy beskikking gehad omdat een perd nie voldoende was nie. Hy het ook geskryf dat Frikkie Eloff, president Kruger se kleinseun, hom uit die voete gemaak het terwyl hy werk gehad het om te doen. Bredell het sy werk uit belangstelling gedoen en omdat die saak vir hom belangrik was. Eloff het nooit snags gewerk nie. Bredell het vertel dat hy daarmee voortgegaan het al het hy moeg geword en hy het al sy kragte ingespan om die werk na die beste van sy vermoë te verrig. Hy het gemeen dat hy dit goed reggekry het.

In Mei 1900 het Bredell Kruger eers vergesel na Machadodorp, wat destyds as regeringsetel gedien het nadat die regering genoodsaak is om Pretoria te ontruim, en later na Waterval-Onder, waarheen die president ter wille van sy gesondheid gegaan het as gevolg van die meer geskikte klimaat. Bredell het in sy dagboek geskryf dat hy, Kruger, L. Jacobsz (assistent-staatsprokureur), dr. Heymans en Frikkie Eloff op 28 Mei 1900 met begeleiding van berede polisie uit Pretoria vertrek het en die volgende dag op Machadodorp aangekom het. Sy werksaamhede het opnuut begin en hy moes die waens met goud en geld bewaak. Daarna het hulle na Waterval-Onder vertrek. Bredell het op 27 Augustus 1900 saam met sy broer Pieter aan die Slag van Dalmanutha deelgeneem en saam met Kruger na Nelspruit geretireer weens die blykbaar onstuitbare opmars van die Britse magte.

Op 10 September 1900 het die uitvoerende raad aan Kruger verlof toegestaan om ses maande lank na Europa te gaan. Dit sou hom beveilig en hy sou die saak van die Boererepublieke in Europa kon gaan bepleit. Bredell het die president as lyfwag vergesel om van tyd tot tyd veiligheidsmaatreëls te tref. Die geselskap het oor Komatipoort na Lourenço Marques gereis. Die ZAR se konsul-generaal, Gerhard Pott, het hulle daar ontmoet en hulle het by hom oornag.

Die Britse konsul-generaal, Crowe, het druk op die Portugese goewerneur, Antonio José de Souza Machado, uitgeoefen om die aankoms van die Kruger-geselskap na Crowe se goeddunke te bestuur. Portugal het swaar op Brittanje staatgemaak vir finansiële steun en sedert die uitbreek van die oorlog ’n jaar tevore was Lourenço Marques ’n broeiplek van intrige en spioenasie. Die presidensie was net van voorneme om in Mosambiek te bly totdat hulle die eerste stoomskip, die Herzog van die Duits-Oos-Afrika-Linie, kon haal. Die volgende oggend het die goewerneur laat weet dat Kruger ’n gas van die Portugese owerheid sou wees en dat hy onverwyld in sy ampswoning moes tuisgaan. Hierdie inwoning, waartydens Kruger feitlik in huisarres was, het van 12 September tot 19 Oktober geduur. Kruger het besef dat die eintlike goewerneur van Delagoabaai eintlik die Britse konsul-generaal was en hy het sy opdrag gehoorsaam. Vir Machado was dit ’n verleentheid om so ’n Britse opdrag uit te voer, maar hy het geen ander keuse gehad nie. Dit het beteken dat Kruger sy 75ste verjaardag so te sê as krygsgevangene in die vreemde deurgebring het.

Die wêreld het van die gebeure kennis geneem en veral vir die jong koningin Wilhelmina van Nederland was die gedagte ondraaglik. Sy het begin met diplomatieke stappe om die president te probeer red. Die Nederlandse kruiser, die Gelderland, was toevallig in daardie tyd in die Indiese Oseaan en Brittanje was nie daarteen gekant dat hy Kruger aan boord neem nie. Met die toestemming van koningin Victoria het koningin Wilhelmina gereël dat die pantser-dekskip (volgens Bredell se dagboek) steenkool sou inneem by Delagoabaai en Kruger en sy geselskap oplaai om hom na enige hawe te vervoer. Koningin Wilhelmina was erg ontsteld oor die uitgerekte oorlog omdat baie van haar landgenote daarby betrokke was en omdat sy en die Boere boonop van dieselfde herkoms was. Nogtans wou sy streng neutraal wees in ’n Europa wat destyds hoofsaaklik anti-Brits was en haar goeie betrekkinge met Engeland handhaaf. Daarom is Kruger nie deur Britse waters geneem nie en het hy eerder in Frankryk aan wal gegaan.

Gedurende die volgende byna vier jaar wat gevolg het nadat die geselskap op 22 November 1900 by Marseille aan wal gestap het, en ’n skare van omtrent 60 000 mense die geselskap verwelkom het, het Bredell feitlik die heeltyd die president se regterhand gebly en hom op verskillende reise vergesel, eers as lyfwag en later ook as privaat sekretaris in die plek van Frikkie Eloff, wat na Suid-Afrika teruggekeer het. Aangesien Bredell sy verblyf in Europa as onbevredigend beskou het, het hy dit oorweeg om na die kommando’s terug te keer maar dr. W.J. Leyds en die Boeredeputasie het hom telkens oorreed om te bly.

Bredell moes sy begeerte om na Suid-Afrika terug te keer nadat die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 gesluit is, onderdruk en hom kontraktueel daartoe verbind om Kruger by te staan. Hy het dit gedoen totdat Kruger op 14 Julie 1904 oorlede is en na Suid-Afrika teruggekeer om sy begrafnis op 16 Desember 1904 by te woon.

Terug in Suid-Afrika het Bredell hom besig gehou met ’n agentskapskantoor wat hy in Pretoria geopen het. Van April 1908 af het hy hom op versoek van generaal Jan Smuts, destyds die koloniale sekretaris van Transvaal, beskikbaar gestel as organiseerder van blanke arbeid op die spoorweë van Transvaal en die Oranjerivierkolonie. Op 1 Julie 1908 het hy hom aangesluit by die Transvaalse Polisie as waarnemende inspekteur; ’n pos wat hy behou het tot na die herorganisasie van die polisiediens in Transvaal. Op 31 Desember 1926 het hy met die rang van luitenant-kolonel die tuig neergelê.

Hy is op sy veertigste verjaardag op 12 Oktober 1905 met Stephanetta Johanna Paulina Eloff getroud. Twee kinders is uit die huwelik gebore en sy is op 3 Mei 1920 oorlede. Daarna was hy met Hilda Henriëtta Oelrich getroud. Hy is op 19 Maart 1953 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst