MAURITS PASQUES DE CHAVONNES – GOEWERNEUR VAN 1714-1724

Hy was van 1714 tot 1724 goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop.

Maurits Pasques de Chavonnes is in 1654 in Den Haag gebore. Hy was die kleinseun van ’n Fransman wat uit Frankryk gevlug het na die Bartholomeusnag-slagting in 1572. Hy was getroud met Bathazarina Kien. Hulle het ’n seun en ’n dogter gehad.

Ná skool het De Chavonnes opleiding as soldaat ontvang en gevorder tot luitenant-kolonel in die infanterie van die State-Generaal. Hy was in bevel van ’n infanterieregiment in die leër van die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande tydens die Spaanse Opvolgingsoorlog (1701-1713). Met die beëindiging van hierdie oorlog het De Chavonnes by die VOC aangesluit en die volgende jaar, 1714, ’n aanstelling as Kaapse goewerneur gekry. Hy het op 24 Maart in die Kaap aangekom.

Met sy militêre agtergrond maak dit heeltemal sin dat een van die eerste goed wat hy na sy aankoms hier gedoen het, was om die pligte van die garnisoen te reguleer. Dit was ook die eerste keer in die Kaapse geskiedenis dat soldate uniforms begin dra het. Verder het hy ’n stel instruksies uitgevaardig vir onderhoud van gewere en ammunisie. Hy het in 1722 ’n burgermag, Companie Vryswarten, georganiseer wat saam met ander burgermagte beurte gemaak het om snags die barakke te bewaak. Tussen 1714 en 1725 is ’n fortifikasie op Kaapstad se kuslyn gebou wat later na Maurits Pasques de Chavonnes vernoem is.

Een van sy ander doelwitte was om die inkomste van die kolonie nader te bring aan die uitgawes. Tydens sy termyn het die Politieke Raad in Julie 1714 besluit dat veeboere vir die eerste keer vir weilisensies sal betaal. Verder moes boere tiendes betaal vir alles wat hulle op plase geoes het.

Maurits Pasques de Chavonnes is op 8 September 1724 na een dag se siekte in die Kaap oorlede. Hy is op 14 September met militêre eerbewyse begrawe. Die Chavonnes Battery, waarvan oorblyfsels vandag in die Victoria & Alfred Waterfront sigbaar is, is na hom vernoem.

Elizma Smith