ML DE VILLIERS (1885-1977)

ML de Villiers was ’n predikant in die Nederduits-Gereformeerde (NG) Kerk en komponis wat bekendheid verwerf het vir die toonsetting van Suid-Afrika se voormalige nasionale lied, “Die Stem van Suid-Afrika”.

Marthinus Lourens de Villiers is op 31 Julie 1885 in Paarl gebore. Hy was die seun van Dirk de Villiers en Tina Smith wat, drie jaar na sy geboorte ’n musiekinstituut op Wellington geopen het. Hier het sy ma hom geleer om klavier te speel terwyl sy pa hom geleer het om orrel en viool te speel en om te harmonieer. Later het hy ook die klarinet bemeester en in sy pa se Wellington Brass Band gespeel. Sy pa was 45 jaar lank die orrelis van die NG Moedergemeente Wellington waar hy saam met predikante soos ds. Andrew Murray en ds. JR Albertyn gewerk het.

Na matriek het ML drie jaar lank aan die Hugenote-kollege op Wellington gestudeer, ondanks die buitengewone musikaliteit wat sedert 1899 in ’n drang tot komposisie gekom het. In 1904, ’n jaar nadat sy eerste komposisie, “’n Mars vir klavier”, die lig gesien het, het hy sy BA-graad behaal.

Van 1905 tot 1907 was hy ’n onderwyser op Wepener in die Vrystaat en hy was die spil waarom die dorp se musieklewe gedraai het. Hy het ’n blaasorkes gestig, hy was die orrelis van die plaaslike NG gemeente en hy het klasgegee in instrumente soos klavier, klarinet, orrel en viool. Die besoek aan die destyds beroemde Bosman di Ravelli aan Wepener het ’n blywende indruk op hom gemaak. Die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog en die moedige pogings tot heropbou het ’n diepe indruk op dié half-Engelsgesinde Bolander gemaak. Dit is verder gesteun deur sy Boeremeisie, Mimie du Plessis, wat later sy vrou geword het, asook sy kennismaking met pres. MT Steyn. Só het sy volksgevoel ’n metamorfose ondergaan en vir die res van sy lewe het hy ’n pro-Afrikaner-volksman gebly.

Sy nuutgebore aangetrokkenheid tot sy moedertaal het van 1908 tot 1911 aan die Kweekskool op Stellenbosch beslag gekry toe hy sy eerste toonsettings van Afrikaanse gedigte geskep het, waaronder “Oproep tot stryd vir die Moedertaal”, geskryf deur NJ Brümmer. Nadat hy in 1912 as hulppredikant in die NG gemeente Beaufort-Wes gewerk het, het hy in dieselfde jaar ’n beroep na die geskiedkundige NG gemeente Glen Lyden ontvang. Dit is die sesde oudste gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland en die negentiende oudste gemeente in Suid-Afrika.

Hy het die beroep na Glen Lyden aanvaar nadat die pos by die gemeente nie lank vakant was nie. Vandat die vakature in Junie 1912 ontstaan het, het die kerkraad ook vir ds. (later prof.) George Murray Pellissier van die NG gemeente Pietermaritzburg beroep. Hy het die Woord in hierdie gemeente en op Bedford verkondig. In sy tyd op Bedford het hy twee beroepe ontvang wat hy bedank het. Dit was ook die tyd van die Eerste Wêreldoorlog en die Spaanse griep wat aan die einde van 1918 uitgebreek het. Die Helpmekaar-beweging het met hierdie twee gebeurtenisse saamgeval. Die dienende en voormalige kerkraadslede het in Oktober 1917 £ 100 tot die Helpmekaar-studiefonds bygedra. Die NG gemeente Grahamstad, wat eers in 1916 van die Albanie-gemeente afgestig het, het aanhoudend ondersteuning van die hulppredikant daar gekry, want daar was skaars ’n honderd NG lidmate in dié oorwegend Engelse stad.

Ds. De Villiers het met buitengewone moeite die arbeid onder die jongmense bevorder. Die oprigting van ’n debatsvereniging een keer per maand en ’n klein Sondagskool-leeskamer was ’n bewys daarvan. Daar is ook ’n eenmalige ring-Sondagskoolkonferensie gehou en een jaar met Kersfees is daar ’n Kersboom vir die kinders. In hierdie tyd is Dingaansfees (vandag Geloftefees) op Vleiplaas gevier, maar weens die griep-epidemie kon die beplande fees saam met die NG-gemeente Somerset-Oos nie plaasvind nie.

Op Bedford was ds. De Villiers se pastorie die middelpunt van ’n ongekende musieklewe. Hy het dankofferkonserte gereël, kamermusiekaande in die pastorie gehou, orreluitvoerings in die kerk gehou en ’n salonorkes met vyf viole, ’n klarinet, ’n tjello en ’n klavier op die been gebring. Hier het hy hom, soos wat hy later in Simonstad sou doen, musikaal skeppend besig gehou. Op Bedford het hy baie liedere met ’n patriotiese inslag geskryf, onder meer “Ik ken een liefste volksman”, “Helpmekaarslied” en “Slagtersnek”, oor die Slagtersnek-rebellie wat in die Oos-Kaap plaasgevind het en in ’n groot mate aanleiding tot die Groot Trek gegee het. In hierdie tyd het hy groot volksgeeste soos genl. JBM Hertzog, CJ Langenhoven en dr. DF Malan ontmoet.

In 1919 het ds. De Villiers ’n beroep na die NG gemeente Simonstad (vandag die NG gemeente Vishoek) aanvaar. Hy het in daardie tyd buitemuurs aan die Universiteit van Kaapstad se SA Musiekkollege gestudeer. In 1921 het hy “Die stem van Suid-Afrika”, waarvoor CJ Langenhoven die woorde geskryf het, getoonset. Dit het later Suid-Afrika se nasionale lied geword.

Baie van sy ander komposisies is in die 1920’s gepubliseer. Op Bedford het hy sy eie woorde getoonset, maar op aandrang van die digter HA Fagan het hy al hoe meer van die gedigte van bekende digters soos AD Keet en Jan FE Celliers gebruik gemaak. Daarby het hy ses Afrikaanse kunsliedere gekomponeer, naamlik “Komaan”, “Terugblik”, “’n Doringkroon”, “Die branders” en “Lig en donker”; almal met woorde deur Jan FE Celliers, asook ID du Plessis se gedig “Rus in stilte”. Saam met sy neef, PK de Villiers het hy verskeie liedere vir die Halleluja-sangbundel gekomponeer en ook twee skoolliedere geskryf. Hy het in 1930 uit die bediening getree en hom daarna voltyds op musiek toegespits.

Hy het hom op Wellington gaan vestig; van daar het hy in sy eerste veertien jaar as vrye musikus sewentien reise deur Suid-Afrika onderneem . Hy het orreluitvoerings en konserte aangebied en praatjies by skole gelewer. Hy het omtrent 250 skoolliedere, sommige daarvan met sy eie woorde op bestelling gekomponeer en sy eie werke by skole bekendgestel. Hierdie leefwyse het met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 afgeneem en in 1945 ten einde geloop.

In 1940 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n erepenning in Kaapstad aan hom oorhandig en nadat sy melodie van “Die Stem van Suid-Afrika” as nasionale lied aanvaar is, is ’n lewenslange staatspensioen aan hom bewillig. In 1957 is hy tydens die FAK se Volksmusiekkongres op Stellenbosch gehuldig en in 1961 is ’n ML de Villiers-aand gehou op Simonstad, waar hy twaalf jaar lank predikant was en waar die melodie van “Die Stem van Suid-Afrika” ontstaan het.

Hy is in 1911 met Jemima Susanna (Mimie) du Plessis getroud; twee seuns en twee dogters is uit die huwelik gebore. Hy is op 17 Mei 1977 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst