MOROKA SE GRAF, THABA NCHU

Die Barolong-begraafplaas van Thaba Nchu lê teen ’n heuwel suidwes van die dorp, langs die ou pad na Bloemfontein. In die middel van die begraafplaas staan prominent die groot grafsteen van die merkwaardige Barolonghoof, Moroka.

Moroka is omstreeks die jaar 1795 gebore en het in 1830 hoof geword van die Seleka-Barolong-stam by Platberg wat langs die Vaalrivier teenoor die huidige Makwassie lê. Toe hulle deur ander Bantoe-stamme bedreig word, het die sendelinge, eerw. James Archbell en eerw. John Edwards, Moroka oorreed om in 1833 met sy stam na Thaba Nchu te verhuis. Met die koms van die Voortrekkers was hy dus reeds behoorlik gevestig en teenoor hulle het hy hom ’n ware Christen-vriend betoon. Na die slag van Vegkop het hy osse gestuur om die trek van H. Potgieter, wat in hierdie slag van al sy vee beroof is, na Thaba Nchu te bring; en soos een trekgeselskap na die ander uit die suide aangekom het, het hy hulle hartlik ontvang en van staanplek en weiveld vir ’n onbepaalde tyd voorsien.

Met die totstandkoming van die Republiek van die Oranje-Vrystaat word hy ’n vriend van die Republikeinse regering en bly dit tot die einde van sy lewe in 1880. En so het hy die grondslag van goeie verhoudinge met die Blankes in die Vrystaat gelê, en ook die belange van die Barolong-stam bevorder.

(Bronsplaat 1955)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 218.