MYNIE HERTZOG (1863-1942)

DIE JÊMTERTVERKIESING

Die hele storie begin in oom Charl Neethling se waatlemoentuin. Agter sy huis in Dorpstraat op Stellenbosch kweek oom Charl die grootste, soetste en lekkerste waatlemoene. Vir die mansstudente is dit ’n groot versoeking. Hulle klim gereeld snags oor die tuinmuurtjie om waatlemoene te steel en nooi dan die jong dames van die Onderwyskollege vir waatlemoenfeeste langs die Eersterivier. Totdat oom Charl besluit om hulle voor te lê – en hy betrap die waatlemoendief op heterdaad! Nogal ’n regstudent – Barry Hertzog van Wellington.

Oom Charl sleep hom aan sy oor kombuis toe en by die lamplig was hy die kêrel goed die kop. Maar Barry Hertzog se aandag is lankal nie meer by die kwaai ou oom nie, want om die hoekie van die gangdeur loer twee helder bruin oë – Mynie, die middelste van oom Charl se 12 kinders. En Barry Hertzog kry een van die ingewings wat hom dadelik uit die moeilikheid kry en wat hom later jare tot in die Eersteministerstoel sou neem. “Ek sal smiddae na klas die tuin vir oom kom skoffel totdat die waatlemoene betaal is,” stel hy voor. Oom Charl het natuurlik geen benul daarvan dat dit nie hier gaan om die waatlemoene of die skuldlas nie, maar om die fyn donkerkop met die kuiltjies!

Wilhelmina Jacoba, is sy gedoop, haar ma se naam. Sy is gebore op 4 Januarie 1863 – dieselfde jaar as Langenhoven se “Vroutjie” – en die twee sou in later jare groot vriendinne word.

In die waatlemoentuin begin die romanse wanneer Mynie elke middag die koppie soet, swart koffie – kokend warm soos hy daarvan hou, aandra. Maar in 1889 vertrek hy na Nederland om verder te studeer. Behalwe vir ’n briefie nou en dan hoor hulle nie veel van mekaar nie, nie een was ooit ’n vurige korrespondent nie. Vier jaar gaan verby voordat hy terugkeer en hy ry sommer reguit van Tafelbaai af Stellenbosch toe. As Mynie nog nie getroud is nie, gaan hy haar haal. Haar antwoord is eenvoudig: “Met wie sou ek dan trou, Barry? Ek het mos geweet jy sal my kom haal.”

Die Hertzogs verhuis in 1892 na Pretoria waar Barry sy prokureurspraktyk opsit. Mynie hou die huisie kraakskoon, maak tuin en help oral waar sy verneem van siekte en teëspoed. Sy is haar pa se kind en haar blomme is die grootste en die mooiste in die buurt, haar waatlemoene die soetste en haar koffie, wat sy self brand en maal, is die sterkste en geurigste.

Na vier jaar word Barry geroep om sy plek as regter in te neem op die Vrystaatse regsbank en die twee verhuis na Bloemfontein waar hy ’n netjiese huis laat bou. Mynie verwag die eersteling, Johannes Albertus – Albert. In later jare sou hy self ’n kabinetsminister word en uiteindelik wegbreek van sy pa se party en die HNP stig. Maar dié lê nou nog ver in die toekoms. Want skaars drie maande oud is hy toe die Boereoorlog uitbreek en Barry op kommando vertrek.

Mynie bly in Bloemfontein agter, maar met die Britse besetting van die Vrystaatse hoofstad klouter sy op ’n perdekar met die kleine kind en vlug in die nag na haar suster op Jagersfontein. Daar haal die Engelse haar in. Saam met die suster en haar skoonma word Mynie en die seuntjie gestuur na ’n konsentrasiekamp by Port Elizabeth. Die kind word ernstig siek en alleen met moeite haal Mynie hom deur. In daardie dae verneem sy dat Barry die Kaapkolonie binnegeval het, maar dis die enigste nuus wat sy van hom het.

Totdat Lord Kitchener in die kamp opdaag. Hy dring daarop aan dat sy vir haar man skryf en by hom pleit om die wapen neer te lê. Mynie skop so ’n kabaal op dat Kitchener die aftog blaas. Maar hy neem wraak. Skoppende en skreeuende word sy weggedra na die treinstasie en alleen op ’n trein gelaai na die Vrouekamp by Merebank naby Durban. Klein Albert bly by sy tante en ouma in die Baai se kamp agter.

In daardie kamp word Mynie ernstig siek. Haar gesondheid kry ’n knou wat sy nooit weer sou afskud nie. Vir die res van haar lewe bly sy sieklik. Die helder bruin oë verloor hulle glans en sy word ’n inkennige, stil mens met ’n geweldige diep geloofsoortuiging. Juis dit sou haar in latere jare heelwat kritiek op die hals haal. In die tyd toe Afrikanernasionalisme sou bepaal aan watter party en aan watter kerk ’n goeie Afrikaner moes behoort en die susterskerke ernstig maan teen die Roomse gevaar en die charismatiese “dwaling” was dit ’n ondenkbare ding dat die Eerste Minister se vrou haar geloofstuiste in die Apostoliese Geloofsending sou vind!

Na die oorlog gaan haal sy vir Albert, nou 3 jaar oud, en keer terug Bloemfontein toe. Die lewe begin weer koersvat. Barry is bedrywig in die politiek met sy Orangia Unie en word, met die eerste verkiesing in die Vrystaat na die Oorlog, Hoofregter en Minister van Onderwys. Hier reeds begin hy met die stryd om “Hollands” as onderrigtaal in skole in te voer. Nog twee seuntjies word gebore, Charles Dirk en James Barry Munnik jnr.

Daar volg jare van politieke storm en drang. Uniewording in 1910, Barry se wegbreek van die Suid-Afrikaanse Party by De Wildt, die stigting van die Nasionale Party. Mynie bemoei haar nie met politiek nie. Sy versorg die seuntjies en wanneer Barry na Londen reis saam met die Vryheidsdeputasie in 1919 om selfbeskikking te gaan eis vir sy volk, bly sy agter. Wanneer hy by die huis is, sorg sy dat die koffie vuurwarm is en dat sy hemde altyd kraakwit en die boordjies gestyf is.

Net een keer besluit sy om haar deel te doen in die politiek. Dit is 1924 en Barry se Nasionale Party werk saam met die Arbeidersparty van kolonel Creswell. Maar hulle kanse lyk sleg, Jan Smuts is ’n formidabele opponent. Tant Mynie verneem dat die Sappe by elke vergadering en kongres so graag die konfyttertjies met die sagte suikerdeegvulsel waarvoor Smuts so lief is bedien – Jan Smuts-koekies noem hulle dit. Nou verdomp sal dit wees as die Sappe ’n verkiesing met konfyttertjies gaan wen, besluit sy. In haar kombuis eksperimenteer sy met geklopte eierwitte en klapper en sy verander die vulsel van die tertjies. “Hertzoggies” noem sy dit en die resep word landwyd uitgestuur. Waar die Natte ook al bymekaar kom, staan borde vol Hertzoggies. Die Engelse media spot oor die “Jêmtertverkiesing”, maar tant Mynie se tertjies haak die knoop deur en aan die einde van 1924 word sy die land se derde Premiersvrou.

Dis nie ’n rol waarin sy met gemak instap nie. Sy hou niks van die openbare lewe nie. Wanneer sy wel by Parlementsopeninge of sosiale geleenthede moet wees, huiwer sy op die agtergrond, die hande altyd aan die vroetel met ’n sakdoekie en die bruin oë altyd aan die soek na waar Barry is. Maar sy is daar.

Die Depressie van 1934 tref haar besonder hard. Sy was van nature altyd ’n spaarsame vrou, en nou lap sy die seuns se broekies en maak sportklere in die voorhuis met die swart Singer wat met die hand gedraai word. Die hemspkrae word omgedraai en die sokkies gestop. En die meeste van haar klere maak sy self. Daaroor word by die generaal gekla en hy verneem versigtig of sy dan regtig dink dit is nodig om die seuns se klere te lap. “Barry,” sê sy, “my kinders is altyd ordentlik aangetrek wanneer hulle by die huis uitgaan. Wat hulle aanhet wanneer hulle by die huis is, is niemand se besigheid nie. En as die kinders van die volk met gelapte broeke moet klaarkom, is Mynie Hertzog se kinders nie te goed vir gelapte broeke nie. Almiskie!”

Dwarsdeur die jare toe Hertzog die grootste oordeelsfout van sy politieke loopbaan maak deur die samesmelting met Smuts se SAP staan tant Mynie agter hom. Dis vir haar swaar dat sy ou politieke makkers die rug op hom draai. Sy verkwalik Malan en Havenga erg daaroor. En wanneer Jan Smuts met ’n slenterslag daarin slaag om die kabinet in 1939 teen Hertzog te draai oor die kwessie van deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, is dit sy wat stilswyend begin inpak toe hy in erge verbittering bedank as Eerste Minister. Heimlik weet sy dat sy hom uiteindelik aan die politiek ontworstel het – Barry is ten laaste hare alleen.

Die twee ou mense trek hulle terug op die plasie by Witbank waar hulle bedags op die stoep sit – sy met ’n naaldwerkie en hy met sy boek. In die gang giggel die bediendes wanneer dieselfde gesprek elke dag gevoer word.

Tant Mynie bring die Generaal se koffie – vuurwarm en swart en sterk.

“Ma, gooi dan nog ’n lepeltjie suiker daarby in,” vra hy.

“Ai Barry, die suiker is so duur.”

“Maar die Depressie is mos darem nou lankal verby, Ma.”

“Almiskie, beteken dit ons moet nou spandabel raak?”

Dan loop die Generaal maar self kombuis toe en gaan soek nog ’n bietjie suiker.

Dis stil jare. Dis oorlogstyd en die verdeeldheid in die volk is diep. Daar kom min mense op die plaas. Die dae gaan stil en kalm verby.

Tant Mynie is die eerste om te gaan. Op die middag van die 4de April 1942 gaan lê die twee oues, soos hulle gewoonte maar was, na middagete so ’n bietjie skuins. Die beroerte kom skielik. Sy kom nie weer regop nie. Die klein liggaampie het nie meer die krag om te baklei nie en die knokkelrige ou hande is vir die eerste keer in haar lewe stil. Toe die generaal wakker word, is sy klaar weg, stil, sonder ophef en half ongemerk soos wat haar lewe ook maar was.

Sonder haar is die Generaal verlore. Sy hemde is nie meer so wit soos wat dit was nie, die koffie is té soet en nooit warm genoeg nie. Hy loop na die beeste toe, hy dwaal af tuin toe, hy sit ’n bietjie in haar stoel, krap deur haar laaie, loop weer beeste toe. Hy soek oral na haar. 50 Jaar was hulle saam.

En skaars sewe maande later, op die 21ste November, sterf hy ook.

deur Daniël Lötter