
DIE NED. GEREF. KERK, PHILIPPOLIS
Philippolis is ’n skilderagtige dorpie wat tussen die harde kliprantjies lê nouliks 28 km noord van die Oranjerivier. Dit het ’n lang geskiedenis, want dit was hier waar Adam Kok en sy Griekwas hulle in die jaar 1825 op aandrang van dr. John Philip gevestig het. Mettertyd het ’n dorpie ontstaan en ’n kerkie is gebou. In 1861 het die Republiek Philippolis en die ganse gebied suid van die Rietrivier van die Griekwas gekoop en hulle het na Niemandsland verhuis.
In 1862 het die Ned. Geref. gemeente Philippolis tot stand gekom. Die ou Griekwa-kerkie is vir R1 800 van die Griekwas gekoop en in gebruik geneem. In 1863 kom ds. Colin Fraser as die eerste predikant van die gemeente op Philippolis aan. Sewe jaar lank bedien hy die Woord in die eenvoudige ou Griekwa-kerkie. Dan word dit afgebreek en op 8 Mei 1869 word die hoeksteen vir die nuwe kerk op dieselfde terrein gelê. R. Wocke, ’n boumeester van Bloemfontein, werk byna twee jaar aan die gebou en eers op 24 Februarie 1871 kon dit ingewy word. Vir die gemeente Philippolis was dit ’n onvergeetlike dag. Uit alle oorde het mense na die dorp gestroom en agt leraars uit ander gemeentes het die seremonie bygewoon.
Die kerkgebou het R12 000 gekos en is as ’n pragstuk beskou. Die preekstoel, wat vandag nog in gebruik is, getuig van die maker, E.T. Smith, se buitengewone vaardigheid en goeie smaak.
Geleidelik het die gemeente aangewas en na vyf-en-twintig jaar was die kerkgebou al te klein. Daar is dus besluit om twee vleuels aan te bou, en in 1895 kon die vergrote kerkgebou ingewy word. “De bouwmeester, de heer Hawkins”, so skryf De Fakkel van 10 Oktober 1895, “heeft sich op eervolle en prijzenswaardige wijze van zijne moeilijke taak gekweten. Het oude gebouw werd vergroot door den aanbouw van vleugels met galerijen, zoodat het tegenwoordig gebouw, als wij ons niet vergissen, meer of min 1 000 zitplaatsen telt in plaats van 600 zoo als vroeger. Het oude deel werd met het nieuwe in overeenstemming gebracht, doordat het opnieuw gepleisterd, gewit en geschilderd werd. De oude, korte, stompe toren werd met een fraaie spits van, wij schatten het, 20 voet (±6 m) verhoogd; zoodat het geheel met recht een sierlijk gebouw genoemd mag worden. Daarom wenschen wij dan ook den leeraar en gemeente van Philippolis van harte geluk temeer daar’t prachtig kerkgebouw, dat nu weer ₤1 225 (R2 450) heeft gekost betrekkelijk zonder schuld werd ingewijd.”
In Maart 1900 is Philippolis deur die Britse troepe beset. Woonhuise van burgers en ook die pastorie is afgebrand. Die kerkgebou is in ’n fort omgeskep en sandsakke is in die vensters van die toring gepak. Die kerk is in die oorlog beskadig. Die omheining is platgetrap. Die orrel is onherstelbaar beskadig en die houtversierings aan die preekstoel is afgebreek. Na die oorlog is die ou gebou van buite en binne weer opgeknap.
Byna honderd jaar lank dien hierdie ou gebou in die middel van die hoofstraat nou reeds die gemeente as ’n plek van aanbidding. Dit is verteenwoordigend van die 19de eeu se kerkargitektuur. Die interieur is voorwaar pragtig en die preekstoel ’n meesterstuk in houtwerk.
Nie alleen die gemeente nie, maar die gemeenskap bejeën met piëteit en trots hierdie waardige en statige ou gebou.
(Geproklameer 1969)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 215-216.
