NONNIE DE LA REY (1856-1923)
VIR HAAR VYANDE ’N VRIENDIN
Die een ding wat dwarsdeur haar lewe die een of ander rol gespeel het, was waens. Jacoba Elizabeth Greeff was van kleins af bekend as Nonnie. Sy is gebore op 28 Mei 1856 op Tulbagh, waar haar pa ’n wamaker was. Oom Hendrik Greeff het rooimiere gehad – hy kon nêrens tot ruste kom nie en hy het juis sy toekomstige vrou ontmoet op ’n jagtog aan die Grootrivier. Nonnie was skaars drie maande oud toe haar wiegie agterin ’n wa gelaai word en die trek na die Wes-Transvaal begin. Daar lê haar pa die plase Elandsfontein en Doornfontein aan. Maar hy bly op die pad, gedurig op ’n spekulasietog of ’n jagtog, met die hele familie saam. Gevolglik sien Nonnie die binnekant van ’n skool eers toe sy amper 10 jaar oud is – en na 7 maande is haar skoolloopbaan verby, want oom Hendrik koop alweer grond naby Lichtenburg.
Dit was op ’n oggend in 1875 dat sy die voordeur oopmaak en voor haar op die stoep staan ’n lang, fris kêrel met ’n netjiese baard en twee helderbruin oë. “Veldkornet Koos de la Rey, ek is gestuur deur kommandant Louw Wepener,” stel hy homself voor. Maar hy stotter effens, want voor hom staan ’n kort, fyn meisietjie met twee fletsblou oë en haar lang bruin hare vasgebind met ’n spierwit lint. Haar middeltjie is so dun dat hy maklik sy twee hande om dit sou kon span.
Die koppie koffie wat sy bring, op haar pa se bevel, is die lekkerste wat hy nog gedrink het en op pad terug kommando toe klop sy perd se hoewe haar naam heelpad: “Nonnie Greeff, Nonnie Greeff.” Koos moes sy mooipraat ken, want ou tante Greeff wou nie kopgee nie. Die De la Reys is nie ryk mense nie, Nonnie is maar 19 en Koos is al 28. Maar die twee hou vol en op Dinsdagmôre 24 Oktober 1876 trou die twee voor die magistraat op Zeerust. Die kerktroue en die huweliksopskop word op die plaas gehou. Nonnie se bruidskat is 700 morge grond van haar pa en van Koos se pa kry hy 100 skape en ’n paar beeste. En daarmee begin hulle ’n lewe saam.
Adriaan word in 1880 gebore, maar toe is Koos ook alweer op kommando, want die Eerste Vryheidsoorlog is in volle swang. Knap vier jaar later sterf oom Hendrik en tante Greeff binne ’n paar dae uit mekaar en Nonnie erf Elandsfontein. Weer klim sy op ’n wa om ’n nuwe lewe te begin in Lichtenburg se kontrei. Op die plaas bou Koos ’n enorme ou huis van sandklip waar Nonnie die kinders kan grootmaak terwyl hy kort-kort Pretoria toe ry. Want teen 1884 is hy reeds ’n verkose Parlementslid in die Transvaalse regering.
En hier wys Nonnie de la Rey haar staal as boervrou. Terwyl Koos besig is met volksake, bou sy ’n dam, grawe putte, laat krale pak, plant en oes en maak 12 kinders groot! Daarbenewens woon haar vier jonger boeties en sussies ook op die plaas, sowel as twee weeskinders wat Koos uit Pretoria saambring.
Na 38 huweliksjare skryf sy in ’n brief aan haar suster: “Ons huwelik is soos ’n stroom wat vinnig vloei. Partykeer raak die water modderig, maar dit vloei so sterk dat die modderigheid vinnig weer wegspoel.” Wat egter nog voorlê, het Nonnie nie besef nie. Dit is in die 23ste huweliksjaar dat die Oorlog uitbreek – daardie oorlog wat Koos met alles in sy vermoë probeer vermy het. Daarvoor het Paul Kruger hom van lafhartigheid beskuldig, waarop Koos se kalm antwoord was: “U sal my in die veld sien, besig om te veg vir die vryheid van die Afrikanervolk lank nadat u en die oorlogsgesindes al landuit gevlug het!”
Die oorlog bring vir Nonnie bitter smarte. Sy verneem per telegram dat haar oudste, Adriaan, by Tweerivieren in die maag gewond is. Koos het sy seun in ’n kombers gedraai en hom 14 km ver gedra-sleep tot by Jacobsdal waar hy dieselfde nag nog sterf. Dieselfde nag laat Nonnie die wa span en kies koers na Magersfontein om haar man te gaan troos en haar seun te begrawe.
Nie lank daarna nie daag ’n Britse patrollie op die plaas op en plunder die huis en skuur. Tant Nonnie ry Lichtenburg toe en gaan verkla hulle by Lord Methuen. Dié belowe plegtig dat hy haar gesteelde perde sal terugbesorg en haar huis beskerm as sy belowe om nie enige verdere hulp aan die Boerekommando’s te verleen nie. So kwaad was Nonnie de la Rey nog nooit!
Sy sê die Engelsman behoorlik sleg en sluit dan af met: “Al slaan julle my aan repe, as my man of my mense by my huis aanklop, sal ek hulle alles gee wat ek het. En as jy daaroor kwaad wil wees, stuur jou troepe dat hulle die res kom haal wat ek op daardie plaas het! Ik heb gezegd!”
Ten spyte van haar formidabele teenstand, maak die Engelse haar lewe moeilik en plaas druk op haar om haar man aan hulle oor te lewer. Totdat tant Nonnie die streep trek. Sy doen wat sy soveel kere al in haar lewe gedoen het: Sy laat ’n wa inspan, laai haar kinders (almal tussen 3 en 15 jaar oud) op die wa en op Oukersdag 1900 trek sy. Vir die res van die oorlog sou sy en haar kinders in die veld bly, altyd op vlug voor die Engelse, altyd aan die kyk waar sy haar mense kan help. En haar gees bly groot! Op ’n kol kry sy ’n Union Jack in die hande en daarmee lap sy die seuntjies se broeke op die sitvlakke terwyl die trane uit haar oë rol van die lag oor wat oom Koos daarvan sou sê.
In Februarie 1901 verneem sy dat Lord Methuen die plaashuis op Elandsfontein laat afbrand het. Skaars ’n maand later verneem sy dat Methuen gewond is by die Slag van Tweebosch. En hier wys Nonnie de la Rey die grootste karaktereienskap van die Afrikanervrou – sy besoek Methuen met kos en medisyne, beskuit wat sy in die veld gebak het en twee van haar beste hoenders, afgeslag en bruin gebraai. En sy onderneem om ’n telegram te stuur aan Methuen se vrou om haar te vertel van haar man se ongeluk. Haar vergewensgesindheid roer die streng Britse militaris tot trane.
Maar Nonnie de la Rey was nie net ’n Boeretannie nie. Pas is die oorlog verby, toe sy op die skip klim saam met oom Koos, generaal Botha en generaal De Wet om in Brittanje te gaan vra vir geld om te help met die opbou van die land. Sy is nie ’n geleerde vrou nie, maar haar opregte en spontane geaardheid maak ’n indruk op die ryk Engelse en die afvaardiging kom terug met heelwat geld.
Nou moet die plaashuis herbou word, en terwyl oom Koos alweer op pad is Indië toe met volksake, trek sy haar skoene uit en begin klei trap om self te help bakstene maak. Daar kom gereeld besoekers, en sonder teëspraak laat hulle hulself van tant Nonnie in die werk steek. Jan Smuts moet help tuinmaak en Barry Hertzog moet inval met ’n graaf!
Oom Koos se politieke bedrywighede neem hom meer dikwels van die huis af weg en dwarsdeur die storm-en-drang jare van Uniewording en die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog is dit tant Nonnie wat Elandsfontein aan die gang hou, die kinders en kleinkinders bymekaar hou en wat ’n wakis in die slaapkamer het waarin sy elke brief wat oom Koos ooit aan haar geskryf het, bêre. Dikwels sit sy laataand by kerslig en lees hulle oor en oor. Daar is honderde.
Op die aand van 15 September 1914 is oom Koos op pad van Pretoria af saam met generaal Beyers in ’n grys Daimler. By Langlaagte is ’n padblokkade opgestel om die berugte Foster-bende te probeer betrap. Generaal Beyers vermoed dat dit regeringspolisie is wat hom voorlê omdat hulle verneem het van die planne om ’n Rebellie aan die gang te sit teen Eerste Minister Botha se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog – aan Britse kant. Hy gee opdrag dat die motor verbyjaag.
Die opslagkoeël tref oom Koos van agter in sy regterlong.
Of dit werklik per ongeluk was en of dit ’n fyn beplande sluipmoord was, sal ons seker nooit weet nie. Wat ons wel weet, is dat tant Nonnie weereens ’n wa inspan. Hierdie keer ’n wa, ryklik met blomme versier, waarmee oom Koos se liggaam van Pretoria na Lichtenburg geneem word. Daar is twee begrafnisdienste – een in Pretoria en een op Elandsfontein. Daar daag 10 000 mense op die plaas op.
Tant Nonnie stort nie ’n enkele traan nie, want het oom Koos dan nie ’n paar weke gelede in een van sy laaste briewe geskryf: “Nonnie, as my lewe my mense kan beskerm, laat hulle dan my lewe neem.”
38 jaar was hulle saam, en nou moet sy die pad verder alleen loop. Op Elandsfontein gaan haar lewe ongestoord voort. Tant Nonnie raak lywiger en swaarder met die jare, van die middellyfie waarom jong Koos de la Rey sy twee hande kon span, is niks meer oor nie. Maar die blou oë vonkel en die hardgewerkte hande bly besig.
En wanneer sy op ’n oggend in Augustus 1923 met ’n gelate sug bid: “So is dit dan, Heer, ek is gereed,” haar oë sluit en sterf in die kamer met sy wakis vol briewe, is haar lewenstaak volbring. Dat dit juis ’n Engelsman moes wees, die goewerneur-generaal Lord Buxton, wat haar lewe in sy huldeblyk so mooi moes saamvat: “Vir haar man en kinders het sy altyd opgeoffer, vir haar volk sou sy gee wat sy gehad het en meer, vir haar vyande was sy ’n simpatieke vriendin.”
deur Daniël Lötter