O’NEIL SE KOTHUIS, DIST. NEWCASTLE

W​es van die hoofweg, tussen Ingogo en Charlestown, 35 km van Newcastle en skaars elf km van Charlestown, aan die voet van Amajubaberg is hierdie interessante kruisvormige kliphuis geleë. Hier is in Maart 1881 die vredesonderhandelinge gevoer en die verdrag geteken wat na die slag van Amajuba ’n einde aan die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881 gemaak het. Dit het destyds aan R. C. (Ou Gert) O’Neil behoort.

Op die nag van 26 Februarie het Colley se troepe Majubaberg vlak agter hierdie huis begin uitklim. Na die nederlaag en die dood van Colley het sir Evelyn Wood op 6 Maart met genl. Piet Joubert ’n wapenstilstand gesluit. Op 15 Maart het Paul Kruger, dr. E.J P. Jorissen en ander Transvaalse leiers en op 20 Maart president J. H. Brand van die Vrystaat by die Boerekamp by Laingsnek aangekom. Laasgenoemde sou as bemiddelaar by die onderhandelings optree.

Op uitnodiging van sir Evelyn Wood het die samesprekings in hierdie woonhuis van O’Neil plaasgevind. Aan Transvaal-kant was daar behalwe president Kruger en Jorissen op een of ander tydstip aanwesig genl. Piet Joubert, M.W. Pretorius, Jacob Maré, D.C. (Swart Dirk) Uys, Karel Rood (tolk), genl. Nicolaas Smit, C. Joubert, ds. D.P. Ackerman en J.O.H. Sluiter (griffier). Aan Engelse kant was behalwe sir E. Wood aanwesig die aide-de-camp kapt. Thornbrugh-Cropper, luit. Hamilton, majoor Fraser, majoor Clarke en kapt. Roberts. President Brand was deurgaans teenwoordig.

Die vergaderings is in die voorhuis aan die oostekant van die gebou gehou. Soms is almal behalwe die regeringslede uitgestuur. Soms is ook buite onder die klein veranda deur die Boereleiers informeel beraadslaag. Geen volledige notule van die onderhandelinge is gehou nie. Hier is dan uiteindelik aan die Zuid-Afrikaansche Republiek sy onafhanklikheid teruggegee, hoewel dit aanvanklik onder die susereiniteit van Engeland gebly het.

Die vergadering van die groepie om die tafel in die voorhuis vorm die tema van een van die beeldhouer Anton van Wouw se panele op die voetstuk van die Krugerbeeld op die Kerkplein in Pretoria.

Die huisie is omstreeks 1870 deur P.A. Hayward de Bary, ’n Rooms-Katoliek, gebou en daarom die kruis in wit klip op die voorgewel. Die huis is later deur O’Neil van Graaff-Reinet gekoop. In 1878 het hy dit op sy beurt aan sy broer R.C. O’Neil oorgemaak, wat tydens die slag van Majuba daarin gewoon het. Van die Britse gewondes is ook hierin verpleeg en drie wat in die huis oorlede is, is digby in die vrugteboord begrawe.

(Geproklameer 1942)

Foto: Melton Prior • Ondertekening van Vredesverdrag met die Boere in O’Neil se huis, 21.3.1881. Van links na regs: Swart Dirk Uys, Paul Kruger, lt. Hamilton, maj. Clark; genl. Piet Joubert, maj. Fraser. Kapt. Cropper, pres. Brand, kapt. Roberts, genl. Sir Evelyn Wood, genl. Nicolaas Smit • The Illustrated London News – Africana-museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 283-284.