OU GOEWERNEURSWONING, PIETERMARITZBURG

Hoog op in Langmarkstraat, daar naby die spoorwegstasie, tussen Fleming- en Pinestraat, is die Goewerneurswoning van weleer geleë. Tans maak dit deel uit van die geboue van die Onderwyserskollege.

Vroeë amptenare, selfs die luitenant-goewerneur, moes in hierdie jong kolonie maar vir hulle eie huisvesting sorg. So was die tweede luitenant-goewerneur, sir Benjamin Pine, verplig om vir homself ’n residensie te koop. Sy keuse het op die huis van ’n ander amptenaar, die eerste landmeter-generaal van Natal, dr. William Stanger, geval. Dit was hierdie huis op erwe nrs. 1 en 2 in Langmarkstraat, wat hy eers gehuur het en uiteindelik vir R2 400 gekoop het. Gou het hy dit egter onder die aandag van die Kaapse goewerneur gebring dat daar geen offisiële residensie vir die hoof-uitvoerende amptenaar van die Kolonie bestaan nie. Op 13 November 1852 is hierdie gebou dus deur die koloniale regering van Pine as goewerneurswoning gekoop. Na hom is dit deur verskeie ander goewerneurs bewoon en omdat dit nou in die eerste plek nie as ’n ampswoning gebou is nie, moes aansienlike verstellings en toevoegings gemaak word. Na Uniewording in 1910 het dit die Opleidingskollege vir Onderwysers geword.

Hierdie ou gebou is egter nie slegs van historiese belang nie, maar ook van argitektoniese.

Dit weerspieël die boustyl van hierdie tydperk en is een van die weinige behoue voorbeelde van die vroeë Natalse argitektuur. Daarbenewens is dit ’n aanskouingsles in die doeltreffende gebruik van die destydse beskikbare boumateriaal.

(Geproklameer 1959)

Foto: Die Ou Goewerneurswoning • The Natal Witness

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 245.