
OU RAADSAAL EN FORT, VRYHEID
Aan die bolope van die Wit-Umfolozi in noordelike Natal is Vryheid geleë, en hier in Presidentstraat staan ’n eenvoudige, vierkantige sinkdakgeboutjie met daaragter ’n stewige klipgebou. Dit is die ou Raadsaal en fort van die Nieuwe Republiek.
Na afloop van die Zoeloe-oorlog van 1879 is die Zoeloekoning Cetshwayo van sy hoofskap onthef, maar in 1883 is hy deur koningin Victoria herstel. Een van sy vroeëre indunas, Sibebu, het hom egter verdryf en in Februarie 1884 is hy oorlede. Sy seun Dinizulu het die stryd teen Sibebu voortgesit. Met die hulp van ’n kommando van Transvaalse Boere-vrywilligers onder Lukas Meyer is Sibebu verslaan en het Dinizulu hoof geword. Op 23 Mei 1884 het hy ’n ooreenkoms met die Boere-vrywilligers aangegaan waardeur hy aan hulle grondgebied vir die oprigting van ’n eie staat afgestaan het.
Op 31 Julie 1884 het die Boere te Sandlaer aan die Umkuzirivier ’n grondwet opgestel en aanvaar. Daar is ’n Volksraad verkies en ’n Uitvoerende Raad met Lukas Meyer as waarnemende president is aangewys. Op 16 Augustus is die Nieuwe Republiek geproklameer. Van Sandlaer het die regering na Boomlaer aan die voet van die Hlobaneberg verskuif. ’n Kommissie is benoem om ’n dorpsterrein te vind. Die terrein deur hulle aanbeveel, is deur landmeter Maarschalk in erwe uitgemeet en daaraan is die naam Vryheid gegee.
Aanvanklik het die Volksraad in tente sitting gehou, maar op 24 September 1884 is besluit om ’n goewermentsgebou te laat oprig. Die gebou sou 6.7 m x 12.8 m groot wees en die drie meter hoë mure van gebrande baksteen met sinkdak sou op ’n klipfondament staan. Behalwe ’n raadsaal sou die gebou nog die volgende vertrekke hê: ’n raadskamer vir die Uitvoerende Komitee ’n vertrek wat as poskantoor moes dien en twee vertrekke met ’n blok daarin as tronk.
Met die bouwerk is blykbaar teen die einde van 1884 begin en in Junie 1885 kon die Volksraad, na maande in tente, die Raadsaal, hoewel toe nog nie heeltemal voltooi nie, in gebruik neem. Die Volksraad se besluite is gewoonlik op Saterdae bekend gemaak. Dit is met die hand geskryf of afgerol en dan aan die deur van die Raadsaal vasgespyker. Die Staatscourant is ook met die hand geskryf en litografies gedruk.
Op 13 November 1884 het die Republiek reeds sy eie vlag en wapen gekry.
Die burgers van die Nieuwe Republiek was byna almal Transvalers en die uiteindelike insluiting daarvan by die Zuid-Afrikaansche Republiek was eintlik van die begin af ’n uitgemaakte saak. Op 20 Julie 1888 het dit ook deel van die ZAR geword. Na die Anglo-Boereoorlog is dit by Natal gevoeg.
(Geproklameer 1936)
Foto: Eugène Meyer • Die Raadsaal, Vryheid
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 281-282.
