PAUL ROOS (1880-1948)

Paul Roos was die eerste rugbykaptein van die Suid-Afrikaanse nasionale span wat as die Springbokke bekendgestaan het.

Paul Johannes Roos is op 30 Oktober 1880 op die plaas Rust en Vrede in die distrik van Stellenbosch gebore. Hy het sy skoolloopbaan begin by ’n plaasskooltjie op Scholtzenhof en daarna ’n jaar lank by MJ Stucki se skool by Blouvlei op Wellington skoolgegaan. Hier het hy bevriend geraak met AF (Oubaas) Markötter, wat later jare ’n Springbok-rugbykeurder geword het. By hierdie skool het hy vir die eerste keer met rugby kennis gemaak. Daarna was hy ’n leerder aan die Stellenbosse Gymnasium (later Hoër Jongenskool) en aan die einde van 1902 het hy sy BA-graad aan die Victoria-kollege voltooi.

Vanaf sy skooljare het rugby ’n groot plek in sy lewe ingeneem. Tiperend hiervan was die feit dat hy van Rustenburg, waar hy in 1903 begin skoolhou het, per fiets na Pretoria gery het om rugby te speel. Hy het die Saterdag nadat hy gespeel het, terug Rustenburg toe gery omdat dit teen sy Christelike beginsels was om op ’n Sondag te reis. In 1904 het hy geweier om Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie (WP) te speel omdat hy nie bereid was om op ’n Sondag te speel of te reis nie. Die vorige jaar het die Britse Eilande deur Suid-Afrika getoer en Roos is gekies vir die span van die WP wat teen hulle gespeel het. Die twee spanne het met 3 elk gelykop gespeel. Hy is gekies vir die laaste toets van die reeks, en in daardie wedstryd het die Suid-Afrikaanse span sy eerste oorwinning oor die Britse Eilande behaal.

In 1906 het die Suid-Afrikaanse span vir die eerste keer oorsee gaan toer en Roos het nie aan proefwedstryde deelgeneem nie omdat dit ’n uitgemaakte saak was dat hy deel van die span sou wees. Die spelers het hom as kaptein van dié span, wat ’n toer na die Britse Eilande onderneem het, gekies. Toe hy as kaptein aangewys is, het hy dit duidelik gestel dat hulle nie Afrikaans- of Engelssprekend was nie, maar eerder ’n span gelukkige Suid-Afrikaners. Die Anglo-Boereoorlog, wat net meer as vier jaar tevore ten einde geloop het, was nog vars in die geheue. Die toer het toetse teen al vier Britse unies asook ’n nie-amptelike wedstryd teen Frankryk ingesluit. Daar sou altesaam 29 wedstryde plaasvind en die Suid-Afrikaanse span het die eerste vyftien, teen klub- en plattelandse spanne, gemaklik gewen. Roos is gedwing om die toets teen Skotland mis te loop omdat hy sy sleutelbeen in die wedstryd teen die Oxford-universiteit beseer het. Skotland het twee drieë in die tweede helfte van die wedstryd gedruk en met 6-0 gewen.

Die naam Springbok, wat die amptelike naam van die Suid-Afrikaanse nasionale span geword het, het tydens hierdie toer ontstaan. Daar word vertel dat die Engelse kaptein vir Roos gesê het: “We are the English Roses; who are you?” Roos het geantwoord; “De Springbokken.” Hy het hierdie naam uitgedink omdat hy die Engelse media wou verhinder om hul eie bynaam vir die Suid-Afrikaanse span te gee.

Tydens die toets teen Ierland het die Iere op ’n stadium met 12-3 voorgeloop, maar kort voor die einde was die telling gelykop. Kort voor die eindfluitjie het die regtervleuel, Bob Loubser, die wendrie gaan druk; die telling teen die einde was 15-12 in die Springbokke se guns. Die Springbokke het die toets teen Wallis met 11-0 gewen. Die besoek aan die Britse Eilande het gehelp om die wonde van die Anglo-Boereoorlog te genees en het ’n sin vir nasietrots onder blanke Suid-Afrikaners gekweek.

Nadat Roos sy uittrede aangekondig het, het hy in 1910 die rektor van die Hoër Jongenskool Stellenbosch, waar hy ’n leerder en onderwyser was, geword en dertig jaar lank in hierdie posisie aangebly. Hy was bekend daarvoor dat hy streng dissipline toegepas het en dat hy nie die roede gespaar het nie. In 1941 is die naam van die skool na Paul Roos Gimnasium tot sy eer verander.

Met die bewindsoorname van die Nasionale Party na die verkiesing op 26 Mei 1948 is Roos tot parlementslid vir Stellenbosch verkies nadat hy die kandidaat van die Verenigde Party verslaan het. Hy het egter skaars vier maande as parlementslid gedien voordat hy op 22 September 1948 in die ouderdom van 67 jaar oorlede is. Sy seun, dr. Gideon Roos, was ’n radio-omroeper, akteur en direkteur-generaal van die SAUK, en ook stigter, voorsitter en besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie. Die stigtersredakteur van Beeld, Schalk Pienaar, was sy susterskind.

deur Daantjie Badenhorst