PGW GROBLER (1873-1942)

Piet Grobler was ’n Suid-Afrikaanse politikus en kabinetsminister.

Pieter Gert Wessel Grobler is op 1 Februarie 1873 in die distrik Rustenburg gebore. Hy was die oudste seun van Wilhelmus Hermanus Cornelius Grobler en sy vrou Alida Theunetta du Plessis. Sy ma was ’n dogter van pres. Paul Kruger, op wie se plaas hy gebore is, se suster Sophia Margaretha Kruger (1821-1896), die eggenote van Pieter Gerrit Wessel du Plessis (1820-1901). Hy was net ’n paar jaar oud toe sy ouers na die plaas Bierkraal in die Pilansberg verhuis het, en later, in 1883 het hulle op die plaas Otterfontein in die distrik Swartruggens gaan woon. Daar het hy die werk van ’n boerseun verrig totdat hy tien jaar oud was. Die indruk wat daardie wêreld op hom as jong seun gemaak het, was waarskynlik verantwoordelik vir sy voorliefde vir die Transvaalse Bosveld en ook vir sy simpatie vir die mense wat as pioniers die wildernis in getrek het en later ’n groot deel van sy setlaars uitgemaak het toe hy ’n kabinetsminister was.

Hy was van jongs af leergierig en vernuftig maar sy eerste skoolonderrig het net drie maande geduur omdat sy ouers dit nie kon bekostig om hom verder te laat studeer nie. Hy het bokke opgepas en het daarom weinig kans gehad om skool te gaan, maar hy het ’n plan gemaak. Hy het ’n ooreenkoms met die onderwyser aangegaan: die onderwyser moes hom onderrig en hy sou vir die onderwyser ’n bok gee. So gesê, so gedaan en kort-kort moes Piet uitspring om te kyk of die bokke nie weggeloop het nie. Na drie maande het die onderwyser hom laat weet dat hy hom nie verder kon leer nie omdat hy net soveel soos die onderwyser geweet het. Piet het die bok vir die onderwyser gebring maar die onderwyser wou dit nie vat nie omdat hy gesê het dat Piet alles self geleer het. Piet het besluit om te gaan skoolhou om geld te verdien om verder te studeer.

Hy het as jong seun na Pretoria gegaan om aan die Staatsgimnasium van meester W Louis te studeer en die reis met die poskar onderneem. Hy het gemeen dat hy ekstra vir elke stuk bagasie moes betaal en daarom het hy besluit om twee pakke klere oor mekaar aan te trek. Deur die bemiddeling van Tjaart Kruger, pres. Kruger se seun, het hy in die Krugerhuis tuisgegaan en hy is soos ’n eie kind in die huis behandel. As bloedverwant en huisgenoot het Kruger met sy breë en menslike siening ’n groot en blywende indruk op die jong Piet gemaak. Dit het voorspoedig met sy studies gegaan en na omtrent agttien maande in die gimnasium het hy die eerste prys gewen in ’n wedstryd wat vir studiebeurse uitgeskryf is.

Op 1 Augustus 1891 is hy op aanbeveling van meester Louis in die staatsdiens as klerk in die onderwysdepartement aangestel. Hy is later na die departement van mynwese oorgeplaas waar hy mettertyd tot hoofklerk in die hoofkantoor gevorder het. Intussen het hy verder gestudeer deur aandklasse by te woon. Hy het hom ook aktief op die joernalistiek toegelê en was geruime tyd die redakteur van die weekblad De Pers. In sy hoofartikels het hy onder meer heelwat insig in Europese aangeleenthede getoon, soos geblyk het uit ’n ontleding van die implikasies van die Anglo-Duitse handelsverdrag in die 1890’s. Terwyl hy in die departement van mynwese gewerk het, is hy met Lydia Fouché getroud.

Hy het onverbiddelik kant gekies vir die Volksraad toe hoofregter JG Kotzé die toetsingsreg vir die howe opgeëis het. Aan die begin van 1896 het hy na Europa vertrek, waar hy verskillende lande besoek het en hom beywer het om die ware toedrag van sake in die Zuid-Afrikaansche Republiek bekend te maak. In 1898 is hy as ondersekretaris van buitelandse sake aangestel.

Gedurende die eerste maande van die Anglo-Boereoorlog het hy verskeie staatsdepartemente hanteer maar sy begeerte om aktief aan die vryheidstryd deel te neem, het hom na die westelike front gelei, waar hy as lid van Rustenburg se kommando aan die gevegte rondom Mafikeng deelgeneem het. Na die ontsetting van Kimberley op 15 Februarie 1900 en kort voor die inname van Pretoria op 5 Junie 1900 het pres. Kruger hom teruggeroep. Toe die uitvoerende raad in September 1900 besluit het om die president na Europa te stuur omdat dit te gevaarlik vir hom in die Oos-Transvaal geraak het en sodat hy daar steun vir die Boeresaak kon werf, is hy op sy grootoom se versoek om hom as assistentsekretaris te vergesel. In die geselskap van die president en mense soos Manie Bredell, het hy Delagoabaai op 20 Oktober 1900 aan boord van die Gelderland verlaat en na Marseille gevaar, waar omtrent 60 000 mense hulle op 22 November verwelkom het. Tydens sy verblyf in die buiteland het hy talle vooraanstaande Europese leiers ontmoet. Hy het sy kennis van Frans en Duits verbeter en ook sy kennis in ander rigtings deeglik uitgebrei. Dit was ook in hierdie tyd dat hy en Bredell die president se herinneringe te boek gestel het. Die gevolg hiervan was Gedenkschriften van Paul Kruger, wat aanvanklik in 1902 in Nederlands uitgegee is en later ook in Duits, Engels, Portugees, Frans, Noors en Afrikaans vertaal is.

In 1902 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en hom op die plaas Commissiedrif in die distrik Rustenburg gevestig waar hy ’n tyd lank as boer hard gewerk het om ’n bestaan te voer. Met die stigting van die Het Volk-party in 1904 is hy gevra om sy wyk vir die party te organiseer. Hy het talle partykongresse bygewoon en as lid van die hoofbestuur gedien. Nadat Het Volk die verkiesing gewen het, het genl. Louis Botha hom aangestel as voorsitter van die Transvaalse Landraad en direkteur van die Landbank. In 1910, tydens die eerste verkiesing sedert Uniewording, is hy onbestrede tot Volksraadslid vir Rustenburg verkies. As oortuigde republikein was hy nooit ’n ondersteuner van genl. Botha se koalisiepolitiek nie en toe dit geblyk het dat ’n skeuring tussen Botha en genl. JBM Hertzog onvermydelik was, het hy hom by Hertzog geskaar. Grobler het sy bes gedoen om die moeilikheid opgelos te kry deur by Botha daarop aan te dring om ’n meer versoenende houding teenoor Hertzog in te neem.

Hy was teenwoordig op die historiese vergadering wat op 7 Desember 1912 by De Wildt plaasgevind het en was een van twee Transvaalse afgevaardigdes na die Bloemfonteinse kongres van 7 tot 9 Julie 1914 toe die Nasionale Party gestig is. Op die stigtingskongres van die Nasionale Party in Pretoria wat op 26 Augustus 1914 plaasgevind het, is hy aangewys as voorsitter van die kommissie wat die grondbeginsels van die party, soos dit op die Bloemfonteinse kongres aangeneem is, moes nagaan en aanbevelings moes doen. Na afloop van die kongres is hy tot voorsitter van die sentrale bestuur verkies.

Hy het alles in sy vermoë gedoen om die Botha-regering te oorreed om van sy deelname aan die Eerste Wêreldoorlog af te sien maar toe dit geblyk het dat vreedsame, grondwetlike pogings nie sou slaag nie, het hy hom aan genl. CF Beyers se kant geskaar en gerebelleer. Kort daarna is hy gevange geneem en gevolglik moes hy op 21 April 1915 afstand doen van sy setel in die Volksraad. Hy is maande lank aangehou en op 4 Augustus 1915 is hy gevonnis tot twee jaar tronkstraf en ’n boete van £ 500. Op 10 Mei 1916 is hy egter op parool vrygelaat en met groot vreugde in Rustenburg terug verwelkom. Intussen moes hy noodgedwonge afstand doen van die voorsitterskap van die Nasionale Party in Transvaal en adv. Tielman Roos het hom opgevolg. Nadat sy parool opgehef is, het hy weer aktief aan die politiek begin deelneem en hom in 1920 in sy ou kiesafdeling in Rustenburg verkiesbaar gestel maar ’n kandidaat van die Suid-Afrikaanse party het hom met 34 stemme verslaan. Met die verkiesing in 1921 het hy met een stem verloor, maar na ’n hofgeding is hy met twee stemme verkose verklaar. In 1924 het hy weer sy kiesafdeling vir die Nasionale Party verower en die minister van lande in die eerste Hertzog-kabinet geword. Nadat hy ses jaar lank onderleier van die Nasionale Party in Transvaal was, is hy in 1929 tot leier verkies. Hy het leier gebly totdat die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party saamgesmelt het; ’n stap wat hy as vurige Hertzog-ondersteuner goedgekeur het. Met die koalisieregering van 1933 is hy vir ’n derde termyn in die Hertzog-kabinet aangestel, hierdie keer as minister van naturellesake. Intussen was hy in 1932 lid van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Ekonomiese Konferensie in die Kanadese stad Ottawa.

In sy latere jare het hy aan ’n hartaandoening gely en in 1935 behandeling in Duitsland daarvoor ontvang. Dit het net ’n tydelike verbetering meegebring. Op 3 Junie 1938 het hy as minister en Volksraadslid bedank maar op 30 November 1938 is hy tot Transvaalse senator benoem. Hy het hierdie amp tot 23 November 1939 beklee waarna hy hom om gesondheidsredes aan die openbare lewe onttrek het.

Hy was ’n stigterslid van Sanlam en was van 1936 af ondervoorsitter van die direksie. Op 21 Mei 1938 is ’n eredoktorsgraad deur die destydse Universiteitskollege van Potchefstroom aan hom toegeken. Hy het ’n leidende rol in die Gereformeerde Kerk, waarvan hy lidmaat was, gespeel en hom veral vir die belange van die teologiese skool in Potchefstroom beywer.

Hy is op 22 Augustus 1942 oorlede en in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria begrawe. Die Noord-Kaapse dorp Groblershoop is na hom vernoem.

deur Daantjie Badenhorst