PIERRE VAN RYNEVELD (1891-1972)
Sir Pierre van Ryneveld was ’n Suid-Afrikaanse lugvaartpionier en die stigtersbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugmag.
Hesperus Andrias van Ryneveld is op 2 Mei 1891 op Senekal in die Vrystaat gebore en het aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer. Hierna het hy hom by die destyds nuutgestigte Unie-Verdedigingsmag aangesluit en aan die Imperial Staff College in Engeland gaan studeer. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy in die Royal Flying Corps en die Royal Air Force gedien en hy het die Distinguished Honour and Military Cross vir sy diens tydens die oorlog verdien terwyl die Franse regering die Chevalier of the Legion of Honour aan hom toegeken het.
Na die oorlog het genl. Jan Smuts hom teruggeroep om die Suid-Afrikaanse Lugmag te stig. Hy het saam met Quinton Brand in ’n Vickers Vimy-vliegtuig oor Afrika na Suid-Afrika gevlieg en hiervoor is hulle albei tot ridders geslaan. In 1920 het The Times prysgeld van £ 10 000 aangebied vir die eerste vlieënier wat van Londen na Kaapstad kon vlieg. Genl. Smuts wou gehad het dat Suid-Afrikaanse vlieëniers hierdie roete eerste vlieg en die aankoop van ’n Vickers Vimy G-UABA ter waarde van £ 4 500 wat die bynaam Silver Queen gekry het, gemagtig.
In dieselfde jaar het hy direkteur van Lugdienste vir Suid-Afrika geword en dit tot 1933 bestuur. In hierdie tyd was hy ook kommandant van die Suid-Afrikaanse Militêre Kollege in 1929 en voorsitter van die Burgerlugvaartraad in 1931. In 1933 is hy bevorder tot hoof van algemene personeel van die Unie-weermag; vir die volgende vier jaar was die Suid-Afrikaanse Lugmag onder sy direkte beheer omdat niemand tot 1937 as die Lugmag se direkteur aangestel is nie. In 1925 was hy betrokke by die regering se onderdrukking van die Rehoboth-rebellie teen Suid-Afrika se administrasie van die destydse Suidwes-Afrika. Hy was genl. Smuts se Hoof van Generale Staf tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy het op 2 Mei 1949, op sy 58ste verjaardag, uit diens getree en is op 2 Desember 1972 in die ouderdom van 81 jaar oorlede.
Die Pretoria-voorstad Pierre van Ryneveld en die lughawe net noord van Upington in die Noord-Kaap is na hom vernoem, asook die Sir Pierre van Ryneveld Hoërskool in Kempton Park. Die jaarlikse lugkragsimposium van die Suid-Afrikaanse Lugmag dra ook sy naam.
deur Daantjie Badenhorst