PIETER GYSBERT VAN NOODT – GOEWERNEUR VAN 1727-1729

Pieter Gysbert van Noodt was ’n amptenaar van die VOC as direkteur van fortifikasies in Indië. Hy besoek die Kaap vir die eerste keer in 1718 waar hy vir byna ’n jaar aanbly. Op 25 Februarie 1727 het hy sy termyn as goewerneur in die Kaap begin.

Van Noodt is op 25 April 1681 in Nijmegen, ’n stad in die Gelderland-provinsie van Nederland, gebore en was met Johanna Drabbe getroud. Hy het ’n veglustige, onaangename geaardheid gehad wat juis in sy tyd as goewerneur aan die Kaap tot ernstige konflik gelei het.

Sy karakter word uiters negatief in dokumentasie beskryf. Hy word een van die mees gehate Kaapse goewerneurs genoem. Bewerings sluit in dat hy onder andere geld verduister het wat aan die Kompanjie se soldate betaal moes word, handelslisensies geweier het en die hernuwing van huurkontrakte weerhou het.

Die tiran-agtige manier waarop hy bestuur het, het burgers gedryf tot opstand wat hy onderdruk het met uiterste wreedheid. Veral soldate is onregverdig behandel en het gebrek gely onder sy bestuur. Die situasie is in 1729 op die spits gedryf toe 14 soldate wat probeer dros het, gevang, verhoor en gevonnis is. Sewe, wat beskou is as die leiers, is gevonnis om gehang te word. Ten spyte van talle versoeke vir begenadiging het Van Noodt voet by stuk gehou en die teregstelling vir 23 April 1729 geskeduleer. Op die ou end kon die raad wel daarin slaag om hom te oortuig dat drie se vonnis versag word, maar die ander vier het aan die galg gesterf.

Na afloop van die teregstelling is die Politieke Raad na die goewerneur se kwartiere om verslag te doen en vind Van Noodt op sy stoel by sy lessenaar. Toe hulle nader stap, het hulle hom dood in die stoel aangetref. Vandag staan hierdie stoel in die Koopmans-de Wet huis in Strandstraat en Van Noodt is die onderwerp van een van die spookstories van die Kasteel. Pieter Gysbert van Noodt is in die Groote Kerk in Kaapstad begrawe.

Elizma Smith