PIETER HACKIUS – KOMMANDEUR VAN 1670-1671

Op 25 Maart 1670 volg Hackius vir Jacob Borghorst op as die vyfde kommandeur in die Kaap. Hy was ’n amptenaar van die VOC in die Ooste voor hy Kaap toe gekom het en het onder andere die poste van sekretaris en later balju beklee. Hy was getroud met Alida Paets en hulle het vyf kinders gehad.

Dit was nie ’n baie produktiewe termyn nie. Hackius was al redelik bejaard en soos sy voorganger sieklik. Sy swak gesondheid is toegeskryf aan lang diens vir die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie in Oos-Indië. In die Kaap het sy sekundes, Cornelis de Cretzer en Hendrik Crudop, ’n latere goewerneur, baie van die werk gedoen.

Vir etlike maande na sy aankoms het die nedersetting rustig sy gang gegaan en niks buitengewoons het gebeur nie. Eers in Junie 1670 is die eerste raadsvergadering gehou. Leeus en luiperds het toenemend veekuddes aangeval en hiënas het lyke in die kerkhof opgegrawe en verskeur. Planne moes gemaak word om dit aan te spreek.

Tydens Hackius se bewind is ook pogings aangewend om immigrasie vanuit Holland aan te moedig. In die 1670’s het die VOC begin verbind tot die vestiging van ’n permanente nedersetting in die Kaap. Besoekers aan die Kaap het reeds na die nedersetting as ’n dorp begin verwys. Intussen het die bouwerk aan die Kasteel steeds voortgegaan.

Pieter Hackius se gesondheid het vinnig agteruitgegaan en hy is op 30 November 1671 oorlede. Hy was die eerste hoof van die Kaapkolonie wat in die Kaap gesterf en daar begrawe is. In die vroeër jare van die Kaapse nedersetting is persone van belang begrawe in kerkgeboue. Hackius is begrawe in die onvoltooide kasteel in die area waar die plek van aanbidding nog ingerig sou word en ’n predikant en die eggenote van ’n vorige kommandeur reeds begrawe was.

Elizma Smith