PLEK WAAR PRINS NAPOLEON GESNEUWEL HET, DIST. VRYHEID

Wes van die pad wat loop vanaf Babanango oor Barklieside na Vryheid, is nog ’n plek wat aan die wrange verloop van die Zoeloe-oorlog van 1879 herinner. Dit is die plek waar die Franse keiserlike prins Eugène Louis Joseph Napoleon Bonaparte op 1 Junie 1879 deur ’n aantal Zoeloe gedood is. Ietwat noord van die Barklieside en ongeveer 37 km van Vryheid draai ’n paadjie weswaarts weg en ongeveer ses km vanaf die hoofpad tussen die heuwels aan die oorsprong van Itshotshozirivier is die monument ter herinnering aan dié gebeurtenis geleë.

Hierdie keiserlike prins is op 16 Maart 1856 gebore en was die seun van die Franse keiser Napoleon III en keiserin Eugénie. Die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870 het die val van die Tweede Franse Keiserryk veroorsaak en Napoleon III was verplig om met sy familie in Engeland ’n tuiste te vind. Hier het die jong prins by Woolwich en Aldershot ’n militêre opleiding ontvang.

Toe die kanse vir die herstel van die Huis van Bonaparte in Frankryk al hoe geringer geword het, het die prins gevoel dat hy hom by die Franse volk moes regverdig deur ’n geslaagde militêre loopbaan. In Engeland het die ramp van Isandlwana groot militêre geesdrif gewek en die prins het die Hertog van Cambridge, die Britse opperbevelhebber, gesoebat om hom toe te laat om in Zoeloeland te gaan veg. Sy versoek is toegestaan en met die rang van luitenant het by na Suid-Afrika vertrek. Lord Chelmsford, bevelvoerder in Zoeloeland, was in die geheel nie ingenome met die groot verantwoordelikheid wat hierdeur op sy skouers gelaai is nie. Hy het hom egter tot die verkennerskorps van kol. Harrison by Dundee toegevoeg.

Dit was nou juis in hierdie stadium dat Chelmsford met sy tweede opmars teen Cetshwayo begin het. Op 1 Junie 1879 het sy leër oor die Bloedrivier Zoeloeland binnegetrek. Die prins met ses soldate onder luit. Carey is vooruit gestuur om ’n standplaas vir die leër vir die nag uit te kies. Die geselskap is verby die Iteleziheuwel tot by ’n skynbaar verlate Zoeloekraal ongeveer 200 meter van die Itshotshozispruit. Hier het hulle afgesaal om koffie te drink. Die terrein om die kraal, behalwe na die noorde, was met hoë gras en mielies begroei, terwyl uit die ooste ’n donga van sowat twee meter diep skuins by die kraal verbygeloop het. Skielik het hulle ontdek dat ’n vyftigtal Zoeloe besig was om vanuit die donga deur die lang gras op hulle af te sluip. Hulle het na hulle perde gehardloop en in aller yl probeer wegkom. Die Zoeloe het op hulle geskiet en geskree. Die prins se perd het geskrik, aan die hardloop geraak, en hy kon nie opkom nie. Hy het langs die perd gehardloop, die saalsak vasgegryp en probeer opspring. Die leerband het gebreek en hy het op die grond neergestort, terwyl die perd weghardloop. Hy het hom op sy agtervolgers gedraai, drie skote met sy rewolwer geskiet, maar is deur die Zoeloe-assegaaie neergevel. Saam met hom het twee manskappe gesneuwel. Die volgende dag is die lyk van die prins na die kamp gebring en vandaar na Durban gestuur, vanwaar dit met H.M.S. Orontes na Engeland geneem is.

Op die plek waar die prins gesneuwel het, is eers ’n eenvoudige klipstapel opgerig. In 1880 het keiserin Eugénie die plek, waar haar seun gesterf het, besoek en toe is ’n marmerkruis, wat deur koningin Victoria van Engeland geskenk is, hier opgerig. Die prins is eers in Chistlehurst begrawe, maar sy stoflike oorskot is later saam met dié van sy vader Napoleon III in ’n gedenkkerk, wat deur die keiserin by Farnborough in Hampshire opgerig is, ter ruste gelê.

Die gedenkteken hier in die eensame veld dui dus die einde van die Bonaparte-dinastie aan.

(Geproklameer 1937) (Geen openbare pad en toegang slegs met verlof van Bantoe-kommissaris)

Foto: Kapt. Carey • Die Keiserlike Prins (regs) op die plek waar hy gedood is • “Local History”-museum, Durban

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 277-278.