
QUEEN’S- OF BLOEMFONTEIN-FORT
Queen’s-fort, ook bekend as Bloemfontein-fort, is ten suide van die middestad geleë. Gedeeltelik verskuild agter groot dennebome, staan dit op ’n koppie links van Kerkstraat reg teenoor die Basoeto-monument.
Op 3 Februarie 1848 is die Britse soewereiniteit oor die Transgariep uitgeroep. In Julie van dieselfde jaar is die Britse Resident, te Bloemfontein, Henry Douglas Warden, deur ’n Boerekommando onder aanvoering van genl. A.W.J. Pretorius bedreig. In opdrag van Warden is verdedigingswerke bestaande uit loopgrawe en klipskanse, later bekend as Fort Drury, op die rif naby die fontein opgewerp. Warden was desnieteenstaande genoop om suidwaarts terug te val.
By die slag van Boomplaats naby Trompsburg het sir Harry Smith, goewerneur van die Kaapkolonie, die Boere verslaan en opgeruk na Bloemfontein, waar hy Warden weer as Resident herstel het.
Sir Harry Smith het die weerloosheid van Bloemfontein besef en het besluit om ’n nuwe fort te bou op die meer strategiese terrein op die heuwel suidoos van die fontein. Met die manskappe tot sy beskikking het hy dadelik met die bou daarvan begin en op 6 Oktober was die grondwalle opgewerp en die klipmuur daarop gebou. Die fort is vroeg in die volgende jaar voltooi en ’n gebied van 400 meter daar rondom is vir militêre doeleindes gereserveer. Die fort is Queen’s-fort na koningin Victoria genoem.
Die vesting was nouliks ’n indrukwekkende gebouekompleks. Vier negeponder- en drie sesponder-kanonne is op die mure gemonteer. W. W. Collins beskryf die kanonne as “verouderd, ouderwetse en waardelose ysterkanonne gemonteer op Iompe, onhanteerbare ystervoetstukke en -onderstelle”. Binne die fort was ’n kruitmagasyn wat gedurende die swaar reëns van 1850 ineengestort het. Net links van die fort en teen die heuwel was die offisierskwartiere en die stalle. Die fort was deur twee afdelings van die 45ste Regiment, een bataljon van die “Cape Corps” en 25 artilleriste beman.
Na die totstandkoming van die Republiek van die Oranje-Vrystaat het die fort die eiendom van die Republiek geword. Dit is nooit eintlik gebruik nie en alle pogings om dit in stand te hou, was vrugteloos. Dit moes derhalwe heeltemal herbou word toe kapt. F.W. Albrecht in 1879 aangestel is as Hoof van die Artillerie van die Oranje-Vrystaat, en dit was ’n stadige proses en ’n moeisame onderneming.
Albrecht se eerste taak was om sy manskappe wat in tente gewoon het, gehuisves te kry. In 1882 het die Volksraad aan hom die bedrag van R5 000 bewillig wat hy gebruik het om barakke te bou. Daarna moes hy voorsiening maak vir ’n onderdak vir die perde en die eerste stal is in Januarie 1888 voltooi. Dit was eers daarna dat die restourasie van die fort aan die beurt gekom het. Vir hierdie doel het die Republiek in dieselfde jaar R2 600 bewillig. Van alle oorde van die Republiek is prisoniers na Bloemfontein oorgeplaas om met die bou van die fort te help. Dit het Albrecht wat self toesig oor die bouery gehou het, in staat gestel om die vesting in 1892 te voltooi. ’n Tweede stal is in 1896 aangebou.
Op die wyse het Albrecht die hoofkwartiere vir sy artillerie kort voor die Anglo-Boere-oorlog voltooi.
Bloemfontein is egter vroeg in die oorlog ontruim en die fort is deur Britse troepe in gebruik geneem. ’n Deel daarvan is in ’n hospitaal omgeskep en die orige het as huisvesting vir die Royal Engineers gedien. Na die oorlog is dit bewoon deur Afdeling E van die South African Constabulary onder kolonel Pilkington. Na die Rebellie is genl. C.R. de Wet en baie rebelle hierin aangehou gedurende hulle verhoor. In 1930 is die ou fort deur die Departement van Verdediging oorgeneem en dit het as hoofkwartier van die Oranje-Vrystaatse Kommandement gedien. In 1940 is sy gebruik hiervoor gestaak en in Junie 1942 het dit die hoofkwartier geword van die 23ste Bataljon van die Nasionale Brigade. Tans maak dit ’n deel van die Oranje-Hospitaal uit.
(Bronswapen 1932)
Foto: Bloemfontein vanaf Queen’s- of Bloemfontein-fort 1877 • Nasionale Museum, Bloemfontein
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 212.