
RHODES SE HUIS, LION’S KLOOF, IXOPO
Sestien km suid van Richmond gaan die pad na Ixopo oor die Umkomaas, en hier ongeveer tien km oos van die pad op die plaas Touraine in ’n diep vallei was die eerste huis van die welbekende Cecil Rhodes geleë.
In 1869 het Herbert Rhodes as setlaar onder beskerming van die Natal Land and Colonization Company na Natal gekom om aan die Umkomaas met katoen te kom boer. Hier in die afgeleë vallei het hy ’n plaas gekry en in 1870 het sy jong, sieklike broer Cecil hom gevolg. Saam het hulle hier in ’n rondawel met grasdak gewoon. Herbert was egter rusteloos van aard en was dikwels weg op handelstogte sodat die jong Cecil maar alleen die mas moes opkom. Vroeg in 1871 was by egter in staat om van sy katoen op die tuinboukundige skou in Pietermaritzburg ten toon te stel.
Die boerdery was egter geen sukses nie en in Oktober 1871 vertrek hy na Kimberley met ’n skotskar en ses osse. Met die dood van Herbert is die plaas verkoop en die inkomste daaruit het Cecil in staat gestel om na die Universiteit van Oxford terug te keer.
Waar die rondawel gestaan het, is ’n bronsplaat met die volgende inskripsie opgerig:
Op hierdie terrein was geleë die eerste woning in Suid-Afrika van Cecil John Rhodes 1870.
(Bronsplaat 1949)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 236.
