RORKESDRIF, DIST. DUNDEE

R​orkesdrif, vernoem na James Rorke, is een van die oudste en bekendste driwwe in die Buffelsrivier en is 37 km van Dundee, 18 km van Helpmekaar en 16 km van Isandlwana geleë. In 1876 het eerw. O. Witt ’n km wes van die drif aan die rotsige voet van ’n berg ’n Sweedse sendingpos aangelê. Hy het dit Oscarsberg ter ere van die Sweedse koning genoem, en ’n kerkie, ’n sendinghuis en veekrale, alles uit klip, gebou. Dit was op hierdie terrein van vrede waarop op 22 Januarie 1879 één van die bloedigste botsings, maar terselfdertyd een van die botsings belaaid met heroïsme aan albei kante tussen Brit en Zoeloe plaasgevind het.

Toe lord Chelmsford op 11 Januarie 1879 Zoeloeland by Rorkesdrif binnegeval het, het hy Oscarsberg as voorsieningsdepot ingerig. Die sendinghuis het die hospitaal geword en daarin was weldra 35 pasiënte. Die kerk is as kommissariaat ingerig en langs die kraalmure het honderde sakke mielies opgestapel gelê. Honderd man onder bevel van lt. John Chard is agtergelaat om die pos te bewaak. Op 22 Januarie het kol. Durnford op weg na Isandlwana ’n verdere 300 van sy Basoetosoldate hier gelaat.

Tydens die aanslag op die kamp by Isandlwana op 22 Januarie het die Zoeloe die beroemde Undi-impie ongeveer 4 000 man in reserwe gehou. Na die uitwissing van die Britse magte alhier, het die Undi-impie na die Buffelsrivier voortgesnel, deurgeswem en ’n verwoed aanval op die sendingpos gedoen. Gelukkig was It. Chard by die pont toe die eerste vlugtelinge van Isandlwana die drif bereik. Hy het na die sendingpos teruggeja en dit onmiddellik in ’n staat van verdediging gebring: ’n lang klipmuur met skietgate is aan die rivierkant voor die geboue opgewerp; agter die klipmuur is ’n tweede barrikade met sakke mielies opgebou; die ruimte tussen die twee geboue is afgesluit deur die teenoor mekaar geleë hoeke van die kerk en die sendinghuis met waens, mieliesakke en beskuitkiste te verbind, en ten slotte is die deure en vensters van die hospitaal met swaar kiste vol blikke vleis versper.

Om 4:30 nm., toe die stellings nouliks gereed was, bars die impie oor die voet van Oscarsberg en storm met ’n onaardse geskreeu op die sendinghuis of hospitaal af. Hierdie barbaarse gesig was té veel vir die 300 Bantoesoldate. Met hulle Blanke aanvoerder op die voorpunt kies hulle die hasepad. Nouliks honderd man bly in die skanse oor. Die Zoeloekrygers storm tot op ’n afstand van 30 meter, waar hulle met so ’n verbluffende geweervuur ontvang word, dat hulle weifel en terugval, maar net vir ’n oomblik. Hulle rig hul aanval hoofsaaklik op die hospitaal. Hulle steek die grasdak aan die brand deur assegaaie, waaraan brandende gras gebind was, daarop te slinger. Hulle forseer die deur oop, en dring die brandende gebou binne. Sersant Henry Hook, wat met vyf manskappe die gewondes bewaak het, word al vegtende van die een vertrek na die ander teruggedwing. Die deure versper, moes sy maat Williams gate deur die partisies kap, terwyl hy die aanvallers een na die ander plat skiet. Uiteindelik ontsnap hulle deur ’n klein venstertjie na die binneruim om daar hul plek onder die verdedigers in te neem. Die meeste pasiënte is of deur die Zoeloekrygers doodgesteek of is verbrand. Die brandende gebou het egter verhoed dat die aanvallers tot die binneste ruimte deurdring.

Onverpoosd het die stryd geduur tot die volgende môre met dagbreek. Herhaaldelik het die Zoeloekrygers tot tussen die klip- en mieliesak-barrikades ingedring en kon die aanslae alleen deur bajonetaanvalle afgeweer word. Dikwels was die geweerlope rooiwarm van die aanhoudende gevuur en het dit die manskappe se hande en gesigte geskroei. Groot was die verligting dus toe die impie uiteindelik terugtrek en ’n afdeling van lord Chelmsford se berede mag onder lt.-kol. Russell die afgematte beleërde garnisoen bereik.

Aan Britse kant het 17 man gesneuwel en is agt gewond, terwyl 300 Zoeloelyke binne en buite die laer opgestapel gelê het.

Die dapperheid van hierdie klein bende het erkenning gevind in die toekenning van nie minder as elf Victoriakruise nie, en die heldhaftigheid van lt. John Chard word in die Suid-Afrikaanse leër lewend gehou deur die John Chard-medalje vir dapperheid.

(Geproklameer 1969)

Foto: Lt.kol. Crealock • Rorkesdrif • The Illustrated London News, 8.3.1879 – Africana Museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 275-277.