S LE ROUX MARAIS (1896-1979)
S le Roux Marais was ’n Afrikaanse komponis en kerkorrelis.
Stephanus le Roux Marais is op 1 Februarie 1896 op Daljosafat naby Paarl gebore. Sy pa, Jakobus Francois Marais (1868-1957), was ’n onderwyser en later skoolhoof wat aanvanklik in die Vrystaat skoolgehou het, maar in 1901 hoof van die Laerskool Daljosafat geword het, vyf jaar nadat Stephanus gebore is.
Stephanus was die tweede van drie seuns wat uit sy pa se eerste huwelik gebore is. Sy ma, Brechje Jakoba le Roux, is in 1898 oorlede en sy pa is weer getroud. In 1901 is hy met Hester Helena le Roux, wat saam met hom skoolgehou het, getroud. Stephanus was ’n stil en teruggetrokke seun wat sy eerste klavierlesse op agtjarige ouderdom gekry het. Sy pa het die onderwys verlaat en aan die Universiteit van Stellenbosch in die teologie gaan studeer. Daar het Stephanus weer eens klavierlesse ontvang.
Nadat Stephanus in 1913 gematrikuleer het, het hy by Bloemfontein se Normaal- en Polytegniese kollege (later bekend as die Onderwyskollege) ingeskryf om hom as onderwyser te bekwaam. Prof. PK de Villiers, onder wie hy gestudeer het, het hom aangemoedig om musiek te komponeer. Hy was beïndruk deur die orrelspel van prof. De Villiers, ’n neef van ML de Villiers. Die feit dat prof. De Villiers uit ’n musikale familie gekom het, het ’n verrykende invloed op Stephanus gehad. Nadat hy in 1917 afgestudeer het, het hy ’n pos as orrelis by die NG Kerk Hopefield aanvaar. Die volgende jaar het hy na Smithfield vertrek; benewens sy pos as orrelis het hy ook private klavierlesse en onderrig in musiekteorie gegee aangesien dit moeilik was om ’n pos as musiekonderwyser by ’n skool te kry. Daarom het die vaste inkomste wat hy as kerkorrelis sou verdien, ’n invloed gehad op waar hy sou woon en werk.
In 1920 het hy besluit om verder te studeer en by die College of Music in Kaapstad ingeskryf. Hy het musiekteorie en musiekgeskiedenis by prof. WH Bell gekry en orrellesse by Thomas Barrow-Dowling ontvang. Hy het van 1921 tot 1923 daar gestudeer terwyl hy sy sakgeld verdien het deur ’n orrelpos by die NG Kerk Observatory te aanvaar.
Hy het sy lisensiaat in 1923 verwerf, waarna hy na Wepener teruggekeer het. Hy het egter nie lank gebly nie want in daardie jaar het hy na Londen vertrek waar hy sy RCM-kwalifikasie verwerf het. Terug in Suid-Afrika het hy die ARCM in 1924 in Bloemfontein verwerf, terwyl hy die orrelis van die destyds nuutgeboude NG-kerk in Bloemfontein-Noord geword het. Van daar af het hy na Brandfort vertrek en oor ’n tydperk van 36 jaar was hy orrelis op verskeie dorpe, onder meer Brandfort (1927-1929), Ermelo (1930-1940), Graaff-Reinet (1942-1944), Ficksburg (1944-1946) en Benoni-Noord (1947-1955). In 1941 en 1942 was hy ’n dosent in die sang-en-musiekdepartement van die Wellington-Opleidingskollege. Daar het hy die kollege se koor met sukses afgerig.
Sy eerste werk as komponis wat gepubliseer is, was “Slaapdeuntjie”. Hy het dit reeds in 1918 gekomponeer, en dit is by die FAK-sangbundel van 1937 ingesluit. Hy het sy eerste kunsliedere in Brandfort gekomponeer; twee sangbundels, Vier Afrikaanse sangstukke en Vyf Afrikaanse kunsliedere, het in hierdie tydperk verskyn. In sy laaste jaar op Brandfort het sy kunslied, “Die roos”, ’n eerste plek aan die Kaapstadse Eisteddfod verower. Hy het dit later weer reggekry, naamlik met “Geboorte van die lente” en “Mali die slaaf se lied” in 1930 en 1931 onderskeidelik. Hy het altesaam 23 onderskeidings by kunswedstryde verower waarna hy besluit het om nie weer in te skryf nie.
Die tien jaar wat hy in Ermelo gewoon het, was sy mees produktiewe as komponis; hy het minstens die helfte van sy werke daar gekomponeer. Hy is op 18 Desember 1945 met Edith Johanna Rex getroud; sy was van Aberdeen afkomstig en het aan die Union High School in Graaff-Reinet in handelsvakke klasgegee. Hulle het mekaar ontmoet toe hulle in dieselfde losieshuis gewoon het. Hy was reeds vyftig jaar oud toe hy getroud is, en dit was sy uitdruklike wens dat hulle geen kinders moes hê nie, want hy wou nie op sy ouderdom met ’n gesin begin nie. In 1946 het hy ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang; die toekenningsgeleentheid het in die Clarendon-saal in Bloemfontein plaasgevind.
Tydens sy jare in Benoni was hy op die kruin van sy loopbaan en hy het groot bekendheid in musiekgeledere verwerf. Onder die kunstenaars wat sy werk opgeneem het en tydens uitvoerings gesing het, was Betsy de la Porte, Louis Knobel, Hanlie van Niekerk, Cato Brink en natuurlik Mimi Coertse, wat groot sukses met sy toonsetting van JRL van Bruggen se “Heimwee” behaal het. Ander liedere wat hy gekomponeer het en sukses behaal het, was “Kom dans Klaradyn”, wat hy saam met dr. CF Visser (Vader Visser) geskryf het, “Sluimer beminde”, “Met ’n mandjie rose” en “Amakeia”, ’n toonsetting van ’n gedig van AG Visser. Sy tweede koorboek, getiteld Lofgesang, met dertien stukke, is in 1958 gepubliseer.
In 1955 het hy as orrelis afgetree en die egpaar het weer na Graaff-Reinet verhuis. Daar het hy ’n onderwyspos by Union High aanvaar en nadat hy daar afgetree het, het hy by die Hoër Volkskool op die dorp skoolgehou. In 1964 het hy finaal afgetree. Tot in 1970 het hy 94 liedere gekomponeer, waarvan 57 gepubliseer is. Dertig van sy liedere is in sy leeftyd op plaat opgeneem en omtrent die helfte daarvan het bekendheid verwerf. Onder sy bekendste gewyde liedere was “Heer U’s my Herder” (gebaseer op Psalm 23) en “Uit al my bande, droefheid en wee”. Hy het ook koorverwerkings van liedere soos “Psalm 25”, “Psalm 146”, “Op berge en in dale” en “Rus my siel, jou God is Koning” die lig laat sien. Daarby het hy verskeie skoolliedere help skryf, onder meer dié van Hoërskool Ermelo, Hoërskool Port Natal, Laerskool Potchefstroom en Hoërskool Clocolan. Sy tweede liefde naas musiek was skilderkuns; hy het meer as 120 skilderye, hoofsaaklik stillewes en blomstudies, gemaak.
Aan die begin van 1978 het hy ernstig siek geword en daar is vasgestel dat hy kanker gehad het. Hy het ’n groot operasie ondergaan en is in die waakeenheid verpleeg. Hoewel hy aanvanklik herstel het, was hy nie weer sy ou self nie en die siekte het hervat. Hy is die oggend van 25 Mei 1979 in die ouderdom van 83 jaar op Graaff-Reinet oorlede.
Daantjie Badenhorst