SAREL FRANCOIS OOSTHUIZEN (1862-1900)

Generaal Sarel Francois Oosthuizen is op die plaas Sterkfontein, noord van Krugersdorp, gebore en het reeds op ’n jong ouderdom begin boer. Hy het rooi hare gehad met ’n welige baard en word bekend as die Rooibul van Krugersdorp. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog was hy deel van die groep wat Pretoria beleër het. Hy het ook aan verskeie veldtogte teen inheemse groepe deelgeneem en was ook aan Boerekant by die Jameson-inval betrokke.

Gedurende 1899 word hy as veldkornet vir Krugersdorp verkies en in Oktober van daardie jaar vertrek hy na Natal in dié kapasiteit. Hy word tydens die Slag van Talana lig gewond. Hy was ook deel van die span wat die trein by Chievely ontspoor het en Winston Churchill gevange geneem het ná die daaropvolgende geveg. Tydens die Slag van Colenso speel hy en sy span ’n vername rol in die verowering van tien kanonne. Sy reputasie word verder versterk met sy handelinge tydens die Slag van Spioenkop.

Gedurende Februarie 1900 word hy tot veggeneraal bevorder. Nadat die Britse magte by Biggarsberg deurgebreek het, word hy en sy span na die suidweste van Transvaal gestuur. Hy staan generaal Koos de la Rey op 29 Mei 1900 by tydens die skermutseling met die Britse magte by Doornkop en speel ’n belangrike rol tydens die Slag van Donkerhoek. Hierna vertrek hy na sy tuisdistrik van Krugersdorp. Op 11 Julie 1900 lei hy sy magte teen die Britse magte tydens die Slag van Dwarsvlei. Hy word gewond en sterf op 14 Augustus 1900.

Oosthuizen was getroud met Susanna Cornelia Hendrika Johanna Alberts. Hulle het drie seuns gehad.

deur Petronel Fourie