SH PELLISSIER (1887-1978)
Dr. SH Pellissier was ’n Suid-Afrikaanse kultuurleier en kerkman wat veral onthou word vir die stigting van die Afrikaanse Volksang en Volkspelebeweging.
Samuel Henri Pellissier is op 10 November 1887 op Bethulie in die Vrystaat gebore. Hy was die kleinseun van eerwaarde Jean Pellissier, die stamvader van die familie wat as sendeling na Suid-Afrika gekom het. Mev. Mabel Jansen (gebore Pellissier), wat met die voormalige goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, dr. EG Jansen getroud was, was sy suster. Sy oupa aan moederskant was ds. Pieter Roux, na wie die dorp Rouxville in die Vrystaat vernoem is.
Hy het tot op elfjarige leeftyd tuisonderrig by sy pa ontvang en toe hy in 1899 vir die eerste keer skoolgegaan het, moes hy daagliks perdry skool toe. Hy was die heel eerste leerling wat ’n junior sertifikaat op Bethulie verwerf het. Hy het in 1905 op Franschhoek gematrikuleer waarna hy ’n jaar lank op die plaas Erfdeel in die Bethulie-distrik skoolgehou het. Van 1907 tot 1910 het hy aan die Grey-universiteitskollege in Bloemfontein gestudeer; in 1909 het hy die BA-graad verwerf en in die volgende jaar die O1-onderwysdiploma. Gedurende 1911 was hy by verskeie eenmanskole in die Vrystaat betrokke en nadat ’n studiebeurs aan hom toegeken is, het hy onderwystoestande in Nederland onder prof. Gunning bestudeer, waarna hy ook in Jena in Duitsland en Naas in Swede was.
Onder sy tydgenote in Franschhoek was ds. PJ Viljoen, latere moderator van die NG Kerk en prof. DB Bosman, wat later die Republiek van Suid-Afrika se gesant in Den Haag geword het. In 1908 was die voormalige Suid-Afrikaanse eerste minister, adv. JG Strijdom, in dieselfde skool.
In 1934 het hy ’n uitgebreide studiereis na die buiteland onderneem en onder meer lande besoek wat op die gebied van volksonderwys navorsing gedoen en gepresteer het. In die Verenigde State van Amerika het hy baie geleer van onderwysadministrasie, buiteskole en die sentralisasie van plaasskole, in Denemarke het hy van volkshoërskole en voortgesette onderwys geleer en in Wallis van tweetaligheid. Sy opvoedkundige beskouinge het berus op die grondslag van die Woord van God en wel volgens die Calvinistiese lewensopvatting met inagneming van die historiese ontwikkeling van die Afrikanervolk. Hy was sterk ten gunste van hervorming solank dit in ’n wesenlike en uitvoerbare behoefte voorsien het en aanvaarbaar en uitvoerbaar was.
Hy was van 1912 tot 1916 visehoof van die hoërskole op Lindley, Ladybrand en Boshof. In 1917 is hy aangestel as hoof van Hoërskool Ficksburg en op 1 Desember 1926 het hy die Direkteur van Onderwys van die Oranje-Vrystaat geword. In hierdie hoedanigheid het hy onderwys deur medium van Afrikaans op ’n vaste grondslag geplaas en ’n deeglike biblioteekstelsel ingevoer. Hy het hom beywer om die Vrystaat onderwysbewus te maak. Hy het talle onderwyskonferensies gereël en skole aangemoedig om kermisse te hou om geld in te samel vir beursfondse sodat plattelandse leerlinge vir hul middelbare onderwys na koshuise op die dorp gebring kan word, asook vir die bou van skoolsale en die aanbied van sangfeeste. Dit het gelei tot ’n ongekende gemeenskapsbetrokkenheid by die onderwys en opvoeding van die jeug. Van 1932 tot 1934 het hy as adjunk-kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) gedien. Hy het tot 1948 Direkteur van Onderwys gebly en daarna het hy voorsitter van die Radioraad van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) geword. Hy het egter nie Suid-Afrikaanse uitsaaiwese na die Nasionale Party of die Afrikaner-Broederbond se sin beheer nie en in 1959 het dr. Piet Meyer hom opgevolg. Hoewel hy toe al ouer as sewentig jaar was, het hy die organiseerder van die lektuurfonds vir swart mense vir die NG Kerk geword.
Toe hy in 1912 in Swede was, het hy vir die eerste keer met die Sweedse volksang en -danse kennis gemaak en besluit om dit na Suid-Afrika te bring. Die rede daarvoor was dat hy opgemerk het dat die Sweedse volk hul spele as ’n trotse kultuurbesitting beskou het terwyl die Afrikaanse spele slegs by boerebyeenkomste op die platteland gedans is. In 1914 was hy adjunkhoof van die Afrikaanse Hoërskool op die Vrystaatse dorp Boshof en hy het besluit om daar met ’n volkspelebeweging te begin. Hy het ’n groep jongmense bymekaar gebring en vier vertaalde danse, naamlik Boemfaderalla, Nikkom-dikkom-dei, Ses wakker meisies in ’n kring en Die vaste band aan hulle voorgedra. Hierdie danse is op 22 Februarie 1914 op die plaas Vuisfontein, ’n paar kilometer noord van Boshof, vertoon en toenemend gewild geword. Die beoefening van hierdie spele het daartoe bygedra dat die eie Afrikaanse spele wat toe reeds bekend was, op ’n meer grasieuse en gedissiplineerde wyse voorgedra is. Hy het ook daarop aangedring dat die volkspele en volksang in die gepaardgaande volksdrag beoefen moes word. Hoewel die leerlinge van Boshof en later Ficksburg die spele op ’n ordelike wyse beoefen het, was daar nog nie genoeg landwye belangstelling om dit op nasionale vlak te bevorder nie. Toe dr. Pellissier egter in 1926 as Direkteur van Onderwys in die Vrystaat aangestel is, kon volkspele die nodige hupstoot kry wat dit onder die aandag van die breër onderwyskorps gebring het. Mej. AM Köhler wat verbonde aan die Normaal-opleidingskollege in Bloemfontein was, het in 1936 en 1937 ’n beperkte aantal spele as deel van die liggaamsoefeningskursus beoefen. Hierdie danse is in daardie jare vir die eerste keer in die program van die lenteskole van Smithfield, Dewetsdorp en Harrismith ingesluit.
Dit was egter die viering van die eeufeesjaar van die Groot Trek in 1938 wat landwye belangstelling in nasionale volksang, volksdrag en volkspele aangewakker het. In 1939 het mej. Köhler nog drie Sweedse danse saam met mej. MEJ Coetzee vertaal, naamlik Meisies en seuns wat kom van die plaas, Ons is musikante en Kom Saartjie laat ons gaan. Die uitgebreide belangstelling van volkspele het daartoe gelei dat daar in 1940 vir die eerste keer ’n groot volkspelekursus in Bloemfontein aangebied is. In 1941 het die eerste handleiding verskyn; dit het belangstelling oor die hele land laat toeneem, met die gevolg dat volkspelelaers oor die hele land in die lewe geroep is. In 1949 het tweeduisend volkspelers aan ’n massavertoning by die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria deelgeneem en tydens die Van Riebeeck-fees in Kaapstad in 1952 is ’n massavertoning gehou waartydens drieduisend volkspelers deelgeneem het. Daarna was volkspele deel van groot feesgeleenthede soos Pretoria se eeufees in 1955, die Uniefees in 1960 en die Republiekfeeste in latere jare.
In 1945 het die Universiteit van Stellenbosch ’n eredoktorsgraad in die opvoedkunde aan hom toegeken vir sy onderskeiding as onderwysman en sy bydrae tot buitemuurse aktiwiteite soos sang, volkspele en spesiale onderwys vir volwassenes in die vorm van lenteskoolkursusse. In 1961 het die FAK die gesogte erepenning vir volksdiens aan hom toegeken. In 1976 het sy vrou Judith (gebore Raubenheimer) wat ’n oudpresident van die Oranje-Vrouevereniging en ’n lid van verskeie kultuurorganisasies was, ’n borsbeeld van hom by die Rooidakskool op Boshof, waar die heel eerste volkspelelaer in 1914 gestig is, onthul. Sy lewenslange vriend, oudpresident CR Swart, het tydens hierdie geleentheid die huldigingsrede gelewer. Hy is op 18 Mei 1978 in die ouderdom van negentig jaar oorlede.
Sy nalatenskap leef voort in die woonbuurt Pellissier in Bloemfontein wat na hom vernoem is, asook verskeie strate wat die name van volkspeleliedjies dra, soos Aanstap rooies, Boerenooientjie, Bruilofslied, Kolperd, Pollenys, Siembamba, Suikerbossie en Tiekiedraai. In Augustus 2008 het ’n student aan die Noordwes-Universiteit, Rozetta de Klerk, ’n skripsie vir haar meestersgraad in musiek, getiteld “Die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging as draer van ’n bepaalde Afrikaner-identiteit” vir haar meestersgraad in musiek voltooi.
deur Daantjie Badenhorst