SIMON VAN DER STEL – KOMMANDEUR VAN 1679-1691 EN GOEWERNEUR VAN 1691-1699
Simon van der Stel het sy dienstermyn as kommandeur op 10 Desember 1679 in die Kaap begin, is op 14 Desember 1691 bevorder tot goewerneur en het hierdie posisie beklee tot sy aftrede in 1699. Voor die aanvang van sy dienstermyn is die kasteel in 1679 voltooi en hy het in die goewerneurskwartiere in die kasteel gewoon tot hy in 1691 na ’n pasvoltooide herehuis op Groot Constantia verhuis het.
Simon van der Stel is op 14 Oktober 1639 gebore, het die eerste paar jaar van sy lewe in Mauritius deurgebring en was die seun van ’n VOC-amptenaar Adriaan van der Stel en Maria Lievens van Indiese of Maleise afkoms. Hy was getroud met Johanna Jacoba Six, die dogter van ’n welgestelde materiaalhandelaar. Hulle het ses kinders gehad. Johanna het nie haar man na die Kaap vergesel toe hy hier aangestel is as bevelvoerder nie. Hulle het mekaar nooit weer gesien nie.
Van der Stel het ’n groot belangstelling in botanie gehad. Van sy tydperk aan die Kaap is dit veral sy impak op die ontwikkeling van wynbou in Suid-Afrika wat uitstaan. Daarom word ook na hom verwys as een van die vaders van Suid-Afrikaanse wynbou. Op sy plaas Groot Constantia, wat in 1685 deur die VOC aan hom toegestaan is as beloning vir goeie diens, is wingerde aangelê en wyn geproduseer.
In sy termyn het infrastruktuur in Stellenbosch, Franschhoek en Drakenstein ontwikkel veral vanweë die aankoms van die Franse Hugenote in 1688. Grense van die kolonie het ook Paarl, Tygerberg en Wagenmakersvallei ingesluit. In 1685 en 1686 onderneem Simon van der Stel ’n ekspedisie na Namakwaland om die area se beweerde koperpotensiaal te ondersoek.
Die dorp Stellenbosch, gestig in 1679, is na Simon van der Stel vernoem, so ook Simonstad en Simonsberg. In 1952 is ook een van die Suid-Afrikaanse vlootskepe na hom vernoem, die SAS Simon van der Stel.
Simon van der Stel het in 1699, na ’n rekord dienstydperk aan die Kaap van 20 jaar, afgetree. Hy is op 24 Junie 1712 op sy plaas Groot Constantia oorlede en in die Groote Kerk in Kaapstad begrawe.
Elizma Smith
