STEPHEN EYSSEN (1890-1981)
Stephen Eyssen was ’n Suid-Afrikaanse komponis wat een van die redaksielede van die oorspronklike FAK-sangbundel was.
Stephen Harry Eyssen is op 23 Mei 1890 op Montagu gebore; sy pa, Johannes Karel Eyssen, was die plaaslike meulenaar wat broodmeel aan die dorp voorsien het. Hy het ook met stoetperde geboer en was op ’n stadium die eienaar van die poskoets wat gereeld die pos op Ashton moes gaan haal. Stephen se liefde vir musiek het uit sy ouerhuis gekom, aangesien sy pa ’n goeie sanger was. Die gesin het gereeld saam musiek gemaak en gesing.
Stephen het eers op Touwsrivier begin skoolgaan en nadat hy in die Paarl gematrikuleer het, het hy hom in Kaapstad as onderwyser bekwaam. Daarna het hy van 1912 tot 1913 aan Selborne College in Oos-Londen onderwys gegee. Van 1914 tot 1917 het hy musiekonderrig in Stellenbosch ontvang waarna hy weer in Oos-Londen onderwys gegee het. In 1920 het hy die BA-graad in tale aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, en die volgende jaar het hy by die Hoër Volkskool in Heidelberg (Gauteng) onderwys begin gee. Hy is in 1934 as hoof van dié skool aangestel.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy in 1941 deur die Smuts-regering na ’n interneringskamp op Koffiefontein in die Vrystaat gestuur sonder dat hy ’n misdryf gepleeg het. Ander bekendes, onder wie die latere Eerste Minister, mnr. John Vorster, is ook hier aangehou. Na dertien maande se plaas-arres is hy in 1942 vrygelaat , maar hy is daarna nog sewe maande lank onder beperking in Pretoria geplaas. Nadat die oorlog in 1945 ten einde geloop het, kon hy sy werk as skoolhoof op Heidelberg hervat.
In 1948 het hy tot die politiek toegetree en die setel van Heidelberg met ’n groot meerderheid vir die Nasionale Party verower. Hy was tien jaar lank Volksraadslid vir Heidelberg. Hy sal egter veral onthou word vir die werk wat hy op die gebied van die Afrikaanse taal en musiek verrig het. Hy het vroeg reeds begin komponeer en in 1920 was hy daarvoor verantwoordelik dat ’n studentegroep vir die eerste keer met ’n uitsluitlik Afrikaanse musiekprogram deur die land getoer het. Hy het in 1914, toe hy ’n student was, die eerste Afrikaanse kunslied, “Segelied”, gekomponeer. Hy was ook die eerste komponis wat gedigte van Afrikaanse digters soos Jan FE Celliers, DF Malherbe en CJ Langenhoven getoonset het. Hoewel Langenhoven sy toonsetting van “Die stem van Suid-Afrika” goedgekeur het, het ML de Villiers se toonsetting Suid-Afrika se nasionale lied geword. Hy het ook musiek vir spesifieke geleenthede gekomponeer; hy het ’n Bybelkantate vir die ingebruikneming van die oorspronklike Afrikaanse Psalm-en-Gesangeboek in 1944 gekomponeer en een van sy ander komposisies, “Ons Boerwording”, is met die amptelike inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 uitgevoer. Een van sy bekendste Afrikaanse komposisies was “Saam met die wa”, wat vir die Simboliese Ossewatrek in 1938 gekomponeer is; daarby het hy ’n aantal skoolliedere gekomponeer.
Hy was ’n redaksielid van die eerste FAK-sangbundel wat in 1937 verskyn het en hy het ’n groot aandeel gehad in die nuwe uitgawe wat in 1961 verskyn het. Hy was dertig jaar lank lid van die musiekkomitee van die FAK, en het belangrike bydraes met betrekking tot die volkspele-beweging gelewer. Hy het hom ook beywer vir die bekendstelling van die werk van Afrikaanse komponiste. Met sy baritonstem het hy gereeld as solis opgetree by die uitvoering van Afrikaanse liedere en klassieke werke. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die FAK het onderskeidelik ’n erepenning en ’n oorkonde aan hom oorhandig. Van 1930 tot 1932 is sy stem opgeneem in opnames van Afrikaanse musiek vir die platemaatskappye Columbia en His Master’s Voice.
Benewens sy bydrae tot die bevordering van musiek was hy ook ’n geesdriftige sportman wat veral lief was vir krieket. Dit het gemaak dat hy hom beywer het vir die gebruik van Afrikaanse sportterme.
Nog ’n bewys van sy rol as kampvegter vir Afrikaans het in 1921 na vore gekom toe hy in die Groote Kerk in Kaapstad getroud is. Die huweliksformulier is op sy aandrang in Afrikaans eerder as Nederlands voorgelees, vier jaar voordat Afrikaans as amptelike taal erken is. Die Kaapstadse koerant The Argus het die volgende dag met snedige kommentaar hierop gereageer deur te wonder of die kerkvaders nie dalk in hul grafte omgedraai het met die aanhoor van “The Cape patios” nie.
Hy is op 11 April 1981 in die ouderdom van negentig jaar oorlede en sy geboortehuis op Montagu is na die vloede wat die dorp in dieselfde jaar getref het, gerestoureer. Dit is op 23 Mei 1981, die dag waarop hy 91 jaar oud sou word, ter ere van sy nagedagtenis oopgestel.
Daantjie Badenhorst