TROMPETTERSDRIF-TORING, DIST. ALBANY

Nouliks elf km van Fraser’s Camp-toring op die oewer van die Visrivier staan Trompettersdrif-toring. Hierdie toring het nie tot die reeks seintorings behoort nie, maar het ’n aparte, uiters interessante geskiedenis.

Trompettersdrif, ongeveer 27 km van die mond van die Visrivier geleë, is na die Hottentot-vrybuiter Hans Trompetter genoem. Dit is een van die oudste en bekendste driwwe deur die Visrivier. Dit was een van die plekke waar lord Charles Somerset in 1817 ’n militêre pos ter uitvoering van sy spoorstelsel laat oprig het. In 1820 het die hoofmag van die Xhosa in sy opmars teen Grahamstad hier deurgetrek, maar dit was in die Sesde Xhosa-oorlog van 1834 dat die toring ’n belangrike rol gespeel het.

Weer eens het ’n groot Xhosa-mag in hierdie omgewing saamgetrek en blanke handelaars het in alleryl na Grahamstad gevlug. Trompettersdrif is deur sir Harry Smith as tydelike hoofkwartier gekies en van hier het hy Xhosaland binnegeval. Om te sorg vir ’n gereelde voedselvoorsiening van Grahamstad na die troepe is onder die beskerming van 40 burgers met die bou van ’n reuse pont by Trompettersdrif begin. Op 6 Maart 1835 het die Xhosa egter onverwags ’n massa-aanval op die drif gedoen. In ’n desperate poging om die trekosse en voorrade te red, is die burgers omsingel. Hulle het vir hulle ’n pad oopgeskiet, maar vyf blankes en vier Hottentotte het gesneuwel. Hul hele kamp, met waens, osse, gereedskap en die halfklaar pont het in die hande van die Xhosa geval. Nouliks drie dae daarna word komdt. Rademeyer met 175 man in die onmiddellike omgewing van dié drif in ’n lokval gelei en vyf van sy manskappe word gedood en sewe gewond.

Na afloop van die oorlog was Trompettersdrif, een van die plekke waar, in ooreenkoms met sir Benjamin D’Urban se verdedigingsplan, die ou vestingwerke deur ’n behoorlike fort vervang is.

Gedurende die Oorlog van die Byl het die digte bosse in die omgewing van Trompettersdrif weer eens aan die Xhosa geleentheid gebied om geslaagde aanvalle op die Britse troepe te doen. In Mei 1846 is ’n troepemag, wat vanaf Peddie op weg was, in die bosse teen die oostelike helling van die rivier aangeval en dit was alleen met groot moeite dat hulle die fort bereik het. Veertien dae daarna is ’n konvooi van 43 waens met voorrade vir Fort Peddie in die bosse naby Trompettersdrif deur die Xhosa gebuit en die soldate wat die konvooi geleide gedoen het, het met moeite die fort bereik.

Die wagtoring is al wat van die ou fort oorgebly het.

(Bronsplaat 1938)

Foto: Terugtog van Trompettersdrif-toring • Illustrated London News — Africana-museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 162-163.