WENA NAUDÉ (1905-1978)
Een van die heel grootste pioniers van die Afrikaanse toneelkuns en een van Paul de Groot se bekendste toerlede was die geliefde aktrise Wena Naudé.
Sy is op oujaarsdag in 1905 te Wakkerstroom gebore en het op Volksrust en Lydenburg skoolgegaan, waarna sy in ’n fietswinkel in Pretoria werksaam was.
In haar vrye tyd het sy spraaklesse by Stephanie Faure geneem en in 1924 die finale eksamen afgelê.
Daarna het sy verdere toneelopleiding by Paul de Groot ontvang by wie se toneelgeselskap sy aangesluit het. In Julie 1925 het hulle ’n toneelreis met Huistoe en in Januarie 1926 met Oorskotjie onderneem.
Sy was onder meer lid van die geselskappe van Hendrik Hanekom en André Huguenet wat met hulle toneelstukke van dorp tot dorp gereis het.
Van die toneelstukke waarin sy gespeel het, is: Huistoe, Oorskotjie, Die Heks, As Mans Huishou, Die Uur van Vergelding, By die Ou Meulstroom, Die Brug op Ons Plaas, Die Wit Perde van Rosmersholm, Die Lewe Wat Ek Jou Gegee Het, Waar Vergiffenis Kon Red, en Op Hoop van Seën.
In 1954 het sy die Erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.
Sy het die rolprent-genre gemaklik gevind en uiters suksesvolle rolle in meer as 30 Suid-Afrikaanse rolprente vertolk.
Die bekendstes hiervan was sekerlik die komiese Tant Ralie-trilogie, maar ander juwele in haar skatkis is Sarie Marais (1947), Hans-die-Skipper, Paul Kruger, 1956 (teenoor Hendrik Hanekom) en As ons twee eers getroud is.
Rolprente soos Kavaliers, Elmo de Witt se Hoor My Lied (teenoor Gé Korsten), Boland, Soekie van Dan Retief, die prettige Dingetjie is Dynamite, Ma Skryf Matriek en Daar Kom Tant Alie sou Wena Naudé vestig as volksbesit en ’n onvergeetlike ikoon van die Afrikaanse rolprentwêreld.
deur Christof Greyling