WILLEM ADRIAAN VAN DER STEL – GOEWERNEUR VAN 1699-1707

Willem Adriaan, gebore in Amsterdam op 24 Augustus 1664, was die oudste seun van Simon van der Stel. Hy was 15 jaar oud toe hy in saam met sy pa na die Kaap gekom het. In die Kaap het hy vir die VOC begin werk as ’n kassier. Na Simon van der Stel se aftrede as Kaapse goewerneur het Willem Adriaan hom opgevolg.

In teenstelling met sy pa wat ’n beheerde landboukolonie voorgestaan het, was Willem Adriaan van der Stel ten gunste van veeboerdery. In November 1699 verken hy ’n area in die omgewing van die huidige Tulbagh en noem dit Land van Waveren, identifiseer die area as geskik vir veeboerdery en reik weilinsensies uit. Die Land van Waveren was die eerste voorpos van die sogenaamde trekboere.

Willem Adriaan se tyd as goewerneur aan die Kaap het op ernstige konflik uitgeloop en hy was baie ongewild. ’n Bepaling aan die Kaap dat VOC-amptenare nie grond mag besit nie, is reeds in Simon van der Stel se tyd nie meer toegepas nie, die meeste amptenare het grond besit. Willem Adriaan het ’n voorliefde vir boerdery gehad en sy plaas Vergelegen uitgebou tot ’n spogplaas met sierlike geboue en talle van die VOC se slawe het op Vergelegen gewerk. Sy voorkeur aandag aan sy boerdery het meegebring dat bestuursake aan die Kaap agterweë gebly het en hy het al minder Kaap toe gekom. In 1701 het die politieke raad slegs sewe keer vergader.

Die Vryburgers kon nie met hulle produkte meeding teen Van der Stel en ander welvarende amptenaar-boere nie. Dit was maar een van die faktore wat bygedra het tot toenemende ontevredenheid met Willem Adriaan van der Stel se leierskap en uiteindelik gelei tot briewe na Batavia, die Here XVII in Nederland en ’n klagskrif wat onder leiding van Adam Tas deur 63 Vryburgers onderteken is.

Van der Stel reageer hierop met dagvaardigings, verhore van Vryburgers, verbanning en opsluiting in die donker gat in die kasteel. Die Here XVII ontbied Willem Adriaan van der Stel na Amsterdam in Oktober 1706 vir ’n ondersoek. Uitspraak is teen hom gelewer, beslag is gelê op sy plaas Vergelegen en hy is in 1707 uit die diens van die VOC ontslaan. Van der Stel is op 11 November 1733 in Lisse, Nederland oorlede.

Elizma Smith