WILLEM EDUARD BOK (1846-1904)
YWERAAR VIR DIE BOERESAAK
Willem Eduard Bok is in 1846 as seun van ’n notaris op die eiland Texel (Nederland) gebore. Hy het deeglike onderwys (veral in tale) in Amsterdam geniet en op agtienjarige leeftyd ’n jaar na Londen gegaan om hom op die studie van Engels toe te Iê. Na sy terugkeer het hy hom in die handel begewe, en in 1876 na Pretoria vertrek.
Spoedig het Bok se bekwaamhede daar aan die lig gekom, en in Mei 1877 het Kruger hom en dr. EJP Jorissen versoek om hom na Engeland te vergesel om daar teen die anneksasie van Transvaal te protesteer. Ook in 1878, hierdie keer saam met Kruger en Joubert, het Bok na Londen gegaan.
Ofskoon hierdie sendings geen sukses opgelewer het nie, het Bok hom vir die Boere-saak bly beywer. Toe MW Pretorius die Transvaalse Volkskomitee in die lewe geroep het, is Bok as sekretaris aangestel. In dieselfde dae is hy deur Jan FE Celliers, die toenmalige uitgewer van De Volksstem en die vader van wyle ons bekende digter, Jan FE Celliers, as subredakteur van daardie blad aangestel. As sekretaris van die Volkskomitee moes Bok al die vergaderings bywoon, en in 1880 het hy op die beroemde volksvergadering van Paardekraal die eed as Staatsekretaris afgelê.
Wat hom in dié dae naam laat verwerf het, was dat hy in 1880 deur die Engelse owerheid in die kantoor van De Volksstem gearresteer is. Hy is van hoogverraad beskuldig, en onder ’n borgtog van £3 000 geplaas. Wel is daar ’n saak teen hom begin, maar gedurende die Eerste Vryheidsoorlog was Bok saam met die Transvaalse voormanne in Heidelberg. Daar het hy en dr. Jorissen administratiewe werksaamhede verrig.
In 1884 is hy weer as Staatsekretaris gekies en het die pos tot 1888 beklee. In daardie jaar het die Volksraad besluit dat die toekomstige Staatsekretaris ’n gepromoveerde regsgeleerde moet wees. Bok het hierdie bevoegdhede nie besit nie, en is deur dr. WJ Leyds vervang.
Aangesien dr. Leyds nog nie die vereiste leeftyd (30 jaar) bereik het nie, het Bok sy werksaamhede tot in Mei 1889 voortgesit. Kort daarna het Bok sy aanstelling as notulehouer van die Transvaalse Uitvoerende Raad ontvang, en as sulks tot Junie 1892 opgetree. Daarna is hy as regeringskommissaris van die gesondheidskomitee van Johannesburg benoem. (Hierdie komitee het in daardie dae die werksaamhede van ’n stadsraad verrig.)
Die Transvaalse regering het, as erkentelikheid vir die werk wat Bok verrig het, hom ’n jaargeld toegeken. Dat sy bekwaamheid in die buiteland erken is, blyk daaruit dat die Franse regering hom die ridderkruis van die Legioen van Eer geskenk het. Tewens was hy in besit van die Portugese kruis van die orde van Villa Viçosa.
In die jare na die Tweede Vryheidsoorlog het Bok se gesondheid vinnig agteruitgegaan, en in 1904 is hy in Jeppestown oorlede. Terwyl die lyk van oudpresident Kruger aan boord van die Nederlandse skip Batavier VI die kus van Suid-Afrika genader het, het een van die getroue dienare van die Boere-staatsman, een van sy oud-luitenante, soos ’n koerant hom genoem het, ontslaap.
In ons land lewe die naam Bok, behalwe in Boksburg, voort. Een van sy seuns, dr. WE Bok, vroeër sekretaris in die kantoor van wyle eerste minister generaal Botha, het later regter geword, terwyl ’n neef van die vroeëre Staatsekretaris ’n skitterende loopbaan as joernalis in Amerika gevolg en ’n groot fortuin verwerf het. Van sy hand het die outobiografie “The Americanisation of Edward Bok” verskyn.
’n Getroue dienaar van Transvaal
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
