WILLEM HELOT – WAARNEMENDE GOEWERNEUR VAN 1711-1714
Willem Helot was ’n sekundes in die Kaap wat waargeneem het as goewerneur ná die afsterwe van Louis van Assenburgh.
Hy het reeds in 1694 na die Kaap gekom en is deur Simon van der Stel in diens geneem, eers tydelik as assistent maar is later permanent aangestel as assistent en hoofklerk. In 1706 was hy sekretaris van die Politieke Raad. Op 9 Junie 1707 is hy bevorder tot assistentkoopman en in April 1710 word hy hoofkoopman en sekundus in die Kaap.
Hy was aan die stuur van sake vanaf 27 Desember 1711 tot 1714 toe die volgende goewerneur gearriveer het, waarna Helot weer die pos van sekundes beklee het. In Mei 1714 word hy egter daarvan aangekla dat hy oneerlik is en sy plig versuim. Hy word geskors en later ontslaan as VOC-amptenaar. In 1715 verlaat hy met sy vrou en kinders die Kaap en keer terug na Nederland.
Tydens sy termyn het die eerste van drie pokke-epidemies die Kaap getref op 13 Februarie 1713 toe ’n verbygaande skip met siek bemanningslede se wasgoed na die slawehuis gestuur is om gewas te word. Weens kontak met besmette klere het die siekte soos ’n veldbrand versprei en baie sterftes in die kolonie veroorsaak.
Willem Helot was twee keer getroud, in 1704 met Christina de Beer, die dogter van ’n Kaapse Vryburger. Hulle het drie dogters gehad. Na haar dood in 1709 is hy op 27 Julie 1710 op Stellenbosch weer met Maria Engelbrecht getroud. Helot is in 1675 gebore in Amsterdam en is ook daar oorlede op 7 November 1749 in die ouderdom van 74 jaar.
Elizma Smith
