WILLEM PETRUS DE VILLIERS (1843-1908)

Willem Petrus de Villiers was ’n predikant van die Nederduits Gereformeerde (NG) kerk, die grondlegger van die NG gemeente Carnarvon in die Noord-Kaap, lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering, taalstryder en kampvegter vir Christelike nasionale onderwys.

Hy is op 10 Januarie 1843 in Paarl gebore en was een van die eerste leerlinge aan Paarl Gimnasium. Daarna was hy een van die eerste studente aan die kweekskool op Stellenbosch waarna hy aan die New College in die Skotse stad Edinburgh gaan studeer het. Op 27 Desember 1867 is hy tot die evangeliebediening beroep maar reeds op 9 Desember het die kerkraad van die NG-gemeente Beaufort-Wes hom beroep. Hy moes dié beroep egter bedank omdat dit onwettig was. Op 13 Januarie 1868 het die kerkraad hom ’n tweede keer beroep, en hierdie keer het hy die beroep aanvaar, ’n jaar en ’n half voor die dood van sy voorganger, ds. Albert Zinn.

Ds. De Villiers se bevestiging op 18 April 1868 het saamgeval met die inwyding van die gemeente se orrel. Die konsulent, ds. Willem Adolph Krige het die wydingsrede in ’n stampvol kerk na aanleiding van Psalm 100 vers 2 uitgespreek, en J.S. de Villiers, ’n broer van ds. De Villiers, wat jare lank ’n orrelis in Paarl was, het spesiaal na Beaufort-Wes gekom om die nuwe orrel te bespeel en die geleentheidskoor te lei. Die volgende oggend is ds. De Villiers in sy amp bevestig. Prof. NJ Hofmeyr van die kweekskool op Stellenbosch het die bevestiging waargeneem met 2 Korintiërs 5 vers 19 en 20 as teksgedeelte en die Sondag het hy sy intreepreek, met Romeine 1 vers 16 as teksgedeelte gelewer. Hy was op daardie stadium 25 jaar oud, en het sy geestelike en administratiewe werk in die gemeente met ywer en geesdrif aangepak. Hy het van die begin af gewerk om die gemeente se geldsake op gesonde voet te kry, en daarvoor het hy op die hulp van die gemeente se finansiële beampte staatgemaak. Vir die eerste keer in die gemeente se bestaan is kerkbasaars en gewyde konserte aangebied, en die gemeente se skuld is met behulp hiervan afbetaal. Daar is ook daartoe oorgegaan om die kerkgebou op te knap, die pastorie van ’n strooidak te voorsien en ’n lykswa aan te skaf. Die kerkraad het egter las gehad van bankhuurders wat versuim het om hul bankgeld te betaal, wat beteken het dat die gemeente etlike ponde skuld gely het. Ds. De Villiers het besluit om hierdie mense ’n les te leer, deurdat mense wat etlike jare lank nie hul huur betaal het nie, die gebruik van hul kerkbanke sou verbeur. Dit het soveel verset uitgelok dat dit die werk van die bankmeester GC Smith tot so ’n mate bemoeilik het dat hy bedank het.

In 1875 is die dorp en gemeente Carnarvon op die plaas Schietfontein gestig, en kort daarna het die dogtergemeente ds. De Villiers beroep. Hy het hom geroepe gevoel om met die bou van ’n nuwe kerk, pastorie, gemeente en dorp te help. Op 5 Julie 1875 het hy sy demissie by die kerkraad op Beaufort-Wes aangevra, en op 16 Augustus het hy sy eervolle ontslag gekry, nadat hy die vorige dag van die gemeente afskeid geneem het. Die kategesekinders het die Sondagmiddag vir hom ’n skryfkis as afskeidsgeskenk gegee en die volgende dag het hy van die skool, wat hy gestig het en waarvoor hy soveel gedoen het, afskeid geneem.

Hy is op 10 April 1908 in die ouderdom van 65 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst