ZACHARIAS WAGENAER (1614-1668)
Zacharias Wagenaer was die tweede kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop; hy het Jan van Riebeeck op 6 Mei 1662 opgevolg toe Van Riebeeck na sy nuwe posisie in Batavia vertrek het.
Wagenaer is op 10 Mei 1614 in die Duitse stad Dresden gebore. Op 19-jarige leeftyd reis hy, met sy ouers se toestemming, na Hamburg maar besef dat dáár geen moontlikheid bestaan dat sy reisplanne ’n werklikheid sou word nie. Hy het toe besluit om na Amsterdam te vertrek, en ’n jaar lank as skrywer in Willem Jansen Blaeu se boekwinkel te werk. Hier het hy sy passie vir skets en teken ontdek. Op 26-jarige leeftyd tree hy in diens van die Hollandse Wes-Indiese Kompanjie (WIC) en op aanbeveling van die boekhandelaar word hy aangestel as soldaat op die Amsterdam, ’n groot oorlogskip op pad na Mauritsstad (vandag Réfice) in Nieu-Holland (Nederlands-Brasilië). Kort na sy aankoms verlaat hy die militêre diens en begin werk as skrywer vir die destydse goewerneur-generaal van Nieu-Holland, Johan Maurits, wat wetenskaplikes en kunstenaars aangemoedig en bevorder het. Gedurende sy verblyf in Brasilië was hy op verskeie ekspedisies, waar hy saam met de Laet en Casparus Barleus aan hul boeke oor Brasilië gewerk het.
Terug in Europa het hy in diens van die VOC getree en is na Batavia verplaas, waar hy met Maria aux Brebis van Hamburg getroud is. Hierna het hy in Formosa (Taiwan) en Kanton (China) gedien, waarna hy benoem is as opperhoof van die VOC se fabriek en handelspos op die mensgemaakte eiland Desjima in die baai van Nagasaki, Japan.
In 1662 is hy na die Kaap oorgeplaas. Hy het ’n heeltemal ander geaardheid as Van Riebeeck gehad; hy was reeds taamlik bejaard, ernstig en nie lus vir harde werk toe hy as kommandeur aangestel is nie. Hy was onbekwaam en daarby ook sieklik. Die volgende gebeurtenisse het onder meer tydens sy ampstermyn in die Kaap plaasgevind: Robbeneiland is in ’n tronk verander, die eerste Nederduits Gereformeerde gemeente is gestig, ’n nedersetting is by Vishoek gevestig en bouwerk aan die Kasteel van Goeie Hoop het ’n aanvang geneem. Kort nadat bouwerk aan die Kasteel begin het, is sy vrou oorlede; sy is in ’n kerkie op die bouterrein begrawe. In 1663 het Wagenaer die kwota drank wat ’n mens uit die kompanjie se magasyn kon kry, na vier kanne wyn en twee kanne brandewyn per maand beperk, hoewel daar uitsonderings vir feesgeleenthede gemaak is.
Hy is op 27 September 1666 deur Cornelius von Qualbergen opgevolg en op 12 Oktober 1668 is hy in die ouderdom van 54 jaar in Amsterdam oorlede, nadat hy eers weer in diens van die VOC was en na die Ryk van Mataram op Java en daarna na Kanton gestuur is. Hy word onthou vir die bedrag geld wat hy in sy testament aan armes aan die Kaap nagelaat het.
deur Daantjie Badenhorst