1 MEI

GEBEURE

1755 – Pokke-epidemie

Teen dié tyd het reeds altesaam 2372 mense aan die Kaap in ’n pokke-epidemie gesterf.

1860 – Pretoria word hoofstad

Pretoria word die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek.

1873 – Eerste telefoonsentrale in Suid-Afrika

Port Elizabeth word die eerste dorp in die land om met ’n telefoonsentrale te spog.

1882 – Hollands in Kaapse Parlement toegelaat

Vanweë Brittanje se verengelsingsbeleid seder 1806, het die Kaaplandse Afrikaners wat daaraan blootgestel is, weldra tot verset gekom. Reeds op 13 Mei 1857 het dr. Tancred ’n versoekskrif van die distrik Albert (Burgersdorp) aan die Wetgewende Vergadering voorgelê waarin versoek is dat lede van die Parlement ook Nederlands in die debatte mag besig. Ruim twintig jaar later skryf Die Patriot ook oor die verkeerde toedrag van sake en verseker dat “so lank as die Parlement in Engels gehou word, sal dit nooit beter gaan nie”. In 1881 het die koerant ’n bondgenoot in die Kaapse Sinode gevind, wat besluit het om petisies te laat teken met die oog op die verkryging van gelyke regte vir Hollands. Duisende handtekeninge word versamel. Op inisiatief van JH Hofmeyr (Onze Jan) het ds. WP de Villiers op 7 Junie 1881 ’n mosie ingedien wat nie tot stemming gebring kon word voordat die Parlement verdaag het nie. In 1882 is verdere versoeke gevolglik gerig. Die hele aangeleentheid het weldra ’n groot politieke twis ontketen – ’n rusie wat met Hollands weinig te doen gehad het en veel met Jan Hofmeyr, premier Scanlen, John X Merriman en ander. Op 30 Maart 1882 het Hofmeyr ’n skitterende pleidooi gelewer. Die saak is deur Saul Solomon verder gevoer. Bo alle verwagting was daar byna geen teenkanting toe die saak finaal voorgelê is nie en op 1 Mei 1882 is die wetsontwerp deur die Laerhuis aangeneem. Op 9 Junie 1882 was dit wet. JG Luttig was die eerste lid wat amptelik in Hollands gepraat het. Lank daarna was daar nog kritiek van Engelstalige kant teen die wetgewing, maar Hollands het onkeerbaar veld gewen. Die een amptelike terrein na die ander het vir Hollands begin oopgaan. Teen 1890 reeds was Hollands in byna elke opsig formeel gelyk met Engels geplaas. Hieruit sou Afrikaans en die Afrikaner weer na vore beur.

1933 – Stig van Spesiale Diensbataljon (SDB)

Hierdie militêre eenheid is op voorstel van kol. sir Pierre van Ryneveld en onder beskerming van Oswald Pirow, Minister van Verdediging, in samewerking met die Departement van Arbeid, gestig om opleiding aan jong mans te verskaf wat as gevolg van die ekonomiese depressie geen geskikte werk kon vind nie. Lt.kol. George E Brink was die stigter en eerste bevelvoerder van die bataljon. Benewens die bataljon op Robertshoogte (vandag Voortrekkerhoogte), is daar in 1934 ook kompanies in Durban en Kaapstad gestig. Persone wat hulle opleiding voltooi het, onder wie baie Afrikanerseuns, is hoofsaaklik deur die Unie-Verdedigingsmag, die Suid-Afrikaanse Spoorweë en die Suid-Afrikaanse Polisie in diens geneem. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 is lede van die Spesiale Diensbataljon na eenhede gestuur wat versterking nodig gehad het, sodat baie van hulle in Oos-Afrika, Abessinië, die Midde-Ooste en Italië aan krygsverrigtinge deelgeneem het. Op 18 Oktober 1946 is die Spesiale Diensbataljon as eenheid van die Unie-Verdedigingsmag ontbind. Die gimnasium van die Suid-Afrikaanse Leër, lugmag en Vloot het egter uit die Spesiale Diensbataljon voortgevloei.

1955 – Trust-Bank gestig

Met die stigting van die Trust-Bank van Afrika Beperk, is ’n Afrikaanse bankinstelling in die lewe geroep wat spoedig sou groei tot een van die “vyf groot” banke in Suid-Afrika. Dit het onteenseglik meegehelp om die aandeel van die Afrikaner in die finansiële wese te help versterk.

GEBOORTES

1859 – Dr. Willem Johannes (WJ) Leyds, prokureur en staatsman († 14 Mei 1940)

Willem Johannes Leyds is in Java gebore. Hy was ’n besonder skrander Nederlander, vir wie ’n blink regsloopbaan voorspel is. Op een van Paul Kruger se besoeke aan Nederland het hy Leyds versoek om die pas geskepte pos van staatsprokureur in die Zuid-Afrikaansche Republiek te aanvaar. Aanvanklik teensinnig, aanvaar hy die betrekking vir drie jaar. Hy word pres. Kruger se regterhand en vertroueling en beklee in sy heelwat langer verblyf in die land onder meer die volgende ampte: staatsprokureur, staatsekretaris en buitengewone gesant van die ZAR in Europa. Hy het hom veral beywer vir die onafhanklikheid van die Republiek, maar het ook ander blywende monumente in Transvaal nagelaat. Hy was onder meer verantwoordelik vir die mynwette van die Republiek en die ontwikkeling van die spoorwegstelsel, en hy het saam met ander Transvaalse hooggeplaastes pres. Kruger oorreed om ’n deel van Oos-Transvaal tot wildreservaat te verklaar. Dit vorm deel van die Krugerwildtuin. Leydsdorp is na hom genoem. Na die oorlog het hy teruggekeer na Nederland, hom aan die openbare lewe onttrek en hom daaraan gewy om die gebeurtenisse voor die oorlog en sy ondervindinge as gesant van die Republiek te boek te stel. Genl. JC Smuts het van hom gesê: “ … die grootste figuur in die Transvaalse geskiedenis na Kruger.”

1882 – Nicolaas Christiaan (Klasie) Havenga, staatsman († 14 Maart 1957)

Nicolaas Christiaan (Klasie) Havenga is op 1 Mei 1882 in die distrik Fauresmith gebore. Na sy opleiding aan die Grey Universiteitskollege tree hy tot die regspraktyk toe. Vir die duur van die Anglo-Boereoorlog tree Havenga as private sekretaris vir genl. JBM Hertzog op. Hul vriendskap het na die oorlog voortgeduur, en Havenga het Hertzog se politieke vertroueling in die jare hierna geword. Havenga se eerste toetrede tot die aktiewe politiek was as LPR vir Fauresmith (1910 tot 1915) en LUK van die OVS. In 1915 word hy tot LV vir Fauresmith verkies, en hy dien as sodanig tot 1940. Van 1948 tot 1954 het hy die kiesafdeling Ladybrand in die Volksraad verteenwoordig. In die Hertzog-regering het hy die portefeulje Minister van Finansies van 1924 tot 1939 beklee, en daarna weer in dr. DF Malan se Kabinet, en wel van 1948 tot 1954. Na die oorlogsverklaring van 1939 en die mislukte herenigingspogings tussen die Hertzog-groep en die “gesuiwerde” Nasionale Party van dr. Malan, skei NC Havenga saam met genl. Hertzog af en stig die Afrikanerparty. As ’n leier het Havenga ’n sentrale rol in die Afrikanerparty gespeel, en veral ten opsigte van ’n gematigde nasionalisme, wat die party sterk gepropageer het. Met die algemene verkiesing van 1948, het die Herenigde Nasionale Party van DF Malan en die Afrikanerparty kragte gesnoer. In 1951 het die twee partye onder die ou naam, die Nasionale Party, saamgesmelt. In 1954 het Havenga hom aan die aktiewe politiek onttrek.

 

STERFTES

1938 – Frederick William (FW) Beyers, regsgeleerde en politikus (* 15 Oktober 1867)

Frederick William Beyers was ’n juris, prokureur, regter en politikus van Suid-Afrika, ’n lid van die Transvaalse senaat (1907-1910), opeenvolgende prokureur-generaal van Transvaal (1911-1914) en die Kaapse provinsie (1914-1918), parlementslid (1918-1929), lid van die Nasionale Party en Minister van myne en nywerheid van 1924 tot 1929 in die eerste Hertzog-regering. Na sy regstudies aan die Universiteit van Kaapstad het FW Beyers ’n juris en prokureur geword in Johannesburg en in Kaapstad. Beyers is in 1907 verkies tot die Wetgewende Vergadering van Transvaal. Na die stigting van die Unie van Suid-Afrika word hy in 1911 tot prokureur-generaal van die provinsie Transvaal aangestel en daarna in 1914 dieselfde pos in die Kaapprovinsie. In 1918 word hy verkies tot die laerhuis van die Suid-Afrikaanse parlement in die verkiesingsdistrik Edenburg. Hy was toe ’n lid van die Nasionale Party van James Barry Hertzog. In 1924 sluit hy by die Hertzog-regering aan as minister van myne en nywerheid. In hierdie pos het hy in Suid-Afrika wetgewing ingestel wat die industrie-diamant reguleer. Hy het om gesondheidsredes nie in 1929 die verkiesing betree nie en het uit die politiek getree. Hy werk as appèlregter, aangestel deur die regering in 1931 tot met sy aftrede in 1937. In hierdie posisie was hy die eerste om sy uitspraak in Afrikaans eerder as Engels te skryf. Op 70-jarige ouderdom het hy probeer terugkeer na die politiek en het in 1938 in die wetgewende distrik Fauresmith sonder sukses teen Nicolaas Havenga, die destydse Minister van Finansies van Suid-Afrika, te staan gekom.

1983 – Leon Maré, skrywer en Hertzogpryswenner vir prosa (* 14 September 1889)

Hy is op Pietersburg gebore. Na ’n gebrekkige skoolopleiding het hy staatsamptenaar geword. Die Tweede Vryheidsoorlog het ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak en met ’n gees van vaderlandsliefde besiel. Maré het sy beste werk in sy eerste twee bundels gelewer. Hulle was die realistiese Die nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918) en die deernisvolle Die Putgrawer (1919). Hy het die Hertzogprys vir sy werk Ou Malkop (1919) in dieselfde jaar verower. Leon Maré was ook ’n gebore skilder, met ’n skerp oog vir die uiterlike werklikheid, waarvan hy fyn trekkies opmerk en impressionisties weergee.

2007 – Emgee Pretorius, Afrikaanse akteur (* 30 November 1923)

Emgee Pretorius was ’n legendariese akteur wat hom op die verhoog, in rolprente en op televisie onderskei het.

Hy het sy debuut in 1946 in die rolprent 𝘋𝘪𝘦 𝘸𝘪𝘭𝘥𝘴𝘣𝘰𝘶𝘥𝘫𝘪𝘦 gemaak, waarna hy hom by André Huegenet se toneelgeselskap aangesluit het. Hy was van 1948 tot 1952 verbonde aan Suid-Afrika se Nasionale Teater, maar hy het die vermaaklikheidswêreld daarna verlaat.

Met die koms van televisie het hy egter weer tot die bedryf toegetree, en een van sy eerste televisierolle was in die trefferreeks 𝘕𝘰𝘮𝘮𝘦𝘳 𝘢𝘴𝘴𝘦𝘣𝘭𝘪𝘦𝘧. Later het hy die rol van Priester in die gewilde reeks 𝘝𝘺𝘧𝘴𝘵𝘦𝘳 vertolk. Verder was hy in reekse soos 𝘚𝘵𝘦𝘳𝘳𝘦𝘵𝘫𝘪𝘦, 𝘎𝘳𝘰𝘯𝘥𝘣𝘢𝘳𝘰𝘯𝘯𝘦 en 𝘏𝘦𝘵 𝘷𝘢𝘯 𝘝𝘦𝘳𝘭𝘢𝘯𝘨𝘦𝘬𝘳𝘢𝘢𝘭 te sien. Die een reeks waarvoor mense hom egter altyd sal onthou, was dié van Veldsman in 𝘒𝘰𝘰̈𝘱𝘦𝘳𝘢𝘴𝘪𝘦𝘴𝘵𝘰𝘳𝘪𝘦𝘴, waarin Jacques Loots en Marie Pentz teenoor hom gespeel het. Benewens sy televisierolle was hy ook in rolprente soos 𝘈 𝘤𝘢𝘴𝘦 𝘰𝘧 𝘮𝘶𝘳𝘥𝘦𝘳 en 𝘚𝘵𝘢𝘯𝘥𝘦𝘳 te sien.

Hy is op 1 Mei 2007 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.

2017 – Karel Schoeman, Afrikaanse skrywer (* 26 Oktober 1939)

Karel Schoeman was ’n Afrikaanse skrywer, vertaler en historikus.

Nadat hy in 1956 aan die Hoër Jongenskool in die Paarl gematrikuleer het, het hy taalkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer en sy BA-graad in 1959 behaal. In dieselfde jaar het hy die Rooms-Katolieke geloof aangeneem en aan die Rooms-Katolieke Seminarium St. John Vianney in Pretoria gaan studeer, waarna hy in 1961 tot die orde van die Fransiskane in Ierland toegetree het. Na drie jaar se novisitaat in die kloosters van Killarney en Gilwald het hy besluit om nie sy gelofte as priester af te lê nie. Hy het in 1964 na Bloemfontein teruggekeer en die Hoër Diploma in Biblioteekkunde behaal.

Hy het van tyd tot tyd in die buiteland gewoon en nadat hy aanvanklik ’n broeder in die Fransiskane-klooster in Ierland was, het hy eers in Amsterdam en daarna in Kreta gaan woon. Later het hy in die Skotse stad Glasgow as verpleër gewerk. Hoewel hy hoofsaaklik as prosaïs bekendheid verwerf het, het hy dramas soos 𝘖𝘰𝘮 𝘞𝘢𝘯𝘫𝘢 van Tschekov en 𝘔𝘢𝘳𝘪𝘢 𝘚𝘵𝘶𝘢𝘳𝘵 van Schiller in Afrikaans vertaal. Daarby het hy ’n aantal biografieë, onder meer oor die skrywer Olive Schreiner se lewe, geskryf. In 1999 het oud-president Nelson Mandela die Orde van Voortreflike Diens aan hom toegeken.

Hy is op 1 Mei 2017 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

https://www.geni.com/people