HENSOPPERS EN JOINERS

“Het ek hom maar liewer doodgeskiet”, het genl. De Wet gesê toe hy verneem het dat sy jonger broer, genl. Piet de Wet, en ses lede van sy staf, onder andere sy stafoffisier, Thomas Craven, op 24 Julie 1900 met die Britte onderhandel en op 26 Julie oorgegee het. Tot sy broer se verbittering het Piet de Wet daarna tot die Britse militêre diens toegetree. Genl. De Wet kon nooit oorgehaal word om hom met sy broer te versoen nie.

Om die oorlog te beëindig, het die Britte gebruik gemaak van verloopte Afrikaners wat hul volksgenote moes oortuig om oor te gee. Chamberlain het dit in Desember 1900 voorgestel en Kitchener het dit aanvaar. In Januarie 1901 het ’n paar Boere die burgers gaan probeer oortuig. Onder hulle was die 81-jarige oudpres. MW Pretorius, wat meermale deur ander misbruik is. Hy was saam met M de Kock by die kommando van genl. Ben Viljoen. Viljoen het Pretorius weens sy hoë ouderdom en agting vir sy persoon teruggestuur. De Kock is later gevang en gefusilleer.

Wapenneerlêers, of hensoppers, en veral Boere wat in diens van die Britte was, national scouts of joiners, het groot bitterheid veroorsaak. Teen die einde van die oorlog was daar sowat 4000 joiners. Omdat die joiners so goed met hul eie mense se krygstaktiek op die hoogte was, kon hulle die Britte help om teenmaatreëls te tref. Dit was húlle wat die Britte geleer het om nagtelike aanvalle op slapende kommando’s te doen. Joiners het dikwels as bewakers van konvooie opgetree omdat hulle makliker as die Britse soldate met die diere kon werk. Dikwels het joiners wreed opgetree teen Boervroue en kinders wat hulle na die kampe weggevoer het. In die Winburg-omgewing het joiners en gewapende swart mans onder OM Bergh huise afgebrand en vroue en kinders gemolesteer.

AM Grundlingh behandel in Die “hendsoppers” en “joiners” die rol en optrede van hierdie mense. Baie was bywoners of ander armes wat maklik omgekoop of gemanipuleer kon word om in Britse diens te tree. Hulle het hul optrede probeer verskoon met mooi rasionaliserings. Een van hulle het lank ná die vrede gesê dat hy aangesluit het om die oorlog tot ’n einde te help bring. “Dit was uit liefde vir my land. Ek was ’n ware patriot gewees.”

Bekende leiers van die joinerkorpse was Piet de Wet, SG Vilonel (kyk by 29 Junie), APJ Cronjé en JG Celliers. In Transvaal was genl. Andries Cronjé, broer van genl. Piet Cronjé, die vernaamste joinerleier. Hy en 150 manskappe het op 14 Junie 1900 oorgegee, en enkele maande daarna met die Britte begin saamwerk. Celliers (wat nie verwar moet word met die digter Jan FE Celliers, genl. J Celliers van die Vrystaat of genl. JG Celliers van Lichtenburg nie) was dapper, maar roekeloos en ’n misdadiger. Hy is in 1891 tot twee jaar tronkstraf weens strafbare manslag gevonnis, en ook die Britte het hom nie vertrou nie. ’n Regsgeleerde, Albert Blake, beskryf die lot van sommige joiners in Boereverraaier. Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog.

Pres. Steyn het eenmaal ’n joiner begenadig omdat daar soveel verskil in die krygsdaad oor hom was. Daarna het hy weer verraad gepleeg. Ná die oorlog was die joiners sosiale uitgeworpenes en hul dade is dekades lank onthou.