12 NOVEMBER
GEBEURE
1837 – Retief se dogter verf sy geboortedatum op die rots by Kerkenberg
1839 – Slag by Kapain
In ’n strafekspedisie teen Silkaats en die se Matebelestam op 17 Januarie 1837, onder leiding van Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz, is die Matebeles ’n vernietigende nederlaag toegedien by Mosega. Potgieter wou dit opvolg met ’n tweede ekspedisie teen Silkaats. Die ekspedisie het egter eers in November 1839 ’n werklikheid geword, toe Potgieter en Piet Uys met ongeveer 360 man die Matebeles aangedurf het. Hierdie Slag by Kapain het op 4 November 1839 begin en eers nege dae later, op Sondag 12 November 1839 by Kapain geëindig, waar Silkaats se mag finaal gebreek is. Met hierdie nederlaag van Silkaats het Potgieter sy oogmerk verwesenlik, naamlik om Transvaal vir die blanke inwoners te beveilig.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Kraalbospan
Die mees suidelike stryd word op Kraalbospan, naby Darling, Wes-Kaap geveg, met genl. Manie Maritz wat die Boere lei.
1907 – ’n Kind sterf nadat hy deur ’n trem getref is
Die Kimberley-tremnetwerk het ongeveer vir 60 jaar tot die laat veertigerjare deel van die openbare vervoerstelsel in Kimberley, Noord-Kaap, gevorm. Die stelsel het op 21 Junie 1887 met perdekarre begin. Donkies het die perde in die vroeë 1890’s vervang. Die eerste dag van openbare diens vir elektriese trems was 25 April 1905. Op 12 November 1907 het ’n tragiese ongeluk op die Barkly-pad se tremlynroete in Kimberley plaasgevind toe ’n kind dood is nadat hy deur ’n trem getref is.
1914 – Afrikanerrebellie
Louis Botha se regeringsmagte bereik Mushroom Valley met dagbreek en val aan terwyl die meeste rebelle nog lê en slaap. Die rebelle word in ’n kort geveg verslaan en verstrooi. Aan regeringskant sneuwel ses man, aan rebellekant 22 man, en tussen 500 en 600 word gevange geneem.
Jan Smuts telegrafeer aan president MT Steyn dat hy nie kans sien om aan Christiaan Beyers vrygeleide te verskaf om met Christiaan de Wet samesprekings te voer nie, omdat hy geen verwagting gehad het dat De Wet werklik in ’n skikking belanggestel het nie.
Die Unieregering reik ’n proklamasie uit waarin amnestie aan opstandelinge wat voor 21 November die wapen neerlê, belowe word, maar terselfdertyd met streng optrede teen opstandelinge wat na daardie datum steeds rebelleer, gedreig word. Binne die volgende nege dae het verskeie groepies opstandelinge hulleself oorgegee en begin die rebellie verbrokkel.
1914 – CR de Wet se verpletterende nederlaag
Die Rebellie-leier, genl. Christiaan de Wet ly ’n verpletterende nederlaag deur regeringsmagte by Winburg, Vrystaat.
2005 – Pretoria vier 150 jaar
Die 150ste viering van die stigting van Pretoria (op 16 November 1855) word gevier deur meer as 7000 hoofsaaklik Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.
GEBOORTES
1780 – Pieter Mauritz (Piet) Retief, Voortrekkerleier († 6 Februarie 1838)
Piet Retief is in die Wamakersvallei, te Wellington, gebore. Hy het sy skoolonderrig daar ontvang, asook homself goed in die skryfkuns bemeester. Afgesien van vele grondtransaksies en verskeie ander ondernemings wat Piet Retief finansieel ten gronde gebring het, het sy persoonlikheid hom vroeg reeds as ’n gerespekteerde leier na vore laat tree. In 1812 is hy as kommandant aangestel, en van 1822 beklee hy die regeringspos van veldkommandant aan die Oos-Kaap. Aan die Oosgrens het Retief die probleme met die regering se grensbeleid ervaar en het hy as voorspraak vir die grensboere opgetree. Telkens kom hy in botsing met die owerheid, sodat hy in 1824 onthef word van sy kommandantspos, maar weer in 1834 as kommandant aangestel is. Hy was die onbetwiste leier vir die grensboere. Op 17 April 1837 is Piet Retief tot goewerneur en Maritz tot magistraat verkies. Een van Retief se leierstake was die bepaling van die Trekkers se eindbestemming. Sy keuse was Natal, en Maritz en P. Uys het hom gesteun. Retief het ook onderhandelinge aangegaan met Dingaan. Die tweede besoek aan Dingaan om die ooreenkoms van die vestigingsgebied wettig te maak, was egter vir die Voortrekkerleier en ongeveer honderd van sy mense ’n tragiese lewenseinde. Na die ondertekening het Dingaan se krygers die Retief “geselskap” by die kraal op 6 Februarie 1838 wreed vermoor. Retief se bydrae tot die Afrikaner se vryheidstryd bly tot vandag toe nog onuitwisbaar.
1903 – Prof. Gabriël Stefanus (GS) Nienaber, letterkundige, kritikus en akademikus († 10 Desember 1994)
GS Nienaber was ’n Afrikaanse taalkundige en broer van die bekende letterkundiges P.J. Nienaber en C.J.M. Nienaber. Sy belangrikste bydrae is op die gebied van die taalgeskiedenis, en lewer verskeie belangrike werke in hierdie genre. Hy skryf fiksie onder die skuilnaam André Marais.
1950 – Johan van der Merwe, Afrikaanse akteur († 31 Julie 2012)
STERFTES
2000 – Christo Coetzee, skilder (* 24 Maart 1929)
Christo Coetzee was ’n Suid-Afrikaanse skilder, ’n assemblage- en neobarokkunstenaar en ’n belangrike verteenwoordiger van die avant garde-bewegings van Europa en Japan gedurende die 1950’s en 1960’s. Hy ontwikkel sy oeuvre onder die invloed van kunsteoretikus Michel Tapié, kunshandelaar Rodolphe Stadler, kunsversamelaar en fotograaf Anthony Denney, en die Gutai-groep van Japan. Ander kunstenaars wat veral sterk deur Tapié se Un Art Autre (1952) beïnvloed is, sluit in Georges Mathieu, Wols, Jean Dubuffet, Jean Fautrier, Hans Hartung, Pierre Soulages, Antoni Tàpies, en Lucio Fontana.
2002 – Johannes Kerkorrel, joernalis en musikant (* 27 Maart 1960)
Johannes Kerkorrel het die alternatiewe Afrikaanse beweging tot stand gebring het en was ook die eerste kunstenaar wat musiek met ’n politieke boodskap gewild gemaak het. Ralph John Rabie is op 27 Maart 1960 gebore en het aanvanklik as joernalis by 𝘙𝘢𝘱𝘱𝘰𝘳𝘵 gewerk. Hy het egter in groot moeilikheid by sy werkgewer beland toe hy toesprake van oud-president PW Botha in sy musiek gebruik het. Daar is ’n ultimatum aan hom gestel, bedank of word afgedank. Hy het bedank. In 1988 het hy en sy orkes, Die Gereformeerde Blues Band, hul album 𝘌𝘦𝘵 𝘬𝘳𝘦𝘦𝘧 vrygestel. Met die uitsondering van twee of drie snitte is die album verbied weens vuil taal en Godslasterlike lirieke maar hy het geweier om stilgemaak te word en musiek van ander kunstenaars wat ’n soortgelyke boodskap oorgedra het, is vrygestel. Sy latere musiek was meer radiovriendelik en hy het selfs sy felste kritici oorgehaal met sy vertolking van die volksliedjie “Al lê die berge nog so blou”. Op 12 November 2002 het hy sy eie lewe geneem.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.