14 JULIE
GEBEURE
1789 – Bastilledag
Bastilledag, La Féte Nationale, is Frankryk se Nasionale dag wat elke jaar op 14 Julie gevier word. Dit herdenk die 1789 bestorming van die Bastille om politieke gevangenes te bevry. Die Bastille was ’n fort en wapen-opslagplek waar groot hoeveelhede ammunisie en buskruit geberg is. Dit het gebeur toe Parysenaars gevrees het dat hulle deur soldate of buitelandse regimente aangeval sou word in wat beskou word as die draaipunt in die Franse Rewolusie. Volgens geskiedskrywers was daar tydens die bestorming slegs sewe aangehoudenes waarvan net een van belang was. Volgens amptelike dokumente is sowat 200 aanvallers en net een soldaat in die geveg by die Bastille dood, hoewel nog agt mense in daaropvolgende gevegte omgekom het. Een van hulle was ’n soort van Paryse burgemeester van daardie tyd.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Pres. Steyn groet sy familie
Pres. MT Steyn van die OVS verlaat sy vrou en vier kinders in Fouriesburg, om eers ná die oorlog herenig te word. Die Vrystaatse regering het hulself ook vanaf hierdie dag nie meer amptelik verbind tot ’n hoofstad nie. In kort was die hoofstad gesetel waar ook al die lede van die regering hulself bevind het.
1916 – Eerste Wêreldoorlog: Slag van Delvillebos
Die Slag van Delvillebos begin en 121 offisiere en 2032 manskappe van die SA Brigade sneuwel.
GEBOORTES
1891 – Stephanus Petrus Erasmus (SPE) Boshoff, taalkundige en skrywer († 30 April 1973)
SPE Boshoff was ’n bekroonde akademikus, skrywer en taalpatriot. Hy het deur sy lang openbare loopbaan diep spore in die Afrikaanse volkslewe op kulturele, opvoedkundige en taalkundige gebied getrap.
1893 – Adv. Johannes Gerhardus (JG) Strijdom, politikus en staatsman, Eerste Minister van Suid-Afrika († 24 Augustus 1958)
Hans Strijdom was Suid-Afrika se vyfde eerste minister en die derde premier wat behoort het tot die Nasionale Party ná genl. JBM Hertzog en dr. DF Malan. Hy was, ná genl. Louis Botha, premier van 1910 tot 1919, die tweede eerste minister wat in die amp oorlede is. Die derde en enigste ander was dr. Hendrik Verwoerd, Strijdom se opvolger.
1934 – Pieter Georg du Plessis, skrywer, dramaturg en akademikus († 7 Junie 2017)
PG du Plessis was ’n skrywer, dramaturg en akademikus. Hy lewer ’n groot verskeidenheid skryfwerk, met ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse drama. Sy rubrieke wat gedurende sy loopbaan as joernalis gepubliseer is, het later uitgeloop op die TV-reeks Koöperasiestories. Sy roman Fees van die Ongenooides (2008) is wyd vereer as een van die beste Afrikaanse letterkundige werke tot op hede.
STERFTES
1888 – Johannes Hendricus (Jan) Brand, vierde President van die Oranje-Vrystaat (* 6 Desember 1823)
Johannes Hendricus Brand is op hierdie dag in Kaapstad gebore. Hy was advokaat, politikus en Staatspresident van die Oranje-Vrystaat, waartoe hy op 2 Februarie 1864 ingehuldig en vier keer herkies is. Hy is die vader van die slagspreuk: “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” As diplomaat het hy volhardend die goeie saak van die Vrystaat probeer bevorder, die ekonomie probeer versterk, sy burgers te velde in die Basoeto-oorloë bygestaan en bemoedig, die diamantkwessie versigtig en korrek gehanteer, konsuls in Europa en die VSA aangestel en voordelige traktate van handel en vriendskap met verskeie Europese state gesluit. Op sy standbeeld in Bloemfontein staan die woorde: “Vader des Volks”, wat die betekenis van sy lang presidentskap opsom. Hy was ’n fynbeskaafde leier, bedeeld met groot wysheid, ’n geliefde gesinsman, gasvry en van Christelike wandel. Hy is in die amp van die Staatspresident op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. Brand het ’n geslag waardige Afrikaners verteenwoordig wat deur die jare heen die beste vir hulle eie mense vanuit ’n eie sterk posisie gelewer het.
1904 – Stephanus Johannes Paulus (Paul) Kruger, President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (* 10 Oktober 1825)
Paul Kruger, ook bekend as Oom Paul, was die laaste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Hy is in die distrik Steynsburg in die Kaapkolonie gebore en het as jong seun saam met sy ouers aan die Groot Trek deelgeneem. Hy is op vyftienjarige ouderdom as ’n burger erken; twee jaar later is hy die eerste keer getroud en hy het hom op die plaas Waterkloof in die Rustenburg-omgewing gaan vestig. Tydens een van sy jagtogte het hy per abuis sy duim afgesny. Hy was ’n sterk voorstander van die Gereformeerde Kerk en was sy lewe lank ’n lekeprediker van dié kerk.
In 1846 het Kruger as waarnemende veldkornet aan Andries Hendrik Potgieter se ekspedisie teen die Bapedi-hoof Sekwati deelgeneem. Teen 1851 het hy veldkornet van die distrik geword. Sy pligte het nie net militêre organisasie en leiding ingesluit nie, maar ook kleiner regsprekende en administratiewe aangeleenthede. Hy het ’n belangstelling in die politiek begin toon en in 1850 ’n versoekskrif aan die Volksraad opgestel en laat onderteken; hierin is beswaar gemaak teen die aanstelling van ’n militêre owerste in vredestyd. In die twis wat tussen Potgieter en Andries Pretorius ontstaan het, het hy Pretorius se kant gekies omdat geglo het dat slegs Pretorius eenheid in Transvaal kon bewerkstellig.
In Januarie 1852 het hy Pretorius vergesel na die ontmoeting by die Sandrivier, waar die Sandrivier-konvensie tussen Brittanje en die Trekker-republiek onderteken is. In 1855 is Kruger aangestel as lid van die Volksraadskommissie wat onder leiding van Jacobus Stuart van Nederland ’n grondwet vir Transvaal moes opstel. Die grondwet is in Januarie 1857 voltooi en op 6 Januarie 1857 het die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) met die hysing van die Vierkleur in Potchefstroom tot stand gekom.
In 1880 is hy as onderpresident van die ZAR verkies as deel van die Driemanskap wat ook uit genl. Piet Joubert en pres. Marthinus Wessel Pretorius, die seun van Andries Pretorius, bestaan het. Hulle is aangestel om die republiek te bestuur nadat Brittanje dit geannekseer is. In 1883 is Kruger tot ZAR-president verkies toe hy in ’n verkiesing teen Joubert te staan gekom het. Op 9 Mei 1883 is hy as president ingehuldig. Met die ontdekking van goud aan die Witwatersrand en by Barberton en die geweldige instroming van immigrante het hy voor die grootste uitdaging van sy lewe te staan gekom, naamlik die versoening van die Boere met die immigrante. Met die Jameson-inval teen die einde van 1895 het Cecil John Rhodes, Lord Alfred Milner en Joseph Chamberlain daarop aangedring dat buitelanders stemreg moes kry. Kruger het egter geweier omdat hy geweet het dat die buitelanders die burgers in getalle sou oortref. Met die presidentsverkiesings van 1888 en 1893 het Kruger weer ’n meerderheid behaal, maar in laasgenoemde verkiesing, waarin hy teen Joubert te staan gekom het, was sy meerderheid kleiner.
In 1898 is hy tot president herkies maar die Anglo-Boereoorlog het op 11 Oktober die volgende jaar uitgebreek. Hy was toe reeds ouer as 74 en sy gesondheid het begin verswak; daarom kon hy nie self in die veld gaan nie, maar hy het verskeie besoeke aan die kommando’s gebring. Op 19 Oktober 1900 het hy met die oorlogskip Gelderland, wat Koningin Wilhelmina van Nederland na Lourenço Marques gestuur het, na Europa, waar hy vir die res van sy lewe in ballingskap gewoon het. Hy is op 14 Julie 1904 in Clarens in Switserland oorlede.
Sy nalatenskap leef voort; die voorstad Gezina in Pretoria is na sy tweede vrou vernoem en die woongebied Mamelodi oos van Pretoria is afgelei van die bynaam, wat “fluitman” beteken , wat die swart bevolking aan hom gegee het omdat hy gedurig gefluit het. Die Kruger-standbeeld staan van 1954 af op Kerkplein in Pretoria en verskeie ander beelde is ter nagedagtenis aan hom opgerig.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.