
14 MAART – VOORBEREIDINGS VIR DIE TREK
Hoeveel mense het aan die trek deelgeneem? Die gesaghebbende antwoord hierop kom van Jan Visagie in sy Voortrekkerstamouers 1835–1845. Tussen dié twee jaartalle het 2540 gesinne aan die trek deelgeneem – sowat 17 000 wit mense. (Hy skat die gemiddelde gesin op ses tot sewe mense.) Daarby moet ’n mens enkellopendes en grootouers, asook werksmense, tel, wat die aantal op sowat 23 000 bring. Visagie noem 26 trekleiers en die getal gesinne waarvan hulle die leier was. Van hulle was die trek van Hendrik Potgieter (en Sarel Cilliers) die grootste met 158 gesinne, dan Piet Retief met 139. Hy meld ook die distrikte waaruit hulle gekom het en die getal gesinne: onder meer Somerset-Oos, met Cradock daarby (951) Graaff-Reinet met Colesberg daarby (409), Uitenhage (374), Beaufort-Wes (270), Swellendam (184) en nog ’n hele paar distrikte, tot selfs 4 uit Stellenbosch en 2 uit Franschhoek. Mens moet wel onthou dat die distriksgrense anders was as tans.
Die meeste trekkers het uit vrees vir maatreëls van die Britse bewind in die geheim vertrek. Plase en huisraad is op vendusies verkoop, maar omdat soveel grond tegelyk op die mark gekom het, was die pryse belaglik laag. Spekulateurs het boere soms aangemoedig om te trek sodat hulle goeie grond goedkoop in die hande kon kry.
Volgens Op trek (’n werk deur J Celestine Pretorius, redakteur, André Malan, Alana Bailey, Sandra Saayman, HS (Tia) Hugo en JF (Joey) Wilmans, waaruit gegewens vir die volgende vyf stukke oorgeneem is), was die ossewaens 3,6 tot 4,5 meter lank, en 80 tot 100 cm breed. Omdat die waens hout-asse gehad het, was die gemiddelde vrag van 1600 tot 1800 kg. Die onderdele kon onafhanklik van mekaar beweeg, wat verhoed het dat die wa breek as dit oor ’n groot rots of miershoop gery of in ’n diep gat beland het. Die waens kon ook uitmekaar gehaal word om oor ’n hoë berg of groot rivier te vervoer. Om die houtwerk te beskerm, is die waens geverf – buite gewoonlik donkergroen, binne dikwels blou. Kenmerkend van die wa was verder die kakebeenvorm, die wiele in kommetjievorm (omdat hulle sterker was as die gewone regaf wiel) en die kaptent van bamboesstokke of bondels latte waaroor ’n seildoek geplaas is wat met byewas of olie behandel is om dit waterdig te maak. Wanneer deur digte bosse of doringbome getrek is, is wildsvelle oor die tentkap vasgemaak om skeure te voorkom. Die wakis op die buikplank was sit- én bêreplek.
Weens die min plek is baie goed in die Kolonie agtergelaat. Gewoonlik is ’n katel op die wa vasgemaak met rieme wat oorkruis gespan is. Voorrade en opvoubare meubels is rondom gerangskik. Op die waens was verder klere, komberse en ander beddegoed, meel en onbederfbare kos soos biltong, beskuit en droë vrugte, daarby seep, kerse, leerware soos skoene en swepe, ekstra onderdele vir die waens, en lood en kruit om mee te skiet. Die meeste het met meer as 135 kg kruit die reis aangepak. Omdat die Britse regering die Trekkers nie wou toelaat om met skietgoed die land te verlaat nie, en Engelse patrollies die waens tot by die Oranje laat visenteer het, moes smokkelplanne bedink word. Waens het soms twee buikplanke gehad. Die boonste was 15 cm bokant die onderste, en tussen die twee is lood en kruit weggesteek. Soms is die ammunisie, in bokvelsakke toegewerk, met ’n betroubare persoon vooruit gestuur, wat dit langs die pad begrawe het. Een keer het ’n vrou ’n patrollie bemerk, hul sak kruit tot by die kampvuur gesleep, ’n velkombers oorgegooi en bo-op gaan sit. So het sy die kruit gered, hoewel dit maklik kon ontplof.
Saam met die waens was vrygestelde slawe, maar sommige het weggeloop. Die oudslawe was dikwels saam met die wit mense slagoffers van aanvalle. Verder het die trekkers hul diere saamgeneem – nie net beeste, bokke en skape nie, maar ook honde, katte, hoenders en eende. Die Tregardts is soggens deur hanekraai gewek. Hans de Lange het ’n mak bobbejaan gehad wat volgens oorlewering selfs kon toulei! Die versorging van die diere was ’n belangrike deel van die dagtaak. Verliese is soms gely weens allerlei siektes en veldbrande. ’n Belangrike aspek van die lewe op die trek was die laer, wat noodsaaklik was as beskerming teen aanvalle deur vyande. Die waens is in ’n bepaalde formasie, gewoonlik sirkelvormig, teen mekaar gerangskik. Tussen en onder die waens is dikwels takke gepak om te verhinder dat aanvallers in die laer kan kom.