
“IS DIT ONS ERNS?” “LAAT DIT TOG ONS ERNS WEES!”
Die man wat in Transvaal met die Afrikaanse beweging begin het, was ’n gebore Transvaler, Gustav Preller. Hy het die voordeel gehad van Hollands-Afrikaanse onderwys in Transvaal, terwyl De Waal se taal erg Anglisisties was weens sy Kaapse opleiding. Gelukkig was Preller se redakteur, FV Engelenburg, ’n voorstander van Afrikaans, al het hy self Nederlands bly gebruik. Voor die oorlog was hy ’n teenstander van Afrikaans as skryftaal. Ná die oorlog het sy afkeer van Afrikaans plek gemaak vir ’n vurige simpatie vir die taal van die Boere.
Die gebeurtenis wat tot ’n taalbeweging gelei het, is ’n toespraak op 6 Maart 1905 deur “Onze Jan” Hofmeyr voor studente in Stellenbosch. “Is ’t ons Ernst?” lui die titel: Is dit die Afrikaners se erns met die handhawing van hul taal? Hy het gespot met die “Wendebaails” en die “Maaibugs” en die Stellenbosse meisieskool, Bloemhof Seminary, gepak. Daar moes elke leerling nog in haar boeteboekie die oortreding aanteken as sy die minderwaardige “Dutch” in plaas van Engels gebruik. Binne ’n paar dae ná sy toespraak het die “Dutch marks” tot die verlede behoort!
Maar Hofmeyr het veronderstel dat Nederlands die Afrikaanstaliges se taal was, en daarop het Preller gereageer. Hy het met baie taalvriende gekorrespondeer, en op 30 Maart 1905 aan ds. SJ du Toit geskryf. Preller noem hom die “gelittekende veteraan” in die stryd, en vra hom om alle moontlike literatuur aan hom te stuur. Preller het hom gevra om te help in die stryd voort te sit wat begin is deur Du Toit en “ons onvergeetlike oudstaatsekretaris Reitz”. Du Toit het hom op 4 April geantwoord; “die taalkwessie is vir my ’n lewenskwessie”, het hy gesê.
Preller se reeks artikels het van 19 April tot 14 Junie 1905 in 𝘋𝘦 𝘝𝘰𝘭𝘬𝘴𝘴𝘵𝘦𝘮 verskyn onder die opskrif “Laat ’t ons toch ernst wezen!”. Sy standpunt het hy in drie stellings saamgevat:
“1. Die taal wat in ’n land leef, wat in die ganse volk wortel, het in daardie land en onder daardie volk die meeste kans op voortbestaan, en laat hom nie uitroei nie anders as met die uitroeiing van die volk waarin dit leef. Die reëls van die geskrewe taal van iedere nasievolg onwillekeurig die gesproke taal van die nasie, of behoort dit te doen; anders loop die twee naderhand so ver uit mekaar dat hulle feitlik afsonderlike tale sou wees.
“2. Afrikaans wortel diep en leef gesond in die gehele Afrikanernasie. Geen ander taal doen dit nie. Ons skryftaal verskil só ver van ons spreektaal dat dit wat geskryf is, vir die grootste gros van Afrikaners ’n vreemde taal is wat hulle self nagenoeg nooit skryf nie.
“3. Daarom het Afrikaans in Suid-Afrika die grootste en beste kans op voortbestaan. Daarom behoort ons skryftaal veel nader by Afrikaans te kom as waar hy hom tans bevind” (Preller het dit in Nederlands gepubliseer.)
Preller het gematigdheid en redelikheid bepleit: As oorgangsmaatreël totdat Afrikaans algemeen geskryf word, is sy gedragslyn: “Afrikaans skryf en praat, Hollands leer, albei tale lees.” Vir die 𝘗𝘢𝘵𝘳𝘪𝘰𝘵 -uitgangspunt, “skryf soos jy praat”, het hy nie kans gesien nie, en die vereenvoudigde Nederlandse spelling aanvaar.