18 JUNIE

GEBEURE

1795 – Opstand in Swellendam

Die beginsel van ’n eie Afrikaanse republikeinse strewe en vryheidsgevoel kan teruggevoer word tot die Kaapse Patriotte en die opstande te Graaff-Reinet en Swellendam. Die Kompanjie was teen 1790 op die rand van bankrotskap en die ekonomiese posisie van die burgers was haglik. ’n Gees van verset het by die Swellendamse grensboere posgevat. En op 17 en 18 Junie 1795 het ’n sestigtal gewapende burgers onder hul selfverkose “Nasionale Kommandant”, PJ Delport, die drosdy van Swellendam beset en landdros AA Faure met sy assistente gedwing om hul ampte neer te lê. Nuwe ampsdraers is in hul plekke aangestel met Hermanus Steyn as Nasionale Landdros. As hoogste bestuursliggaam, is ’n Nasionale Konvensie (Vergadering) ingestel met Hermanus Steyn as President (in die sin van ’n voorsitter). Die beginsel van volksverteenwoordiging en volksoewereiniteit het geseëvier. Hoewel die gesag van die Kompanjie afgeskud is, is daar geen onafhanklike republiek uitgeroep nie, maar het hulle direk onder die vrye Nederlandse Republiek geressorteer. Brittanje beset egter die Kaap in September 1795, en die Swellendammers onderwerp hulle sonder meer aan die nuwe bewind.

1811 – William Burchell vertrek op ’n tog na die binneland van Suid-Afrika

Die Britse verkenner, plantkundige en skrywer, William Burchell, het op 18 Junie 1811, ‘n maand voor sy 30ste verjaarsdag, op ‘n tog na die binneland van Suid-Afrika vertrek om voorbeelde van natuurhistoriese waarde te versamel. Sy reis sou sowat vier jaar lank duur en hy het ‘n spesiaal-ingerigte wa gebruik met slegs ‘n paar Khoilede wat hom vergesel het. Hy het op advies van besoekende sendelinge eers sowat sewe maande in die Kaap gebly voordat hy saam met hulle tot by Klaarwater (Griekwastad) gereis het waar hy sy hoofkwartier ingerig het. Sy eerste tog het hom verby Kuruman tot diep in die noorde geneem. Agtien maande later het hy ‘n nuwe roete na Graaff-Reinet oopgestel. Nadat hy vyf weke op Grahamstad deurgebring het, het hy oor die Visriviermonding en Uitenhage die kusroete na Kaapstad gevolg waar hy in April 1815 aangekom het. Hy het 63 000 natuurhistoriese voorbeelde versamel waarvan 50 000 plante was. Die res het geraamtes, velle, insekte en visspesies ingesluit. Hy het langs die pad noukeurige sketse en volledige aantekeninge gemaak wat van die min opgetekende beskrywings van die plantegroei van suidelike Afrika uitmaak. Burchell is in 1863 in Londen oorlede.

1898 – Albertina gestig

Die dorp, Albertina, gestig. Op 10 September 1898 is die plaas, Grootfontein, van H Lourens aangekoop vir dié doel. Die dorp was voorheen bekend as Grootfontein, maar is rondom Februarie 1900 herdoop na Albertina.

1901 – Emily Hobhouse publiseer haar verslag

Emily Hobhouse publiseer haar verslag met betrekking tot die konsentrasiekampe in Suid-Afrika. Sy skryf die hoë sterftesyfers in die kampe aan die volgende faktore toe:

  1. Oorvol tente waarin, soms sterwende mense, en ook ernstige siek mense saamgehok word.

  2. Soms word selfs ’n oorledene in ’n tent aangetref, met ander woorde oorledenes word nie gou genoeg verwyder nie.

  3. Rantsoene is ook erg ontoereikend, veral met betrekking tot babas en kinders.

  4. Hout vir voedselvoorbereiding ontbreek ook in die meerderheid van kampe.

  5. Skoon drinkwater bestaan feitlik nie. Gebrek aan seep en ander middele lei tot gebrek aan selfhigiëne.

  6. Gebrek aan beddens en beddegoed, veral komberse.

  7. Gebrek bestaan ook dikwels met betrekking tot voldoende klerasie.

Sy sluit af deur die konsentrasiekampbeleid te omskryf as wreed en eis dat dit afgeskaf moet word.

1911 – Eerste vliegtuig vlieg in Suid-Afrika

Slegs nege jaar nadat die Wright-broers van die VSA in 1903 by Kitty Hawk in Noord-Carolina die eerste keer daarin geslaag het om hulle vliegtuig te laat opstyg vir ’n kortstondige vlug, is die eerste vlug in Suid-Afrika onderneem deur Maximillian John Ludwick Weston.

Hy is op 17 Junie 1873 by Babanango in Natal in ’n ossewa gebore en op tienjarige ouderdom deur sy ouers na die VSA geneem. Reeds in 1892 het hy ’n sweeftuig gebou en vir die eerste keer gevlieg. Nadat hy hom as ingenieur bekwaam het, was hy in Engeland en België werksaam. In 1902 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en aan die kant van die Boererepublieke tydens die Anglo-Boereoorlog geveg.

Gedurende 1907 en 1909 het hy op die plaas, Kalkfontein, in die Bultfonteinse distrik, die eerste vliegtuig in Suid-Afrika ontwerp en gebou. Die enjin was egter te swak om die vliegtuig in die lug te kry en Weston het dit na Frankryk geneem waar hy ’n Gnome-enjin geïnstalleer het.

Met sy terugkeer het hy op 18 Junie 1911 die eerste vlug in Suid-Afrika by Kimberley onderneem. Tydens hierdie en daaropvolgende vlugte het hy ’n hoogte van 60 m bereik en daarin geslaag om vir 8½ minute in die lug te bly. Ná hierdie suksesvolle pogings het hy die John Weston Aviation Company Limited gestig en drie Bristol-vliegtuie bygekoop en vliegdemonstrasies landwyd gehou. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy in die Britse Koninklike Lugmag diens gedoen.

Hierdie lugvaartpionier van Suid-Afrika is op 24 Julie 1950 oorlede as gevolg van ’n besering wat hy opgedoen het toe hy in sy huis deur rowers aangeval is.

1979 – Mnr. Marais Viljoen is beëdig as Staatspresident

Mnr. Marais Viljoen, President van die Senaat, (gebore op 19 Desember 1915) word op die dag beëdig as Suid-Afrika se vyfde Staatspresident nadat mnr. BJ Vorster uit die pos bedank het.

 

GEBOORTES

1891 – Dr. Stephanus Johannes (SJ) du Toit, onderwysman en outeur († 10 Julie 1972)

Stephanus Johannes du Toit was nie net ’n bekende in onderwyskringe nie, maar het ook met verskeie werke naam as skrywer gemaak. Hy is in die distrik Boshof gebore en gaan vir die eerste keer op 12-jarige ouderdom skool toe. Hy matrikuleer in 1910 aan die Grey-kollege en behaal drie jaar later die graad BA aan die GUK – en mettertyd ’n MA in Nederlands en Engels. In 1920 vertrek hy na Europa, waar hy die doktorale eksamen in die Nederlandse taal- en letterkunde met lof aan die Universiteit van Amsterdam aflê. Daarna promoveer hy met ’n proefskrif oor die Afrikaanse volkspoësie. Hy word onderwyser, skoolhoof, inspekteur en in 1945 hoofinspekteur van onderwys in die Vrystaat. Na sy aftrede werk hy in die woordeboekkantoor op Stellenbosch. Onder sy werke is daar As gode fluister of Die verhaal van die Wolsungs (1944) en Feaciese nagte (1905). Hy is op 10 Julie 1972 oorlede.

1932 – Louis Luyt, sakeman, politikus en sportadministrateur († 1 Februarie 2013)

 

STERFTES

1947 – Johanna Cathrina (Jossie) Ackermann, stigter van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland (* 30 Oktober 1882)

Jossie Ackermann is op die plaas Blaauwklip, naby Stellenbosch, gebore. Sy was ’n ywerige lid van die ACVV en Kindersorg, het aan jong meisies kuns- en huisvlytklasse gegee en was een van die stigterslede van die Franschhoekse Dramatiese Vereniging. Haar belangstelling in die geskiedenis het meegebring dat sy by verskeie geleenthede geskiedkundige optogte gereël en geesdriftig aan openbare feeste deelgeneem het, soos die indrukwekkende Hugenote-gedenkfees in 1938. Die groot prestasie waarvoor haar naam in die herinnering voortleef, is die stigting van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland. Afgevaardigdes uit Paarl, Worcester, Britstown, George, Burgersdorp en ander Kaaplandse dorpe het met hierdie doel op 15 Oktober 1929 in die skoolgebou op Franschhoek bymekaar gekom. Die doel van die vereniging, waarvan mev. Ackermann die eerste voorsitster was, was om aan die volwasse vrou leiding te verskaf op die gebied van opvoeding, gesondheid, huisvlyt, kuns en ontspanning. Hoewel die begin klein was, het mev. Ackermann die hele Kaapland deurreis om takke te stig, elke jaar elke sirkel besoek en haar veeleisende korrespondensie self behartig. Sy was ’n talentvolle vrou, energiek en vol ondernemingsgees. Na haar dood op 18 Junie 1947 is dié treffende woorde op haar grafsteen aangebring: “Sy was oorvloedig in goeie werke.”

1949 – Prof. Johannes Jacobus (JJ) Smith, taalkundige en woordeboekmaker (* 5 Oktober 1883)

Johannes Jacobus Smith, taalkundige en woordeboekmaker, is op 5 Oktober 1883 op ’n boereplaas in die distrik Tulbagh gebore en op 66-jarige leeftyd op Stellenbosch oorlede. Sy eerste skoolopleiding het hy in ’n plaasskooltjie in daardie distrik ontvang, tussen die jare 1891 en 1896. Daarna is hy na die openbare skool op Tulbagh en die Paarlse Gimnasium.

Van 1900 tot 1905 het hy aan die Victoriakollege op Stellenbosch gestudeer. Hier het hy ’n BA-graad met onderskeiding in moderne tale verwerf. Weens sy besondere bekwaamheid, is aan hom die Hiddingh-beurs toegeken. Waarmee hy eers aan die Inner Temple, Londen, in die regte en later aan die Universiteit van Londen in moderne tale gestudeer het.

Hy het tot 1914 in die buiteland gebly. Op Stellenbosch het hy in 1914 die professoraat in Duitse en Frans aanvaar. In 1919 het hy die tweede professoraat in Afrikaans aanvaar aan die Universiteit van Stellenbosch.

Van die vroegste tyd of het prof. Smith aan die Afrikaanse taalstryd deelgeneem. Dadelik na sy terugkeer op Stellenbosch het prof. Smith saam met dr. BB Keet en dr. Tobie Muller in die voorste linie getree vir Afrikaans. Saam met Gordon Tomlinson, het hy in 1914 Ons Moedertaal uitgegee, wat later oorgegaan het in Die Huisgenoot, waarvan prof. Smith redakteur was van 1917 tot 1924.

In Londen het hy kennis gemaak met C Louis Leipoldt, wie se eerste bundel gedigte Oom Gert Vertel hy in 1911 persklaar gemaak en uitgegee het. In 1926 het prof. Smith die reusetaak onderneem om die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op te stel, en hy het voltyds daaraan gewerk tot 1943 toe hy weens swak gesondheid die redakteurskap neergelê het.

Prof. Smith het die grondslae vir die woordeboek gelê en ’n ontsaglike hoeveelheid materiaal versamel. In die verwerking van hierdie materiaal het hy egter die slagoffer van sy strewe na volmaaktheid geword. Nooit tevrede met sy eie werk nie, het hy steeds opnuut aangevul en gewysig. Hy was van die begin af ’n vooraanstaande lid van die Taalkommissie van die Akademie vir Taal, Lettere en Kuns en het aanvanklik ’n groot aandeel gehad in die opstel van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Daar het ’n hele reeks skitterende artikels van hom in Die Suiderstem en Die Brandwag verskyn. Na sy dood is hulle gebundel deur sy dogter, dr. Anna Smith, onder die titel Op ons Taalakker (1962).

1970 – Nicolaas Petrus (NP) van Wyk Louw, digter, akademikus en dramaturg (* 11 Junie 1906)

NP van Wyk Louw, herkomstig uit die Karoo (Sutherland), is van die grootste Afrikaanse skrywers tot dusver. Hy het soos geen ander skrywer voor hom nie, die bakens van Afrikaanse menswees versit. Die Afrikaanse taal het gedurende die periode dat hy geskryf het, en in ’n belangrike mate danksy hom, gegroei van ’n skugtere literatuurtaal tot ’n medium waarin alle fasette van menswees uitsêbaar geword het. Die Afrikaanse literatuur het onder sy hand en invloed onherkenbaar verander – vanaf iets plaaslik tot iets universeel. Maar ook die Afrikaanse denke was na Van Wyk Louw nie meer dieselfde as voorheen nie. Hy het die grondslae van die Afrikaanse nasionalisme soos geen ander voor hom nie (ook politici) deurdink en gefundeer. Deur sy dwingende argumentvoering en helder styl (bv. in Lojale verset, Berigte te velde en Liberale nasionalisme) kon hy die taak van Afrikanerskap in en vir ’n nuwe tyd vertolk, sodat sy invloed na sy dood nog net so sterk is soos enige tyd daarvoor, veral by die jeug en die intellektuele. In die eerste plek rus sy roem egter op sy werk as skeppende kunstenaar. Die vernaamste kenmerk van sy skeppende werk is die omvang, gevarieerdheid en genuanseerdheid daarvan. In sy persoonlike liriek (bv. In die bundels Alleenspraak, Die halwe kring, Gestaltes en diere, Nuwe verse en Tristia) strek die spektrum vanaf die intieme belydenisvers (soos in Alleenspraak) tot die vers wat die vrug is van ’n gedurfde denkworsteling met die werklikheid (soos in Tristia). In die epiek het hy Afrikaans se belangrikste enkele gedig geskryf “Raka”, die beelding van ’n gemeenskap se ondergang, omdat dit ontrou geword het aan sy tradisies. In die drama het hy ’n reeks werke geskep wat strek vanaf die onpretensieuse radiospel (bv. Blomme vir die winter) tot die grootste dramatiese spel in Afrikaans Germanicus, die tragedie van ’n Romeinse heerser in die tyd van Christus wat ’n ideaal van suiwer-menslikheid wou nastrewe in ’n wêreld van boosheid en dekadensie. Hy is die Afrikaanse skrywer wat die Hertzogprys die meeste kere verower het: nie minder as vyf keer nie, waaruit afgelei kan word waarom hy beskou kan word as die grootste persoonlikheid in die Afrikaanse letterkunde. Hy het inderdaad die letterkundige toneel tot sy dood – op 18 Junie 1970 in Johannesburg – oorheers.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/