19 MAART – VAN RENSBURG SE TREK VERDWYN SPOORLOOS
Die eerste trekleier, Louis Tregardt, gebore 1783, was kleinseun van die Tregardt-stamvader, ’n Sweedse immigrant. Louis Tregardt is in 1833 uit die Kolonie na Hintsa se gebied, maar toe dié in April 1835 ook in die grensoorlog betrokke raak, het Tregardt en sy mense padgegee en voor die end van 1835 oor die Oranje getrek. Hulle was nege gesinne, 49 mense, in nege waens.
Byna gelyktydig is Johannes Jacobus Janse (Lang Hans) van Rensburg met sy trek die rivier oor. Van Rensburg, gebore 1779, was ’n neef van die trekleier Andries Hendrik Potgieter. Die trek het omstreeks Julie 1835 begin. Die Van Rensburg- en Tregardt-trekke het voeling met mekaar gehou en vroeg in 1836 is hulle deur die Vaalrivier. Versigtig vir die magtige Matabeles in die weste, het hulle ’n ent ooswaarts getrek en daarna weer noord. Die verhouding tussen die twee groepe was nooit juis hartlik nie, en Strydpoort was later in 1836 die toneel van ’n woordestryd wat tot dié naam gelei het. Van Rensburg se mense het aanhoudend olifante gejag, en toe Tregardt hom waarsku om spaarsaam met sy ammunisie te werk, antwoord Van Rensburg driftig dat hy mans genoeg is om vir sy trek te sorg.
Van Rensburg en sy mense is daarna alleen vooruit. Sy trek was toe 49 mense – die meeste van hulle familie en aangetroude familie. Party lede van sy geselskap het hulle die een of ander tyd by die Tregardt-trek aangesluit. Die Van Rensburgs is tot by die Soutpansberg, en daarna oos in die rigting van die see. Sekerheid oor hul lot is daar nie, maar in die winter, waarskynlik aan die begin van Augustus 1836, het ’n plaaslike krygsmag hulle onverhoeds in die nag aangeval. Dit was volgens AH Tromp sowat veertig myl noord van die samevloeiing van die Limpopo- en die Olifantsrivier by die Djindispruit in Mosambiek, waar ’n voetpad oor die Limpopo na Inhambane loop. Die trekkers het ’n verbete en heldhaftige stryd gevoer en kon die aanvallers drie keer terugdryf, maar toe die ammunisie teen dagbreek opraak, is almal uitgemoor. Net twee kleinkinders van Van Rensburg, ’n seuntjie van vyf en ’n dogtertjie van vier van PJ Viljoen, is deur ’n Zoeloekryger onder sy skild uitgekeer en gespaar, maar hulle het glo ’n jaar later aan malaria beswyk. Toe Karel Tregardt die moordtoneel in 1838 uit Inhambane bereik, is die grafte aan hom uitgewys. Hy het die beendere van die vermoordes op die terrein gevind en begrawe. Hy kon ook inligting oor die gebeurde inwin.
Terwyl die Van Rensburg-geselskap oos getrek het, is Tregardt en sy mense na die Soutpansberg. Die Tregardts het stadig noorde toe getrek, omdat hulle gewag het op die mense van Andries Hendrik Potgieter. Dié het in Junie 1836 opgedaag en die gebied noordoos van die berg verken. Voordat hulle terug is, het hulle, Tregardt en sy seun Carolus, ’n vergeefse soektog na die Van Rensburg-trek onderneem, want daar was toe al gerugte dat hulle uitgemoor is. ’n Groep van die Tregardt-geselskap, onder wie van die gewese lede van die Van Rensburg-trek, het op hul eie nóg byna ses maande lank gesoek, ook vergeefs.
Die Tregardt-geselskap sou wag totdat Potgieter sy mense oorkant die Vaal gaan haal het. Van September 1836 tot Mei 1837 het Tregardt en sy trek op ’n paar plekke naby die Soutpansberg vertoef in die omgewing van die latere dorp Schoemansdal en die huidige Louis Trichardt. Van September 1836 af het Tregardt sy dagboek gereeld bygehou. Dit is later uitgegee – ’n groot menslike dokument uit die Afrikanergeskiedenis, wat gelukkig vandag nog in boekvorm verkrygbaar is. Dit is twee keer uitgegee deur Gustav Preller en later deur die taalkundige TH le Roux. In 2014 het ’n Afrikaanse vertaling deur Jackie Grobler verskyn onder die titel Louis Tregardt se dagboek 1836-1838.
Mens kan lees van rusies en skindery, maar ook onderlinge hulpverlening veral tydens siekte. Toe Tregardt se dogtertjie siek word, het twee ander vroue die hele nag vergeefs gehelp om haar met “kappeva” en “gloversouijt” te dokter.