DIE VROUE VAN DIE LEIERS
Talle vroue het daarin geslaag om uit die hande van die Engelse te bly. Hulle het van plek tot plek gevlug, geskuil in grotte, soms tydelik weggekruip in erdvark- of ander gate wat hulle of hul mans groter uitgegrawe het en ’n hele paar op ’n eiland in die Vaalrivier.
Onder die vlugtendes was die eggenote van genl. Koos de la Rey. In die laaste agtien maande van die oorlog het sy saam met ses kinders en ’n paar swart mense met ’n wa van die een plek na die ander gevlug in die Lichtenburg-omgewing. Behalwe eetware, klere en komberse het sy aanvanklik ’n hok vol hoenders saamgeneem.
Mev. Nonnie de la Rey vertel: “As ek my tent onder koel bome kon opslaan, en die vloer met groen gras kon uitlê, dan het ek heeltemal gelukkig en tevrede gevoel, en menigmaal het ek gewens, wanneer ek by so ’n aangename plek gekom het, dat ek daar ’n geruime tyd mag woon. Soms het dit my tog geluk om ’n week of ’n paar dae daar te bly, maar as die kakies nader kom, dan moes ons maar weer die tent optrek en wegvlug. Meer dan eens het dit gebeur dat ons tot in die middernag moes vlug, en as ons uitspan, is dit só stikdonker dat ’n mens g’n hand voor die oë kon sien nie.”
Nadat mev. Nelie de Wet, eggenote van die Generaal, sewe maande rondgevlug het, het die Engelse haar in die distrik Vredefort vasgekeer. Sy het geweier om saam met hulle te gaan omdat haar kinders siek was. Engelse offisiere het haar probeer beweeg om na haar man se kommando te gaan en hom om te praat om die wapens neer te lê. Hulle het haar £10 000 as beloning gewaarborg. Sy het geantwoord dat sy nooit so iets gemeens sou doen nie, en liewer saam met haar kinders agter ’n doringboom sou gaan sit as “om van die bloed van die martelare, wat reeds gesneuwel het, vir my ’n skans te maak”. Later is sy weer gevang en is na ’n kamp in Pietermaritzburg gestuur. Sy is in ’n seilpondok ingestop waarin ’n vrou die vorige dag aan koors dood is. Hensoppers, wat wagte by die kamp was, het smalend uitgeroep: “Laat ons De Wet se vrou en kinders daar instop dat hulle soos honde kan vrek!”
Die verfynde en blymoedige mev. Tibbie Steyn het botweg geweier om na Europa uit te wyk en is saam met die President toe die Engelse Bloemfontein nader. Saam met hom is sy na die dorpies waar die regering telkens gesetel was. Op 14 Julie 1900 het sy haar man op Fouriesburg gegroet en is op 27 Julie gevang. Sy het ’n versoek van luitenant-generaal A Hunter geweier om haar invloed te gebruik om die oorlog tot ’n spoedige einde te laat kom.
Die owerheid het haar verbied om op Onze Rust te woon, en sy moes in ’n huis aan die rand van die stad (die huidige Zastronstraat 103) bly waar sy vyf jong kinders moes versorg. Die huis is steeds bewaak en wagte het haar orals heen vergesel. Vir alles was passe en permitte nodig, en haar kinders is selfs nie toegelaat om met ’n fiets te ry nie. Toe Bloemfontein ’n konsentrasiekamp kry, is sy nie toegelaat om dit te besoek nie, later wel die kamphospitaal. Haar geld is gekonfiskeer, sogenaamd omdat sy daarvan verdink is dat dit staatsgeld is, en is eers ná maande terugbesorg. Telkens het sy geweier om die President te oorreed om die stryd te staak. Tussen haar en ’n deel van haar familie Fraser het daar ’n groot kloof ontstaan. Haar niggies, dogters van sir John Fraser, het haar selfs ná die oorlog geïgnoreer as hulle mekaar op straat teëkom. Dit alles het sy verdra met waardigheid, en Karel Schoeman skryf: “Dit is gedurende hierdie twee jaar dat sy onder Afrikaners die posisie ingeneem het wat sy meer as ’n halfeeu sou beklee”. Sy het ’n verenigende rol in die volkslewe gespeel en was ’n geliefde openbare figuur.