DIAMANTE VERANDER SUID-AFRIKA
Die ontdekking van diamante het ’n nuwe hoofstuk in Suid-Afrika se ekonomiese geskiedenis ingelui. Die welslae van vier jong Afrikaners sou ’n paar dekades later ’n belangrike rol speel in die ontwikkeling van Afrikaans. Dié vier was die Marais-broers van Stellenbosch: Pieter, Abraham, Christiaan en Jannie. Hulle het op 31 Augustus 1870 onder leiding van hul oom, Marthinus Neethling (’n broer van hul moeder) na die nuwe diamantvelde vertrek. Hulle het op verskillende maniere geld gemaak, ook deur aandele en het skatryk geword. Jannie kon later ’n beslissende bydrae lewer tot die totstandkoming van ’n Afrikaanse koerant en ’n Afrikaanse universiteit (kyk by 9, 10 en 21 September). Die fassinerende familiegeskiedenis is kort voor sy dood op 13 Desember 2015 deur die historikus Pieter Kapp beskryf in Nalatenskappe sonder einde. Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers.
Tot met die ontdekking van diamante was wol die Kaapkolonie se vernaamste bron van inkomste maar toe het diamante dit geword. Daarby het die kapitalisme sy verskyning gemaak met ’n nuwe soort mens – die grootkapitalis wat die mineralerykdom vir eie gewin wou benut. Die vernaamste was Barney Barnato, Lionel Phillips, Otto Beit en George Albu; die gebore Suid-Afrikaner JB Robinson het naderhand ’n geweldige afkeer van die ander magnate ontwikkel.
Dan was daar Cecil John Rhodes, wat in 1873 sonder kapitaal aangekom het. Hy was een van dié wat sy geld in die kleims van die De Beers belê en in 1880 saam met sy vennoot CD Rudd die De Beers Mining Company met ’n kapitaal van £200 000 gevorm het. Met sy sakevernuf het Rhodes ’n fortuin versamel. Sy groot voordeel bo sy mededingers was sy toegang tot Europese kapitaal weens samewerking met Alfred Beit, wat hom aan die groot bankiershuis Rothschild voorgestel het.
Daar was soveel mense op die diamantvelde dat dit ’n mark geskep het vir die boere. Meer geld het in omloop gekom, en dit het die bank- en vervoerwese bevorder. Daar was al spoorlyntjies in die Kolonie en Natal, maar nou is die spoorlyn van Kaapstad na Wellington diamantveld toe verleng. In 1885 het die spoorlyne van Kaapstad en Port Elizabeth, wat by De Aar by mekaar aangesluit het, die diamantstad Kimberley bereik. (Kyk by 12 Mei vir iets meer oor paaie en spoorweë.)
Diamante het ook ’n politieke stryd laat ontstaan. Die diamantveld was in ’n gebied wat deel was van die Vrystaat, maar gou was daar ander aanspraakmakers. Toe Adam Kok III in 1861 na Griekwaland-Oos trek, het die Vrystaat die gebiede Philippolis en Campbell, wes van die Vaalrivier, gekoop. Die hoof van een van die Griekwa-groepe, Nicolaas Waterboer, het die koop betwis. Sy aansprake het ná die ontdekking van diamante Britse steun gekry. ’n Arbiter, RW Keate, luitenant-generaal van Natal, het op 26 Oktober 1871 die grond aan Waterboer toegeken. Die volgende dag het sir Henry Barkly, Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris, wat die Vrystaat geminag het, Griekwaland-Wes met die diepdelwerye van Dutoitspan, Bultfontein en Vooruitzicht geannekseer.
Oor dié imperialistiese daad was die Afrikaners bitter verontwaardig. Vir die eerste keer het Kaapse Afrikaners politieke byeenkomste gehou om hul simpatie met die Vrystaat en afkeuring teenoor Engeland uit te spreek. Die Vrystaatse president, Jan Brand, en sy Volksraad het ’n protes opgestel wat in die vernaamste koerante van Europa gepubliseer is. Die Vrystaat het die steun ontvang van kapt. Augustus Lindley, wie se boek Adamantia (1873) onder Britse parlementslede versprei is. Die nuwe minister van kolonies, lord Carnarvon, het sy vriend, die Britse historikus James Anthony Froude, gevra om ’n reis na Australië te onderbreek en hom oor sy planne vir ’n konfederasie in te lig – en Froude was oortuig dat ’n onpartydige hof die Vrystaat in die gelyk sou stel. Brand het in 1876 in Londen aangekom om die teruggawe van die diamantveld te eis, maar Engeland het geweier en ’n skrale £90 000 as kompensasie aangebied.