MILNER: “EK WIL NET EEN TAAL IN SUID-AFRIKA HÊ!”

Ná ontbyt op 15 Mei het die regerings vooraf byeengekom in die tent van president Steyn. Hulle was geskok deur die vinnige agteruitgang in sy gesondheid. Dit het gelyk asof hy in ’n paar maande jare ouer geword het. Sy gees was egter so helder en so sterk as ooit, en sy moed nog groter as voorheen. Wanneer hy praat, was daar geen sweem van wanhoop in sy woorde nie, en sy sterk persoonlikheid het nog, soos in sy beste dae, eerbied afgedwing. Steyn het egter weens sy siekte net aan die begin van die beraad gepraat. Sy afwesigheid was ’n groot slag vir dié wat onderwerping teengestaan het.

Die burgers het genl. CJ Beyers – vriendelik, taktvol, maar beslis – tot voorsitter gekies en mnr. D van Velden, griffier van die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek, en ds. JD Kestell, sekretaris van die uitvoerende raad van die Oranjevrijstaat, tot sekretarisse.

Die eerste dag en ’n deel van die tweede dag is geluister na verslae van afgevaardigdes oor die toestand. Dié uit Wes- en Noord-Transvaal en die Vrystaat het gemeen hulle moet die stryd voortsit. Dié uit Oos- en Suid-Transvaal was ewe pessimisties as Botha. Hy het gewys op moeilikhede met swartes en die moord by Vryheid. Elders het swart mans vroue aangerand en verkrag.

Die Boereleiers was in twee kampe verdeel: pres. Steyn, genl. De Wet en die meeste Vrystaters, maar ook Transvalers, het die handhawing van die onafhanklikheid bepleit. Aan die ander kant was genls. Schalk Burger, Louis Botha, LJ Meyer en JC Krogh bereid om die oorlog te beëindig al moes hulle die vryheid prysgee. Ernstige verdeeldheid het gedreig en FW Reitz het gevra of hulle nie iets soos die Witwatersrand aan die Britte kon aanbied nie in ruil vir onafhanklikheid. Op 18 Mei is besluit om ’n kommissie na Pretoria te stuur om met die Britte te onderhandel oor vrede met behoud van beperkte onafhanklikheid.

Die kommissie van vyf Boereleiers (genls. Louis Botha, Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Barry Hertzog en Jan Smuts) was van 19 tot 28 Mei in Pretoria om te beraadslaag met twee Britse leiers, lord Kitchener, lord Milner. Die twee lords het die republikeinse voorstel onmiddellik van die hand gewys. Hulle het ’n eie ontwerp opgestel waarvolgens die republikeinse magte die anneksasie van die republieke erken en as “British citizens” die wapens neerlê. Hierdie onvoorwaardelike oorgawe sou Milner die mag gee om volkome oor die wel en wee van die Afrikaners te beskik. Die Boereleiers, veral De Wet, het hulle heftig hierteen verset. ’n Dooie punt het gedreig maar Kitchener het voorgestel dat Smuts, Hertzog en Milner, met sir Richard Solomon as adviseur, ’n ander dokument opstel. Die twee jong Afrikaanse regsgeleerdes moes dus toegewing probeer beding by Milner, “’n Brit, so meedoënloos soos ’n roofdier teenoor sy prooi” (GD Scholtz).

Milner het toegegee dat dit ’n “hard conflict with Boer lawyers” was. Hertzog en Smuts het byvoorbeeld daarop aangedring dat ’n moontlike vredesverdrag slegs onderteken word deur die regerings van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranjevrijstaat. Die Britte moes dus die anneksasie van die twee republieke as nie-bestaande hanteer.

Oor taal het Milner wel sy sin gekry. Hy was daarvoor verantwoordelik dat die taalbepaling strenger was as in die Middelburgse voorwaardes van 1901. Laasgenoemde was dat Hollands “will be used and taught” in skole waarin die ouers dit verlang, “and allowed in Courts of law”.

In die nuwe bepaling is “used” weggelaat en ’n beperking toegevoeg tot die gebruik in die howe: “The Dutch language will be taught in Public schools in the Transvaal and Orange River Colony where the parents of the children desire it, and will be allowed in courts of law when necessary for the better and more effectual administration of justice.” Die “used” het voorsiening gemaak vir Hollands as voertaal in skole, maar Milner het dit weggelaat om te voorkom dat die Afrikaners kon aanspraak maak op Hollands as onderrigtaal. Hollands sou ook nie meer op versoek in die howe toegelaat word nie, maar net waar dit volgens die hof se oordeel in belang van regspraak was.

Milner kon dus aan Chamberlain kabel: “Language clause is much improved.” Hertzog het later vertel: “Lord Milner het alles opgestel. Toe ons by die punt van die TAAL kom, het hy vlotweg geskryf wat daar nou in die traktaat staan en gesê: ‘Ek wil slegs een taal in Suid-Afrika hê’.” Hertzog het geantwoord: “Ek ook!” Die twee het mekaar aangegluur en besef dat ’n groot stryd voorlê.

Die konsep-traktaat is op 21 Mei na Engeland gekabel. Die antwoord is op 28 Mei ontvang. In wese het niks aan die Britse voorwaardes verander nie, hoewel sekere wysigings iets voordeliger vir die Boere was. Die vyf generaals het die beslissing stilswyend van Milner verneem. Die Boere moes op 31 Mei antwoord. Daardie selfde Woensdagaand om nege-uur het die kommissie met die trein na Vereeniging vertrek en teen eenuur daar aangekom. Hulle was moeg en teleurgesteld omdat hulle so min kon bereik.