26 OKTOBER
GEBEURE
1657 – Eerste pynappels
Die eerste pynappels word in Suid-Afrika aangeplant.
1706 – Die Here XVII besluit om geen verdere immigrasie na die Kaap te steun nie
Teen 1700 het daar na vyftig jaar sedert die volksplanting slegs ongeveer 1 600 blankes aan die Kaap gewoon. Nogtans het die Here XVII op hierdie dag in 1706 besluit om amptelik geen verdere immigrasie na die Kaap te steun nie. Dit was ’n ernstige fout want die Afrikaner-aanwas is daardeur drasties beperk. Met hierdie beleid is boonop tot 1820 volhard toe Britse immigrante deur Engeland op groot skaal ingevoer is. In 1800 was daar 30 000 blankes aan die Kaap. Boonop was hulle oor ’n ontsaglik groot gebied versprei, sodat ekonomiese, kulturele en opvoedkundige probleme diep ingegryp het, juis ook omdat die VOC ’n vrotsugtige en selfsugtige ekonomiese beleid gevolg het. Die Afrikanerpioniers het hulle nogtans gehandhaaf, hoofsaaklik omdat hulle as gesinne die binneland ingetrek het, baie kinders verwek het, vroeg getrou en nie geskei het nie en na afsterwe van ’n lewensmaat spoedig hertrou het. Afrikanergetalle was egter deurgaans te klein, en dit het die omvangryker ontplooiing wat in ons land moontlik was, bly strem. Tegelyk het dit ons aanspraak en beheerkrag na binne en buite tot in die huidige tydsgewrig beperk. Die belangrikste rede byvoorbeeld waarom in Mei 1902 tot vrede ingestem is, was die vrees dat die volk fisiek uitgeroei sou word. Die Konsentrasiekampe het dan ook ’n knak in ons natuurlike aanwas meegebring. In 1936 was daar 1 120 000 Afrikaners in ons land. Met Republiekwording in 1961 was daar ongeveer 1 790 000 Afrikaners. Dit was 58% van die totale blanke bevolking.
1860 – Weerdiens
Die eerste weerdiens word in Suid-Afrika ingestel.
1871 – Keate-uitspraak
Die Keate-uitspraak waarin die Kimberley-diamantvelde aan die Kaapprovinsie toegeken word.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Beleg van Koffiefontein, wat tot 3 November 1900 sou duur
1914 – Afrikanerrebellie
Oud-Boeregeneraal Chris Muller spreek sowat 45 ondersteuners op Donkerhoek (Kleinfontein) oos van Pretoria toe. Hy moedig hulle aan om teen die regering se optrede te protesteer en terselfdertyd vir die herstel van die republikeinse onafhanklikheid te veg. Hy word as generaal verkies.
Tydens ’n byeenkoms op Senekal in die Vrystaat word die burgers meegedeel dat hulle opgeroep word om teen generaal Christiaan de Wet op te trek. Na kommunikasie met De Wet besluit kommandant L Rautenbach en ’n groep van die burgers dat hulle nie teen De Wet sal optrek nie en wyk hulle in die rigting van Paul Roux uit.
’n Tweede rebellekommando van Manie Maritz in die Noordweskaap word deur regeringsmagte tot oorgawe gedwing, naamlik tussen Kenhardt en Calvinia.
Jansie Jooste doen aan Jan Kemp verslag dat Christiaan Beyers nie op 27 Oktober op Haakboschlaagte sal kan wees nie, maar versoek dat Kemp hom op Steenbokfontein, in die distrik Rustenburg, moes ontmoet.
1926 – Emily Hobhouse se oorblyfsels word aan die voet van die Vrouemonument ter ruste gelê
1927 – Vlagskikking aangekondig
Suid-Afrika het sy Nasionale Vlag op 31 Mei 1928 amptelik in gebruik geneem nadat die Nasionale Party van genl. JBM Hertzog en die Opposisie onder leiding van genl. JC Smuts ’n skikking bereik het. Genl. Hertzog het dit op 26 Oktober 1927 in die Volksraad aangekondig waarna die Vlagwet deur die Unie-Parlement aanvaar is. Met ’n seremoniële hysing by die Parlementsgebou in Kaapstad en hysingsplegtighede die hele land oor, het Suid-Afrika sigbaar sy verskyning onder die vrye volke van die wêreld gemaak. Hoewel daar reeds sedert 1910 met die Unie-wording by geleentheid na ’n eie vlag verwys is, is met die eerste daadwerklike amptelike stappe daartoe eers in 1926 begin, toe dr. DF Malan onder meer verklaar het: “’n Vlag is ’n sinnebeeld van volksbestaan. Vir ’n vlag kan ’n volk leef en kan hy veg en sterf.” Dit sou egter ruim twee jaar duur – twee jaar van stryd om eensgesindheid te verkry – voordat die Nasionale Vlag sy verskyning kon maak. Verskeie ontwerpe vir ’n vlag is voorgestel en eindelik is ooreenstemming bereik oor die “Van Riebeeckvlag” – oranje, wit en blou – met die vlagskild van die Britse Union Jack, die Vrystaatse Vlag en die Transvaalse Vierkleur op die wit baan in die middel. Die Britse Vlag moes nog saam met die Suid-Afrikaanse Vlag by amptelike geleenthede gebruik word as teken van die Unie se Statebondsverbintenis; dit was tot in 1957 toe die Unievlag in die Parlement onder bewind van adv. JG Strijdom aanvaar is as die enigste landsvlag van Suid-Afrika – die vlag wat ook in 1961 onveranderd as die Republiekvlag behou is.
GEBOORTES
1911 – Hester Heese, skrywer († 24 Mei 1992)
Hester Heese was ’n bekroonde Afrikaanse skrywer van kinder- en jeuglektuur.
1918 – Dr. Anton Carlisle Hartman, musikus en dirigent († 3 Februarie 1982)
Anton Carlisle Hartman was ’n dirigent, uitsaaipersoonlikheid, musiekadministrateur en die laaste nagenoeg vier jaar van sy lewe hoogleraar in musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was onder meer musiekdirekteur van die SAUK, van 1964 tot 1967 voltydse dirigent van die uitsaaikorporasie se simfonieorkes, voorsitter van die FAK se musiekkommissie en musiekadviseur van die Operavereniging van Suid-Afrika (Opsa). Hy het hom in besonder beywer vir die werke van Suid-Afrikaanse komponiste en die opvoering van operas in Afrikaans. As een van die veelsydigste en bekendste dirigente in Suid-Afrika het hy in later jare gereeld met al die vernaamste orkeste in die land saamgewerk. Die eerste uitvoerings van groter werke deur nie minder nie as 18 van die voorste Suid-Afrikaanse komponiste is deur hom behartig. Ook het hy die musiekpatronaat van die SAUK uitgebrei deur gereeld nuwe werke by Suid-Afrikaanse skeppende musici te bestel.
1935 – Wilhelm Knobel, digter en skrywer († 4 Januarie 1974)
Wilhelm Knobel was ’n Afrikaanse digter en skrywer. Hoewel hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het vir sy digkuns, skryf hy onder meer ook prosa, ’n kinderboek en doen hy ook vertaalwerk.
1939 – Karel Schoeman, skrywer († 1 Mei 2017)
Karel Schoeman was ’n Afrikaanse skrywer, vertaler en historikus.
Nadat hy in 1956 aan die Hoër Jongenskool in die Paarl gematrikuleer het, het hy taalkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer en sy BA-graad in 1959 behaal. In dieselfde jaar het hy die Rooms-Katolieke geloof aangeneem en aan die Rooms-Katolieke Seminarium St. John Vianney in Pretoria gaan studeer, waarna hy in 1961 tot die orde van die Fransiskane in Ierland toegetree het. Na drie jaar se novisitaat in die kloosters van Killarney en Gilwald het hy besluit om nie sy gelofte as priester af te lê nie. Hy het in 1964 na Bloemfontein teruggekeer en die Hoër Diploma in Biblioteekkunde behaal.
Hy het van tyd tot tyd in die buiteland gewoon en nadat hy aanvanklik ’n broeder in die Fransiskane-klooster in Ierland was, het hy eers in Amsterdam en daarna in Kreta gaan woon. Later het hy in die Skotse stad Glasgow as verpleër gewerk. Hoewel hy hoofsaaklik as prosaïs bekendheid verwerf het, het hy dramas soos 𝘖𝘰𝘮 𝘞𝘢𝘯𝘫𝘢 van Tschekov en 𝘔𝘢𝘳𝘪𝘢 𝘚𝘵𝘶𝘢𝘳𝘵 van Schiller in Afrikaans vertaal. Daarby het hy ’n aantal biografieë, onder meer oor die skrywer Olive Schreiner se lewe, geskryf. In 1999 het oud-president Nelson Mandela die Orde van Voortreflike Diens aan hom toegeken.
Hy is op 1 Mei 2017 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.
STERFTES
1969 – Jeremy Schulman, violis en SAUK-orkesdirigent (* 11 Februarie 1896)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.