27 MAART – VOORBODES EN WAARSKUWINGS TEEN DINGAAN

Die oggend van 25 Januarie 1838 het Piet Retief en sy keurkommando afskeid geneem van die res van die trekkers. Erasmus Smit het die godsdiensoefening in Retief se tent gelei. Retief was die vorige week neerslagtig, “vol droefheid” oor die tweedrag onder die mense, skryf hy aan sy vrou. Hendrik Potgieter, met wie hy vyf dae vantevore gepraat het, het hom blykbaar afgeraai om hom in Natal te vestig omdat hy nóg die Engelse, nóg die Zoeloes vertrou het. Ook ander het Dingaan nie vertrou nie. ’n Engelse smous, Thomson, het die trekkers gewaarsku teen verraad. ’n Bejaarde, ene Malan, het Retief die oggend van die vertrek gesê dat hy ’n voorgevoel het dat daar verraad gepleeg sou word en dat die Engelse van Natal daarin ’n vername rol sou speel. Retief het hom betig met ’n “foei, foei, Malan! U laat die Franse gevoelens teen die Engelse heeltemal die oorhand kry!” Retief was teleurgesteld omdat so min mense hom wou vergesel – 63 wit en 30 bruin mans. Onbewus dat dit ’n afskeidsbrief is, skryf Retief op pad aan sy vrou: “Houdt God voor ogen; en Uw Ed heeft geen kwaad te vrezen.”

Op Saterdag 3 Februarie 1838 het Retief se kommando Umgungundlovu binnegery. Dié dag het hulle Dingaan nie te sien gekry nie, maar hy het Retief toegelaat om sy eie rusplek te kies – ’n koppie ongeveer 150 tree van die stad. Daar het die sendeling Francis Owen hulle die middag besoek. Owen, sy vrou, ’n diensmeisie en ’n tolk, asook ’n twaalfjarige seun William Wood, het sedert Augustus 1837 daar gewoon. Owen het ’n dagboek gehou wat baie lig werp op wat in Februarie 1838 gebeur het.

Op Sondag 4 Februarie het Dingaan en ’n aantal Zoeloes Retief en vyf van sy manne, almal ongewapen, ontvang. Retief het reeds ’n traktaat in Engels laat opstel wat op die volgende neerkom: aangesien Retief die beeste wat Sekonyela geroof het, aan hom terugbesorg het, skenk Dingaan aan Retief en die trekkers die plek genoem Port Natal en al die omliggende grond van die Tugela na die Umzimvubu weswaarts as ewigdurende eiendom. Die traktaat is 4 Februarie gedateer.

Op Maandag 5 Februarie het Dingaan allerhande vertonings vir die trekkers laat hou. Terwyl die koning onder sy wildevyeboom sit, het sy “witskilde” en “swartskilde”, die veterane en die jong krygsmanne, hul danse uitgevoer tussen sy wit en swart osse. Daarop het Retief en sy manne ’n militêre vertoning buite die stad gelewer. Teen sononder het die “wildebeest”, ’n regiment jong Zoeloes, in die rigting van Dingaan se kraal gehardloop. Hul sang was so dreigend dat die jong William Wood, wat die woorde kon verstaan, gesê het hy is bang dat Retief en sy manne vermoor gaan word. Niemand het hom ernstig opgeneem nie. Dit was te laat in die dag om te vertrek, en dit kan wees dat die traktaat toe nog nie onderteken was nie.

Op 6 Februarie het die trekkers Dingaan weer besoek. ’n Paar trekkers is die môre na Owen se huisie om ’n klein voorraad koffie en tee te gaan haal. William Wood het die oggend uit die handelwyse van Dingaan afgelei dat daar kwaad aan broei was. Dit het hom ongerus gemaak en hy het ’n geleentheid gesoek om die Boere te waarsku. Hy het vir twee van hulle gesê dat hy “onraad” vrees – dat hy bang was dat Dingaan niks goeds in gedagte het nie en hy raai hulle aan om op hul hoede te wees. Maar so volkome was die manne met blindheid geslaan dat hulle geglimlag en geantwoord het: “Ons is seker, dat die hart van die Koning reg is met ons en dat daar geen rede is om te vrees nie.” (Dit het Wood later aan JD Kestell vertel.)