’N LIEFDESDRIEHOEK VAN DIE GROOT TREK
Te midde van al die ellende van 1838 was daar soms kans vir ’n bietjie skinder oor ’n liefdesgeskiedenis waarby die heldhaftige Marthinus Oosthuizen betrokke was. Dit is een van Suid-Afrika se groot liefdesverhale, soos oorvertel deur Theo Gerdener.
Oosthuizen was afkomstig uit die distrik Uitenhage. Sy ouers was veeboere en het ook rasegte honde en perde geteel. Toe hy vyftien was, het hy by ’n kerkdiens kennis gemaak met die veertienjarige Aletta Rudolph. Teen die tyd dat die Trek begin het, was hulle “saam” in vandag se taal of, soos destyds gesê is: kêrel en nooi. Die Oosthuizens is in 1836 saam met die Maritz-trek, maar die Rudolphs het nog geen trekplanne gehad nie. Toe die twee jong mense afskeid neem, was dit blykbaar vir goed.
Op die trek was daar ’n nuwe meisie wat Marthinus se aandag getrek het. Sy was Debora Maritz, dertien, dogter van die trekleier Gerrit Maritz. Hulle was gou aangetrokke tot mekaar; hy het haar ook vertel van die meisie wat hy in die Kolonie agtergelaat het. Ná ’n tydjie het hulle verloof geraak.
Die trekkers het verlowings as bindende ooreenkomste beskou – vir ontroue verloofdes het hulle so min respek gehad as ontroue eggenote. Só het Marthinus dit ook beskou. Maar in Natal kom hy te hore dat iets wat eers ondenkbaar was, werklikheid geword het. Die Rudolphs het óók besluit om te trek, en sy eertydse geliefde, Aletta, het saamgekom! Dat haar Marthinus daar is, het sy gou geweet; dit was Maart 1838 en mense het ook oor die heldedaad gepraat toe hy deur ’n Zoeloemag gejaag en die vasgekeerde Van Rensburgs met ammunisie gehelp het.
Ou liefde roes nie. Dit het Marthinus en Aletta gou besef. Marthinus wou nie die verlowing met Debora breek nie, en het háár die geleentheid gegee om dit te doen. Nou kon Marthinus en Aletta trou, al het daar nog ongemaklike oomblikke voorgelê. Hulle moes voor die huwelikskommissaris verskyn, waarop hulle moes antwoord op ’n paar voorgeskrewe vrae. Dié kommissaris was Gerrit Maritz, Debora se pa. Dis onbekend wat Marthinus geantwoord het op die tweede vraag: “Het u iemand anders ooit trou beloof?” Ná die toestemming is die paartjie na die Veglaer, waar die Van Rensburgs nie kon ophou om die man toe te juig wat hulle help red het nie.
Op 5 Augustus het Erasmus Smit hulle ná die oggenddiens getrou. Die bruid was geklee in ’n tabberd van liggroen sy, opgemaak met wit sy en lint, wit steweltjies en wit kouse en ’n liggroen hoedjie met ’n groot sluier daaroorheen. Die bruidegom was deftig in swart manel en pluiskeil, met wit handskoene. Die bruid se ouers het ná die plegtigheid ’n eetmaal aangebied waarby daar baie gaste was. Verskeie toesprake is gehou.
Die wittebrood is bietjie meer as ’n week daarna beëindig. Op 14 Augustus het die Zoeloes die laer aangeval. Marthinus het net voor die aanval gaan jag, en was dus van die laer afgesny. Dit het tagtig uur geduur voordat die Zoeloes verdryf is. Eers toe kon Aletta seker wees dat haar bruidegom dit oorleef het. Hulle het aan die oewers van die Boesmansrivier gaan woon en was 59 jaar getroud toe hy in 1897 gesterf het. Sy is eers in 1916 op 97 jaar oorlede. Debora is getroud met Cornelis Botha, hawemeester van Port Natal in die Republiek Natal.