3 JANUARIE – DIE “GOUE EEU” IN NEDERLAND
Die koms van ’n groepie Nederlanders na die Kaap was eintlik die gevolg van ’n direksiebesluit van ’n groot maatskappy in een van die kleinste volke van Europa. Dit was egter ’n volk wat ondanks sy betreklik klein bevolking van 1,8 miljoen in 1650 sy “Goue Eeu” beleef het.
Die lande van Europa het die bestaan van die sewe verenigde provinsies van Nederland as voldonge feit aanvaar. Die handel het gebloei, en oral was daar werk en welvaart, al was daar ook armes. Die voorspoed en ondernemingsgees was die beste te sien in die hoofstad Amsterdam. Langs die gragte het die koopmanne pragtige huise gebou.
Die wetenskap en kunste het gebloei. Nederland het vyf universiteite gehad (Leiden met soms tot 2000 studente, Franeker, Harderwijk, Utrecht en Groningen), en geleerdes soos Hugo de Groot is ook in die buiteland geëer. Die groot skilders is wêreldbekend: Rembrandt van Rijn, Frans Hals, Jan Steen, Paulus Potter, Gerard Terborgh en Gerard Dou. Die poësie van Joost van den Vondel, Constantijn Huygens, PC Hooft, Jacob Cats en GA Bredero is oral bewonder. Die skouburge is gretig besoek. Vondel se Gijsbrecht van Aemstel was ’n geliefde toneelstuk. Antonie van Leeuwenhoek, uitvinder van die mikroskoop en vader van die mikrobiologie, het honderde verslae in Nederlands aan die Royal Society in Engeland gestuur, wat dit in Engels vertaal het.
Die klein landjie het selfs ’n groot koloniale ryk begin stig – behalwe in die Ooste ook langs die kuste van Noord- en Suid-Amerika en aan die weskus van Afrika. Nederlands is versprei na drie vastelande: dis gebruik in Noord-Amerika, Suid-Amerika (in Suriname), Indonesië en Suid-Afrika. Die tyd was gunstig: in Engeland was daar kort tevore revolusie, Duitsland was totaal verwoes en geplunder deur ’n dertigjarige oorlog, Frankryk was die noordelike Nederlande tydelik goedgesind. ’n Goeie kennis van die heersende windstelsels het die heen- en retoervaart van en na die Ooste moontlik gemaak.
Jan van Riebeeck, die hardwerkende man wat aan die hoof was van die 150 mense wat in April 1652 in die Kaap aangekom het, is op 21 April 1619 in Culemborg gebore. Hy het ’n lewe gehad vol avonture soos ’n skipbreuk by Sierra Leone en besoeke aan plekke in Japan, China, Formosa, Groenland, die Wes-Indiese eilande, Sint Helena en die Kaap. Hy was getroud met Maria de la Queillerie, dogter van ’n Hugenote-predikant.
Van baie vroeg af was daar kontak tussen die Hollanders en die Khoi-Khoin of “Hottentotte”, een van die inheemse groepe aan die Kaap. (Die ander was die San of “Boesmans”.) Veral twee Khoi-Khoin sou bekend raak: Krotoa of Eva, en haar broer of oom, die tolk Autshumao, Hadah of Herry, kaptein van die “Strandlopers”. Van Riebeeck se vrou het Eva (±1642–1674) in die huis geneem en ’n Westerse en Christelike opvoeding gegee. Sy kon vlot Hollands praat en het soms getolk tussen die VOC en Khoi-Khoin. In 1664 is sy getroud met die ontdekkingsreisiger en chirurg Pieter van Meerhoff. Nadat hy in 1667 op een van sy ekspedisies vermoor is, het Eva so ’n losbandige lewe gelei dat ’n vryburger toestemming gekry het om twee van haar kinders na Mauritius saam te neem. Daar het een van hul kinders, Pieternella, getrou met ’n Hollander, Daniel Zaayman. Hulle is in 1709 na die Kaap. Eva en Pieternella is hooffigure in drie romans: Hy het my Eva genoem van Irma Vermeulen, Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee, en Eilande van DS (Dan) Sleigh, wat deur letterkundiges as ’n meesterwerk bekroon word.