30 OKTOBER
GEBEURE
1854 – Goud is ontdek in die Soutpansberge
1866 – Brandfort gestig
Die dorp is aangelê op die plaas Keerom wat aan Jacobus van Zijl behoort het. Daar bestaan twee weergawes met betrekking tot die ontstaan van die naam van die dorp. Die eerste is dat Jacobus van Zijl ’n fort gebou het op ’n koppie, bekend as Keeromkoppie. Hierdie fort was volgens een weergawe tydens ’n Basotho-inval aan die brand gesteek. ’n Ander weergawe, komende uit dieselfde bron, (P.J. Nienaber, Suid- Afrikaanse Pleknaamwoordeboek) noem ook dat die fort deur “Boesmans” aan die brand gesteek is. Die ander weergawe is dat dit vernoem was na president Jan Brand van die Vrystaat se seun.
1869 – Christiana ontstaan
Die dorp Christiana ontstaan op hierdie dag op die plaas Zoutpansdrif. Die dorp is vernoem na president MW Pretorius se dogter Christiana Pretorius.
1899 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag by Nicholsonsnek, Ladysmith
Na die neerlae wat die Boere in die Anglo-Boereoorlog by Talana en Elandshoogte gely het, was hulle vasbeslote om die terugvallende Engelse by Ladysmith te verslaan. Die slag by Nicholsonsnek vind op hierdie dag plaas toe die Britte ’n aanval op die Boerelinie doen. Op pad na Nicholsonsnek bestyg lt.kol. Carleton se afdeling Cayingubokop, waar hy met die Boeremagte slaags raak. Ten spyte van die chaos wat dit veroorsaak, slaag Carleton daarin om sy soldate in ’n boogverdediging op die kop op te stel. Na die noorde waar die kop in Nicholsonsnek uitloop, plaas hy nieteenstaande waarskuwings, slegs ’n klein wageenheid. Onder aanvoering van kommandante De Wet, Steenkamp en Van Dam, bestyg die Boere die kop met die spits van hul aanval uit die noorde. Teen half twee die middag gee Carleton die stryd gewonne, met die verlies van sowat 1 200 aan gesneuweldes, gewondes en krygsgevangenes.
1899 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag by Modderspruit
In die Anglo-Boereoorlog het die Boere probeer om die Engelse garnisoen by Ladysmith te isoleer. Die Engelse aanvoerder, genl. White, was bewus van die Boere wat rondom die dorp stelling ingeneem het, en in die nag van 29 Oktober het hy probeer om die Boere te omsingel ten einde ’n verrassingsaanval die volgende oggend uit te voer. Dit het uitgeloop op die Slag by Modderspruit, waarin die Boere onder genl. Joubert die Engelse ’n nederlaag toegedien het, hoofsaaklik as gevolg van swak kommunikasie van die kant van die Engelse. Daarby was daar ’n gaping in genl. White se aanval wat die Boere goed gebruik het terwyl die swsaargeskut waarmee hulle bestook is, ook vir die Engelse ’n verrassing was.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Die slag van Bakenlaagte
1914 – Afrikanerrebellie
Skote val tussen majoor Pienaar se rebelle en regeringsoldate by Soutpansdrif.
Generaal Muller en sy volgelinge kom op Bronkhorstspruit aan waar ds. HCM Fourie van die Hervormde Kerk en ’n klompie manne by hulle aansluit.
Die regering stuur ’n opdrag aan die magistrate van ’n aantal Wes-Transvaalse dorpe om die opstandige burgers in hul distrikte te versoek om huiswaarts te keer, hul wapens neer te lê en hulle stil te gedra, met die belofte daarby dat hulle dan nie vervolg sal word nie. Hierdie opdrag word die volgende dag aan die magistrate van ’n aantal ander dorpe in Transvaal ook gestuur.
JBM Hertzog en Colin Steyn besoek vir Christiaan de Wet naby Reitz en oorreed hom om ter wille van ’n skikking met president Steyn op Onze Rust te gaan praat. De Wet skryf terselfdertyd briewe aan Christiaan Beyers en Jan Kemp waarin hy sy voorneme bekend maak en versoek Colin Steyn om te verseker dat die briewe by die twee generaals uitkom.
GEBOORTES
1880 – Paulus Johannes (Paul) Roos, onderwysman, politikus, Springbok-rugbykaptein en politikus († 22 September 1948)
Min mense was beter bekend as hy, en min mense het op soveel terreine van die lewe hulle bekendheid en roem verwerf. As sportman, onderwysman, kerkman en volksman het Paulus Johannes (Paul) Roos die agting en liefde van die hele nasie gewen. Hy is op die plaas Rus en Vrede, in Heilderberg, distrik Stellenbosch, as oudste seun en een van die agt kinders van mnr. Tielman Roos gebore. Hy is op 22 September 1948 oorlede, net vier maande nadat hy as lid van die Volksraad vir die kiesafdeling Stellenbosch verkies is. As sportman het hy deur sy Christelike inbors ’n kragtige invloed op sy spanmaats en op die lede van die skoolspanne uitgeoefen, en sy teenwoordigheid op die voetbalveld het steeds ’n heilsame atmosfeer daar geskep. Hy was een van die grotes wat ons land opgelewer het. Hy was verantwoordelik vir die naam “Springbokke” vir die uitblinkers op sportgebied. Byna ’n halwe eeu lank was sy naam op ’n heel besondere wyse verbonde aan ons nasionale spel. Paul Roos het kaptein geword van die 1906-Springbokspan en het meegehelp om Suid-Afrika in die rugbywêreld ’n krag te maak waarmee rekening gehou moet word. Paul Roos het hom vir die onderwysprofessie bekwaam; hy het hom met onverdeelde liefde bykans 40 jaar daaraan gewy. Hy het op 27-jarige ouderdom hoof van die Jongenskool op Worcester geword, en op 29-jarige leeftyd, in 1910 hoof van die Paul Roos-Gimnasium op Stellenbosch. Hy was een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Hy was die Kaapse Onderwysdepartement se verteenwoordiger in die Matrikulasieraad, van welke raad hy ook voorsitter was, en toe hy uit die diens van die Onderwysdepartement moes tree, omdat hy die ouderdomsgrens bereik het, is hy as aflosinspekteur aangestel. Hy het, ondanks die hoogtes wat hy bereik het en die hoë louere wat hy ingeoes het, dwarsdeur sy lewe ’n nederige verhouding tot sy Opperwese gehad. Hy het sy kerk liefgehad en gedien as kerkraadslid waar sy innige godsvrug en kinderlike geloof opgeval het. Sy loopbaan in diens van sy volk het gekulmineer in sy verkiesing tot lid van die Volksraad vir Stellenbosch in Mei 1948. Hierdie verkiesing is voorafgegaan deur ’n ampstermyn van vyf jaar as stadsraadslid van Stellenbosch. Hoewel hy net vier maande lank lid van die Volksraad was, het hy in die kort rukkie die agting van almal in die Raad verwerf.
STERFTES
1937 – Jan Hendrik Hofmeyr (JHH) de Waal, redakteur, taalstryder en politikus (* 30 Desember 1871)
Jan Hendrik Hofmeyr (Jannie) de Waal, is op hierdie dag op Bakkerskloof, Somerset-Wes, gebore. Nadat hy sy opleiding in Kaapstad voltooi en ’n tyd lank in die onderwys gestaan het, vertrek De Waal in 1894 na Londen om hom daar as advokaat te bekwaam. Terug in Suid-Afrika sedert 1897, sou hy die eerste advokaat word wat ’n saak in die hooggeregshof in Afrikaans bepleit. In April 1903 aanvaar hy die redakteurskap van die maandblad De Goede Hoop. Aangesien hy ’n groot voorstander van Afrikaans as skryftaal was, maak hy wel deeglik gebruik van sy posisie om self verhale te skryf, onder meer Johannes van Wyk, wat eers as vervolgverhaal in sy tydskrif verskyn onder die skuilnaam “Jannie”. In 1906 verskyn dit in boekvorm as eerste Afrikaanse historiese roman. So verskyn ook ’n aantal toneelstukke waarvan Anjelina die eerste is. Adv. De Waal was ’n stigterslid van die Afrikaanse Taalvereniging, wat in 1906 in Kaapstad gestig is. Hy word in 1907 lid van die ATV se Spellingskomitee wat die Afrikaanse spelreëls moes vasstel. Nieteenstaande teenstand het De Goede Hoop onder De Waal se leiding in krag toegeneem en het hy die Afrikaanse taalsaak trou gedien tot 1914 toe hy as redakteur afgetree het. Van 1915 tot 1933 is hy die Nasionale Party se Volksraadlid vir Piketberg. Nadat hy sedert 1924 Adjunkspeaker was, word hy in 1929 tot Speaker van die Volksraad verkies. As erkenning vir sy volksdiens ontvang hy in 1936 ’n eredoktorsgraad in die lettere van die Universiteit van Pretoria. Adv. De Waal is op 30 Oktober 1937 in Kaapstad oorlede. Sy geskrifte in Afrikaans, soos ook Oupa en sy kleindogters en Die tweede Grieta, het ons taal op ’n belangrike tydstip help vestig en verryk.
1937 – Alwyn Petrus Burger, predikant (*10 Mei 1853)
Alwyn Petrus Burger is op Montagu gebore. Saam met ds. AP Kriel, van Langlaagte, kan ds. Burger as die grondlegger van die inrigtingsorg van die barmhartigheidsdiens van die Transvaalse NG Kerk gereken word. Op Middelburg rig hy in 1902 ’n kinderhuis vir oorlogswese op, en as voorsitter van die Commissie voor
Armblanken (1906), verrig hy belangrike dienste om verarmde landgenote te rehabiliteer. Hy sterf op 30 Oktober 1937 op Middelburg, Tvl.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.